Deur Ilse Salzwedel. Hooffoto: pixabay
Adelle Jung
Adelle Jung (39) is ’n grimeerkunstenaar van Johannesburg wat ook dikwels ons voorbladsterre se grimering doen. Sy het Oktober 2016 vir die eerste keer ma geword van die pragtige klein Léa. Sy bieg dat sy nooit aan moederskap gedink het nie totdat sy vier jaar gelede die sakeman Wilfrid Moulon (55) ontmoet het. “Ons het ’n baie spesiale konneksie, en het besef ons wil graag ’n baba saam hê. Hy het ook nie kinders nie. Ons het besluit om dit aan die noodlot oor te laat – as dit moet gebeur, sou dit. ’n Mens kan seker sê Léa was ’n onbeplande beplande baba,” vertel sy.
Al het sy haar nooit as ’n ma gesien nie, voel sy haar dogtertjie is op presies die regte tyd in haar lewe gebore. “My persoonlike omstandighede was reg, ek is emosioneel volwasse, in ’n goeie verhouding en ek het finansiële stabiliteit. Dit was alles vir my belangrike faktore. Ons is baie geseënd en gelukkig om in hierdie posisie te wees, en Wilfrid is ’n wonderlike pa.”
Vir haar was dit nie noodwendig ’n maklike besluit om ’n baba te hê nie. “Ek kom uit ’n gebroke huis, en was bang dat die geskiedenis hom sal herhaal. Niemand beplan om ’n enkelouer te wees nie. Vroeër het ek my nooit werklik toegelaat om te dink oor die letsels wat my kinderjare gelaat het nie, maar op 39 was ek gereed om eienaarskap te neem van my tekortkominge. Omdat ons ouer is, voel ek en Wilfrid ook nie ons hoef toe te gee aan enige druk nie. Ons doen wat belangrik en gemaklik vir ons gesin is – dis ons prioriteit.”
Hoewel sy in ekstase was oor die vooruitsig om ma te word, erken Adelle dat sy nie haar swangerskap geniet het nie. “Gelukkig vir eerlike mense wat gesê het alles is nie noodwendig altyd lekker nie. Ek was naar, het omtrent heeltyd sooibrand gehad en was baie moeg.” Léa was ’n groot baba, en dit het baie stremming op haar rug gesit. Die moegheid het haar ook onverhoeds betrap. “Ek het na die einde toe nie meer kans gesien vir lang dae op my voete nie. Maar dit het nie noodwendig iets met my ouderdom te doen nie, en ek het nie ’n vorige swangerskap om dit mee te vergelyk nie.”
Adelle meen dis belangrik om te onthou dat elke swangerskap uniek is. “Almal beleef dinge anders. Ek dink jy moet oopkop bly daaroor. Maar as ek eerlik moet wees, sien ek nie noodwendig nou kans vir nog ’n swangerskap nie.”
Sy was ’n bietjie bekommerd oor dinge wat moontlik met die swangerskap kon fout gaan, maar het geen genetiese voorgeboortelike toetse, soos ’n amniosentese laat doen nie. “Ek het in my hart gevoel alles gaan reg wees.”
Ouerskap het haar geleer daar is nie iets soos ’n perfekte ma of perfekte ouers nie. “En as dinge te veel raak, onthou ek net die gesegde ‘this too shall pass’. Ek probeer elke oomblik saam met Léa geniet. ’n Mens is rustiger en wyser as jy ouer is, en jy het meer selfvertroue.” Sy het waardevolle raad gekry uit die boek What to expect when you’re expecting, maar sê sy lees nie te veel oor moederskap nie. “Ek luister eerder na my instink. Wanneer ek onrustig voel oor iets, sal ek wel kenners se raad vra. Ek het ook baie vriendinne wat al hierdeur is en wat konstruktiewe, praktiese raad kan gee. Om later as jou ander vriende ’n baba te hê, het ook die voordeel dat jy aan die ‘groepsdruk’ ontsnap wat maklik ontstaan wanneer almal in ’n jonger vriendekring min of meer gelyk ouers word.”
