Deur Maryke Roberts. Foto’s: Clifford Roberts
Die bekende glanspersoonlikheid, Tracey Lange, was die baie gewilde seremoniemeester.
Ses oesjare uit ‘n wye verskeidenheid streke het presteer. Sestien wenners is in die Shiraz SA-uitdaging se drie kategorieë aangewys. Zandvliet-wynlandgoed buite Ashton het uitstekend presteer deur twee plekke in die Top 12 te behaal.
‘n Paneel van vooraanstaande wynkenners, onder leiding van De Grendel se keldermeester, Charles Hopkins, het die inskrywings by Nederburg beoordeel. Saam met hom op die paneel was die Kaapse Wynmeester Bennie Howard, ondervoorsitter van die SA Nasionale Wynskouvereniging, Heidi Kritzinger van Kanonkop Wynlandgoed, Nongcebo Langa, wynmaker van Delheim Wines, RJ Botha, keldermeester van Kleine Zalze, en Karabelo Masoleng van De Grendel as protégée.
Die Top 12 Shiraz-wenners van 2024 is:
- Bon Courage The Pepper Tree Shiraz 2022
- De Morgenzon Reserve Syrah 2019
- Kleine Zalze Family Reserve Syrah 2020
- Leeuwenkuil Shiraz 2023
- Lomond Single Vineyard Conebush Shiraz 2021
- Nederburg The Winemasters Shiraz 2022
- Survivor Wines Syrah 2022
- Saronsberg Provenance Shiraz 2022
- Spier Seaward Shiraz 2022
- Stellenbosch Reserve Kruithuis Syrah 2022
- Zandvliet Kalkveld Shiraz 2020 en Zandvliet Hill of Enon Shiraz 2021.
Die 2024 Shiraz-versnitwenners is:
- Benguela Cove Lighthouse Collection Moody Lagoon 2021
- Eagle’s Cliff Wines Arendskloof Shiraz Tannat 2020
- KWV Roodeberg Dr. Charles Niehaus 2020.
Die 2024 Shiraz Rosé-wenner is:
- Eerste Hoop Shiraz Rosé 2024.
Shiraz SA het Jordan Wynlandgoed aangewys as die derde wenner van die jaarlikse Bellingham Bernard Podlashuk Shiraz-trofee, wat ’n kontantprys van R30 000, geborg deur Bellingham, insluit.
Hierdie manjifieke trofee is vernoem na die “Vader van Suid-Afrikaanse Shiraz”, Bernard Podlashuk. Hy en sy vrou Fredagh het in 1943 die plaas Bellingham in Franschhoek gekoop en was baanbrekers wat Suid-Afrika se eerste enkelkultivar-Shiraz in 1956 gebotteleer het.
Saronsberg was in 2022 die eerste ontvanger van die toekenning vir die beste algehele prestasie oor die eerste tien jaar van die Shiraz SA Challenge. Creation Wines is in 2023 as die tweede wenner bekroon ná die toekomstige kriteria in samewerking met Andrew Harris van Bellingham vasgestel is as “volhoubaarheid, uitnemendheid, innovering, kreatiwiteit en sosiale verantwoordelikheid”.
Charles Hopkins het aan gaste vertel die paneel beïndruk was met die verskeidenheid en die gehalte van die inskrywings. “Die wenners is almal puik wyne wat met vertroue die vlag kan dra van Shiraz in Suid-Afrika. Terwyl die meeste van die 100% Shiraz-inskrywings uit die 2022- en 2021-oesjare was, het ons ook uitstekende wyne uit ouer oesjare geproe. Die verskeidenheid van ons Shiraz-style is indrukwekkend, van groot, komplekse wyne, tot moderne, meer delikate style met ‘n laer alkoholinhoud, gemaak van heel trosse van druiwe wat vroeër geoes word en wat ‘n unieke peperagtige karakter aan die wyne gee.”
Wine MS het die beoordelaars bygestaan en Exceed Group het die proses en die uitslae geoudit. Crystal Direct het glase geborg en Lebone Paarl Labels het die bottelseëls verskaf. ‘n Hoeveelheid van die wyne wat nie gebruik is nie, is aan die Pebbles Projek geskenk. Die hoofborg was Vinventions, wat reeds etlike jare by Shiraz SA betrokke is.
Shiraz SA nooi alle liefhebbers van die kultivar om nasionale Shiraz-dag op Woensdag 21 Augustus te vier. “Bespreek gerus vir unieke proe-ervarings met Shiraz as deel van ons Seven Days of Celebrating Shiraz,” sê Edmund Terblanche, Voorsitter van Shiraz SA.
Besoek www.ShirazSA.co.za vir al die uitslae en meer inligting oor die viering van nasionale Shiraz-dag met die “Seven Days of Celebrating Shiraz” projek.