Pluk jy weer eens vanaand ’n sakkie bevrore groente uit die vrieskas, en nie uit jou organiese groentetuin nie? Wel, moenie skuldig voel nie.
Dit is ’n feit dat die vriesproses die anti-oksidante daarin ten volle behou. Dit bevat dus net soveel van hierdie kankerweerders as vars groente, die hoofrede waarom jy groente vir jou huismense voorsit.
Wat van die ander vitamiene? Jenny Meyer, dieetkundige van Johannesburg, sê niks kan die voedingswaarde van pas geplukte groente klop nie. “Maar die werklikheid is dat die ‘vars’ groente wat ons in die supermark kry minstens drie dae oud is … indien nie twee weke nie.”
Groente word tipies op die plaas gepluk en verpak, en op die gouste die volgende dag na die sentrale aankoopsentrum vervoer. Dan word dit vervoer na die plaaslike sentrale verspreidingsentrum, van waar dit na jou naaste supermark geneem word. As jy gelukkig is, koop jy dit nog dieselfde dag, maar dan lê dit in die yskas tot jy dit gebruik. En siedaar, jou vars groente is nog ’n hele paar dae ouer.
Daarteenoor word bevrore groente nog dieselfde dag gevries. Hulle bly vir tot 18 maande letterlik een dag oud.