Hoe het moederskap haar lewe geraak? “’n Lieflike vrou het vir my gesê dat as ’n mens teruggaan na hoe ons geskape is, moet jy die hele lewensirkel voltooi om vervuld te wees. Vir ’n vrou is ’n deel daarvan om ’n kind te hê. Vandag het ek begrip vir daardie woorde, en ek kyk ook met nuwe respek na ma’s en die wêreld om my. Ek voel moederskap is een van die grootste achievements van my lewe, dit bemagtig my en daag my elke dag uit om te groei en ’n beter mens en ma vir my dogter te word.”
Vir Adelle is een van die lekkerste dinge van ma-wees om die wêreld deur haar skattige dogtertjie se oë te herontdek. “Net om haar verwondering dop te hou as sy iets sien wat sy nog nie voorheen gesien het nie, herinner my weer aan die mooi in die lewe. Dit leer jou weer droom en kreatief dink oor die lewe.”
Lees ook: Doepa vir Swangerskap
Alishia van Deventer
Alishia van Deventer (45) van Meyerton het glad nie beplan om weer swanger te raak nie, en was reeds twee maande swanger toe sy dit agterkom. Dis te verstane dat sy en haar man, Steve, aanvanklik taamlik geskok was.
Maar vandag straal die Van Deventers oor hul laatlam. “Ek glo die Here het besluit ek en Steve moet saam ’n kind hê. Ons het albei kinders uit ons eerste huwelike. My dogter, Danelle, is een-en-twintig en Steve se seun, Janko, is sestien.”
Alishia vertel dat klein Mia, nou ses maande oud, hul beste verrassing tot nog toe was. “Die hele swangerskap met Mia was vir my ’n ongelooflike geestelike reis. Ek ervaar God se goedheid en guns baie meer intens as wat ek het toe ek Danelle op vier-en-twintig gehad het. Ek bly dink aan Sy groot genade. Mia is eenhonderd persent volmaak.”
Ouerskap verskil hemelsbreed van dit wat sy in haar twintigerjare beleef het. “Ek was destyds nie volwasse genoeg om al die uitdagings van ma-wees so goed te hanteer soos nou nie, en wens dikwels dat ek toe die selfvertroue en ervaring gehad het wat ek nou het. Finansieel was dit ook uitdagend, want ek was jonk en – anders as nou – glad nie gevestig in my loopbaan nie. Dit was hartverskeurend om haar destyds op drie maande by my ma en pa te los om weer te gaan werk, maar dankie tog hulle was daar om te help! Ek besef nou met Mia eers hoe baie ek van haar grootword gemis het.”
Alishia, wat die publisiteit vir verskeie Afrikaanse sangers behartig, en Steve werk van die huis af. “Dit beteken ons mis hierdie keer niks nie. Ons bring letterlik elke sekonde van ons dag saam met Mia deur.”
Die insig wat ouderdom meebring, maak ouerskap baie makliker. “Aanvanklik was ek bang dat ek ná twee dekades sou vergeet het hoe om ’n baba te hanteer, maar nou is ons meer lewenswys en minder vol nonsens. Sy slaap by ons in die bed, ons tel haar baie op en hou haar baie vas. Jy kan maar sê ons is ’n mamma en pappa met die harte van ’n ouma en oupa. Ouerskap in my twintigs was baie uitdagend, al klink dit na die ideale ouderdom om ’n kind te hê. Ek het myself nog nie eens behoorlik gevind nie, en hier moes ek ’n kind grootmaak en rigting gee. Nou is ek emosioneel volwasse en weet presies wie ek is. Omdat ons albei so rustig is, is sy ook rustig.”
Sy erken daar is wel ’n paar uitdagings. “Omdat ons van die huis af werk, was dit aanvanklik moeilik om ’n balans te kry, want ons wil heeltyd met haar speel. Maar ons moet werk ook. Nou het ons al roetines uitgewerk: soms kyk Steve na haar terwyl ek werk, en andersom.” Nie dat Mia haar noodwendig aan hul roetine en planne steur nie, skerts sy. “Sy is nou die baas in die huis.”
