rrRADIO: Dr. Elna Rudolph en haar passies deur Mariette Snyman. Foto verskaf.
1. Jy is ’n mediese dokter, seksuoloog en selferkende werkolis met ’n gesin. Vertel ons ’n bietjie meer.
Kyk, ek het my man en my kinders van die Here gesmeek. Ek het ’n moeilike pad gestap om te wees waar ek vandag is en waar ek hierdie twee kindertjies in my lewe het, en ’n goeie man wat wonderlik ondersteunend is ten opsigte van my loopbaan en my die geleentheid gee om te doen wat ek doen. Ek het ’n dogtertjie wat nou vyf maande oud is, Nandi Mari, en ’n tweejarige dogtertjie, Nina Neo. Ons het hulle altwee Afrika-name gegee – hulle is kinders van Afrika. Nandi was koning Shaka se ma se naam, en in Sotho beteken Neo a gift, maar in die sin van an act of God. Ná bitter swaar jare van sukkel om kinders te kry, was ek en my man op Mount Everest vir sy veertigste verjaardag. Nie tot bo nie, net in die basiskamp. Dit was regtig ’n pelgrimstog. En ’n maand later het ek swanger geraak, en hier is ons tweede enetjie nou al gebore.
Het jy geweet? Jy kan een van rooi rose se gewilde blokraaiboeke WEN deur na een episode van Tussen Ons te luister.
2. Hoe het jy ’n mediese dokter en seksuoloog geword?
Toe ek ’n mediese student was, het dr. Etienne Kok ons vertel van ’n paartjie wat hy tydens sy opleiding in Chicago behandel het, wat al 27 jaar getroud was en nooit seks kon hê nie. In Chicago het hulle masturbasie gebruik om die vrou onder meer te help om gemaklik te raak met haar liggaam sodat sy en haar man mettertyd hul huwelik kon bevestig. Toe besef ek eendag as ek ’n GP is gaan iemand my kom sien wat sê hulle gaan skei want hulle kan glad nie seks hê nie, en dan gaan ek dink die antwoord is masturbasie, en hoe promoveer ek so ’n behandeling binne ons Christelike kultuur en konteks? En pynlike seks is ’n kwessie waarmee een uit vyf vroue sit. Ek het besef daar moet baie wees waarvoor ons nog nie antwoorde het in Suid-Afrika nie. Dit het iets in my hart geroer.
As student was ek ook betrokke by ’n program wat mense hulle skeppingsdoel help ontdek het. Jy skryf onder meer ’n mission statement en die temas wat daaruit kom, help jou bepaal watter volgende stap jy behoort te neem. Toe ek daarna kyk, het ek besef ek moes ’n meestersgraad in seksuele gesondheid doen. Vroue, gesondheid, verhoudings en MIV het my na aan die hart gelê. Etienne het voorgestel ek doen dit in Sydney, Australië. Ek het gedink ek doen dit sodat ek die Staat oor beleidsrigtings raad kon gee – ek het nooit gedink ek sou ’n seksuoloog word nie.
Maar toe gaan ek in Engeland werk, ’n vervelige werk waar ek net moes bloed trek. Ek het baie tyd gehad om te leer en toe swot ek vir ’n eksamen in Suid-Afrika met die naam Higher Diploma for HIV Medicine and Sexual Health. Ek het vreeslik baie ure ingesit en die eksamen geskryf toe ek terug is in Suid-Afrika. Agterna vind ek uit ek is die eerste dokter ooit wat die ding deurgekom het! En toe besef ek: ek kan nie ’n GP wees met hierdie kwalifikasie wat niemand anders het nie. Ek was ook byna klaar met my meestersgraad in Australië.
Ek het vir Intercare, waar ek toe gewerk het, gevra of ek ’n sentrum vir seksuele gesondheid kon oopmaak. In Engeland sien jy in byna elke voorstad sulke sentrums. Ek is toegelaat om dit te doen, en MySexualHealth het ’n paar jaar later daaruit ontstaan.
3. Is mense verras of ongemaklik as hulle hoor wat jy doen?
Ja, dit is óf ’n ultimate conversation starter óf ’n conversation killer. Die meeste mense is vreeslik geïnteresseerd. Mense wat my ken vandat ek klein was, is bitter verbaas dat ek dit doen omdat ek uit hierdie konserwatiewe, Christelike agtergrond kom – dis nog steeds wie ek is.
My hart hét baie verander oor goeters waaroor tipiese Afrikaner-Christenmense vreeslik veroordelend kan wees; ek het byvoorbeeld nou ’n absolute passie vir transmense. Vantevore sou ek ’n baie meer wit en swart benadering gehad het.
Lees ook: Alles wat jy moet weet oor kontrasepsie
4. Dink jy die ongemak rondom seks as ’n onderwerp van bespreking raak minder?
Baie het die laaste tyd verander. In die kringe waarin ek beweeg, is mense gewoond om voor my daaroor te praat. Eintlik vergeet ‘n mens partykeer dat mense nog ongemaklik is – my man is byvoorbeeld in ‘n koor met liewe mense, en daar is ook kinders in die groep. Ons sal openlik oor iets praat en dan besef o gits nee, ’n mens behoort nie kinders noodwendig aan dié goed bloot te stel nie.
Ek probeer maar net om ’n voorbeeld te stel – dis regtigwaar ’n ongelooflik belangrike deel van mense se lewens. Selfs mense wat aseksueel is, het ’n seksualiteit en het informasie en goeie raad nodig. Om oor seksualiteit te praat, is nie onder-die-beltpraatjies nie. Ek word self ongemaklik as mense onder die beltpraatjies maak. Om eerlik oor seksuele gesondheid te praat, is dieselfde as om oor mense se mondhigiëne te praat.
