La La Land het die 74ste Golden Globes-toekennings behoorlik oorgeneem. Die fliek het met al sewe toekennings weggestap waarvoor dit genomineer was:
• Beste draaiboek
• Beste oorspronklike liedjie
• Beste oorspronklike klankbaan
• Beste regisseur
• Beste akteur in ’n musiekblyspel/komedie
• Beste aktrise in ’n musiekblyspel/komedie
• Beste rolprent vir musiekblyspel/komedie
Lank, skraal, groen oë wat halfmas hang en regdeur jou kyk, ’n skewe glimlag … Daarby het Ryan Gosling ’n stoute sin vir humor en hy maak hier en daar effense sarkastiese aanmerkings wanneer hy vrae beantwoord. Sedert hy pa geword het vir Esmeralda (2) en Amanda (9 maande) is sy tong minder skerp, en is hy meer humoristies – voorheen was ’n mens nooit seker wat hy eintlik bedoel nie. Maar een ding is seker: hy het talent. Geen genre is vir hom te moeilik nie. Hy spring sonder ooglopende inspanning van romantiese rolle tot aksie, drama en komedie. In sy jongste fliek, La La Land, kry hy weer ’n kans om sy sang- en danstalent ten toon te stel wat hy as kind in The Micky Mouse Club saam met Justin Timberlake en Britney Spears ontwikkel het.
La La Land is ’n bekoorlike musiekfliek wat jou met nostalgie laat dink aan Gene Kelly se musiekblyspele soos Singin’ in the Rain. Die toneelspel van Ryan en Emma Stone, sy medespeler, is uitstekend.
Ons het met hom gesels die oggend ná die suksesvolle première van die rolprent by Toronto se internasionale rolprentfees.
Hoe het dit gevoel om staande toegejuig te word by die première van La La Land by die Toronto-rolprentfees?
Dit was ’n goeie aand. Ek het Kanada verlaat en Los Angeles toe getrek om flieks te maak. Dit het goed gevoel om huis toe te kom met iets wat amper soos ’n geskenk voel. Dit was lekker om dit saam met my mense te geniet.
Ons het geweet jy kan sing en dans maar dié optrede was in ’n eie klas. Was dit ’n groot uitdaging?
Dit was eintlik pret. Dit was harde werk, maar lekker om in Los Angeles te skiet en saam met vriende aan iets te werk wat so ambisieus was. Die span het goed saamgewerk. Dit was van begin tot einde ’n wonderlike ervaring.
Voel jy of jy ’n prys moes betaal om jou drome te bewaarheid? Het die fliek herinneringe oor jou begintye in Hollywood opgeroep?
Ja, nogal. Ons het op stel heelwat stories vertel oor eerste oudisies wat skeefgeloop het. In een toneel doen Emma ’n oudisie vir ’n baie emosionele oomblik terwyl die regisseur ongeërg ’n telefoonoproep beantwoord. Dit het regtig met my gebeur en die regisseur, Damien Chazelle, het die voorval in die fliek ingewerk. Die teleurstellings wat jy as akteur ervaar, is persoonlik. Dis nie asof dit ander mense beïnvloed nie, maar jy ervaar dit intens.
Maar voel jy of jy ’n prys moes betaal?
Nee, ek dink ek was tot dusver baie gelukkig. Die karakter verskil baie van my omdat hy oorywerig is. Hy is ’n puris. Hy voel dis sy verantwoordelikheid om jazz te red en plaas ’n klomp druk op homself, iets wat ek nie doen nie.
Voor La La Land en The Nice Guys het ons jou vir ’n ruk nie gesien nie?
Ek wou nie hê mense moes siek word vir my gesig nie (lag). Ons tweede baba is onlangs gebore en ek wou eers tyd saam met my gesin deurbring. Ons het nou twee dogtertjies en dinge is chaoties, maar ook wonderlik.
Wat van die rol in La La Land het jou aangetrek?
Dis altyd eers die draaiboek wat my aantrek, dan of die storie vir my interessant is en ook of ek my emosioneel met die karakter kan vereenselwig. Dié fliek voldoen aan al drie vereistes. Hoewel dit ’n musiekfliek is, gaan dit eintlik oor twee mense en hul verhouding. Omdat die storie so sterk is, hoef jy nie van musiekblyspele te hou om dit te geniet nie.