Die swangerskap en geboorte was ook makliker as wat sy haar kon voorstel, vertel Alishia. “Ek is verbaas dat my lyf dit nog so goed hanteer het. Al waarmee ek nou regtig baie sukkel, is my gewig!”
Haar laatlamdogtertjie laat haar ook meer nadink oor dinge soos verganklikheid en hoe kosbaar tyd is. “Seker maar omdat ’n mens elke uur of wat op jou horlosie kyk om te sien of dit tyd is vir ’n voeding, of hoe lank sy slaap. Ek besef meer as tevore ons het nie vir altyd tyd nie. Elke sekonde wat verbygaan, is ’n sekonde waarin ons almal ouer word. ’n Mens moet elke oomblik geniet en nie jou kinders groot wens nie. Bid eerder dat die Here jou lewensjare so verleng dat jy baie tyd saam met hulle het. Ek bid daagliks ook God se guns, beskerming en seën oor haar af. ’n Mens is maar heeltyd bewus van haar en bekommerd dat iets met haar sal gebeur.”
Het sy praktiese raad vir ander ma’s? “Wees kalm en rustig – dit spoel oor na die baba. Onthou hulle breek nie so maklik nie, al voel dit so. Moenie oor alles paniekerig raak nie – go with the flow, soos die Engelsman sê. Ignoreer mense se aanhoudende rate en stories en doen wat vir jou natuurlik kom. Laat haar by jou in die bed slaap as dit vir julle werk. Moenie so kwaai wees nie – ek was baie kwaai toe Danelle klein was, en wens nou ek was nie. En moenie jou ander kinders vergeet terwyl jy op die laatlam fokus nie – ek is nou baie meer bewus van my verhouding met Danelle as voor Mia se koms.”
Lees ook: Swanger bo 40
Moet ek ouerskap uitstel of nie?
Al hoe meer vroue word eers in hul laat dertiger- of vroeë veertigerjare ma. Die redes is uiteenlopend, soos dat hulle eers op hul loopbane wil fokus. Deesdae trou mense ook baie later. Soos met alles in die lewe is daar voordele én nadele daaraan verbonde. Hier is ’n paar.
Voordele: Jy kon jare lank dophou hoe familie en vriende hul kinders grootmaak en uit hul foute leer. Saam met die ouderdom kom ook groter emosionele en finansiële bestendigheid, deursettingsvermoë en rustigheid. Ouer mense integreer ook dikwels makliker ’n kind by hul lewe, wat beteken hul frustrasievlakke en irritasie met kleintjies is minder as by jonger ouers wat dalk voel ’n kind perk hulle in. Soos een pa dit in ’n artikel op parenthood.com stel: “Ons het gekies om ons dogter in ons lewe in te bring eerder as om haar die fokus daarvan te maak.”
Nadele: Medici waarsku dat jou kanse op infertiliteitsprobleme bo 35 veel hoër is. Vroue bo 45 loop ’n groter gevaar as hul jonger eweknieë om in hul swangerskap diabetes of hoë bloeddruk (pre-eklampsie) te kry, en die risiko vir miskrame is ook groter. Ouer ma’s se babas het ’n groter kans om vroeggebore te word én ’n besliste verhoogde kans op genetiese abnormaliteite wat te make het met chromosoomafwykings, soos Down-sindroom. Die beste raad is om jou spesifieke risikoprofiel met ’n mediese kenner soos ’n ginekoloog of voorgeboorte-spesialis te bespreek.
Nog iets om in gedagte te hou voordat jy ouerskap uitstel, is die generasiegaping tussen jou en jou kind. Sal jy op sestig nog die emosionele en fisieke energie hê om ’n tiener te hanteer? Neem ook in ag hoe dit jou aftreeplanne sal beïnvloed as jy eers in jou veertigerjare kinders kry. Sien jy kans om steeds te werk wanneer jou vriende lankal rustig afgetree het?