Die musiek is regtig spesiaal …
Toe Damien vir my sê dat hy aan ’n musiekprent werk, het ek gesê ek sou graag die musiek wou hoor. Hy het die temalied vir my gestuur en ek het gedink dis pragtig. Ek sou nie omgee om drie maande te oefen om die lied te leer speel nie. Ek het dit al meer kere gespeel as wat ek kan tel, en ek is steeds nie moeg daarvoor nie. Selfs by die première het die temalied my net so geroer as toe ek dit die eerste keer gehoor het. Die gehalte van die musiek is ’n belangrike deel van die fliek, en dit sou baie vervelig wees om so lank aan iets te oefen as die musiek nie so sterk was nie.
Het jy self in al die klaviertonele gespeel?
Ja.
Hoe voel dit om soveel aandag te trek oral waar jy gaan?
Dis heerlik om flieks te kan maak, hoewel al die aandag nie altyd lekker is nie. Maar die kollig help ’n mens om produktief te bly.
Sing jy in jou stort of in die kar? Begin jy dans as jy ’n sonsondergang sien (lag)?
Nee, ek het nog nooit voor ’n sonsondergang gedans nie (lag), maar dit beteken nie ek sal dit nooit doen nie. Ek was nog altyd mal oor musiek. My pa was ’n musikant, my oom ’n Elvis-nabootser en my suster speel in musiekblyspele, so deur osmose het ek ’n liefde daarvoor ontwikkel. Dit was maar altyd deel van my lewe.
Wat is van jou vroegste herinneringe aan musiek?
Ek onthou ’n dag toe ek as agtjarige by die huis gekom het en my oom sy wit Elvis-katpak sit en bedazzle het. Ek onthou hoe hy “Suspicious Minds” by ’n optrede gesing het terwyl trane oor sy wange rol. Wanneer hy op klein dorpies opgetree het, het dit vir die gehoor gevoel of hulle Elvis in lewende lywe sien. Hy was so toegewyd. Musiek kan ’n groot verskil aan ’n rolprent maak, maar ’n mens moet dit versigtig gebruik sodat dit nie die toneelspel oorskadu nie. Ná byna elke toneel het die produksiespan spontaan begin hande klap, want die musiek neem jou op ’n verbeeldingsreis. Dit was interessant om te sien hoe goeie musiek en ’n sterk draaiboek saam gebruik kan word om ’n storie te vertel.
Met sekere tonele in La La Land kon ek nie help om aan Gene Kelly in Singin’ in the Rain te dink nie.
Ons het Gene se weduwee ontmoet voor ons begin skiet het. Sy het vir ons ’n paar van sy persoonlike besittings gewys, en hy het elke draaiboek waaraan hy gewerk het, in leer laat bind. Ek het deur sy draaiboek van Singin’ in the Rain geblaai en gesien dat hy oral notas gemaak het. Dit was so inspirerend om te dink dat so ’n ikoniese fliek ook met ’n paar los idees begin het, en in iets wonderliks ontwikkel het.
Herinner die woonstel waarin jou karakter gebly het jou aan jou begintye in Los Angeles?
Nee, ek het nie ’n woonstel gehad toe ek Los Angeles toe getrek het nie. Ek het op regisseur Ron Oliver se rusbank geslaap totdat ek op die been gekom het.
Dit klink of jy lief geword het vir Los Angeles? Voel dit al soos “huis”?
Ek bly nou al langer in Los Angeles as wat ek op enige ander plek gebly het en ja, dit voel soos my tuiste. Ek sal altyd Kanadees wees, maar Los Angeles kan skouspelagtig wees, en hoe langer ek hier bly hoe meer sien ek van die plek. Ek is gelukkig om deur my werk nuwe dele van Los Angeles te verken.
Wat maak Los Angeles so spesiaal?
Die meeste mense bly in Los Angeles om een of ander droom na te jaag. Hulle weet nie of die drome ooit gaan realiseer nie, maar dit gee ’n baie spesiale energie en optimisme aan die plek.
Hoe voel dit om saam met drie vroue in ’n huis te bly?
Ek leer nog hoe om dit te hanteer, maar dis eintlik wonderlik. Hulle is my engele.