Lees ook: Alles wat jy moet weet oor seksuele etiket
5. Wat wil jy graag deur jou werk bereik?
In die mission statement waarvan ek gepraat het, moes ek my mission tot twee woorde reduseer: om te inspireer en te mobiliseer. As ek iets nuuts aanpak, dink ek: kan ek hiermee inspireer of mobiliseer? Dis ook maar wat ek doen met pasiënte en met dokters wat in my span wil wees. Ek wil my kollegas graag inspireer en mobiliseer om hulle eie skeppingsdoel te bereik en ’n groot verskil in mense se lewens te maak.
Ek wou altyd graag ’n seksuele gesondheidskliniek in elke voorstad hê, en ek het daardie droom opgegee toe ek kindertjies kry. Nou wil ek net ’n kliniek vyf minute van my werk af hê, want ek wil soggens werk toe ry, ’n paar pasiënte sien en in die middag met my kinders speel. Ek is egter nou weer besig met onderhandelinge en ek dink my oorspronklike droom gaan dalk binnekort meer van ’n realiteit word.
Lees ook: Die oorsake van lae libido in mans
6. Hoe balanseer jy jou werk en jou gesin?
Ek werk net soggens en ek probeer om net vier dae per week en drie weke per maand pasiënte te sien. As jy ’n dokter is en jou tyd verkoop, dink jy dit kos jou ’n paar duisend rand om jou dogtertjie se tee by die skool te gaan bywoon. Maar as jy die besluit geneem het om elke week ’n dag uit te sit om ook by ander belangrike dinge uit te kom, is dit ’n bietjie makliker. Ek het nie ’n mooi nuwe badkamer in my huis nie en ek ry nie ’n splinternuwe kar nie, maar ek probeer om nie so hard te werk nie sodat ek darem my kindertjies ook kan geniet en nie ’n totale tiran is teen die tyd dat my man saans by die huis kom nie.
Lees ook: Lewe jy saam met ’n beheervraat?
7. Wat het ma-wees jou geleer?
Om te kalmeer, sou ek sê. Ek is ’n absolute werkolis, en ek leer elke dag nog om net ’n bietjie stadiger te gaan en daai oogkontak te maak en wegkruipertjie te speel en geselsies aan te knoop en te verf, want my dogtertjie wil verf. Ek is so taakgeoriënteer, en dit maak my gejaagd. Ma-wees het my geleer om die lewe net ’n bietjie stadiger te vat en rêrig hierdie twee lyfies te waardeer.
Klik hier om interessante artikels oor ouerskap en ma-wees te lees
8. Wat kan ’n ma doen om haar seun of dogter op intieme verhoudings voor te berei?
Die beste ding wat ’n ma kan doen is om haar kinders ’n baie, baie goeie seksuele opvoeding te gee.
Een van die grootste risikofaktore vir seksuele disfunksie as volwassene is slegte seksopvoeding. Ma’s dink as hulle met hulle kinders praat, gaan dit hulle lus maak vir seks. Glo my, om met jou ma te praat oor seks maak jou nie lus vir seks nie, dit freak die kind meer uit – maar dit gee vir hulle goeie informasie. Jy moet besef jou kind word volgepomp met informasie oor seks deur die media en goeters wat hulle by maatjies hoor. As jy nie jou weergawe vir hulle gee nie, moet jy tevrede wees met dit wat die wêreld na hulle kant toe gooi, en die kwaliteit daarvan is bedenklik.
Jy moet ’n oop verhouding met jou kind hê en gemaklik met hulle oor seksuele gesondheid kan praat. Begin dit stelselmatig doen vandat hulle klein is. My tweejarige noem haar vulva haar vulva en nie een of ander snaakse naampie nie. Dit voel vir my ook vreemd om vir ’n tweejarige te sê dis ’n vulva, en die meeste grootmense weet nie waarvan sy praat nie, maar dis ’n stap om eerlik en opreg te wees oor seksualiteit.
Lees ook: Alles wat jy moet weet oor erektiele disfunksie
9. Hoe kan ’n ouer die kommunikasiekanale oop hou?
Dit gaan maar net daaroor dat jy nie ooglopend ongemaklik voorkom as jou kind met jou oor iets praat nie. Jy moet nonchalant probeer wees, asof jy besig is om te gesels oor enige ander onderwerp. As kinders agterkom dat hulle jou ongemaklik maak, gaan hulle intuïtief minder met jou praat. Hoe gemakliker jy lyk, hoe beter, en dit verg oefening.
Lees ook: 10 vrae aan Dr. Jireh Serfontein
10. Jy tree dikwels as spreker op. Hoe ervaar jy dit?
Ek is mal daaroor om as spreker op te tree – natuurlik om te probeer inspireer en mobiliseer! Dit gee my energie en ek kry baie pasiënte uit praatjies. As jy eers iemand se gesig gesien en hul stem en hart gehoor het, is dit makliker om jou allerheiligste in die spreekkamer met hulle te kom deel. Ek hou ook baie daarvan om dokters te leer, want elke dokter sit met ’n paar duisend pasiënte en hierdie kennis kan duisende mense wat ék nooit kan bereik nie se lewens beïnvloed.
Lees ook: Depressie en seksuele gesondheid – alles wat jy moet weet
11. Jy dien op verskeie nasionale en internasionale liggame in die veld van seksuele gesondheid. Is dit ’n uitdaging?
Die nasionale en internasionale organisasies waaraan ek behoort is ’n massiewe uitdaging. Ek vra myself daagliks: ‘Hoekom doen jy dit?’ Dit vat ongelooflik baie tyd en dis basies die bestuur van menseverhoudinge. Jy moet suutjies trap en vreeslik professioneel wees, wat nie altyd vir my maklik is nie want ek is baie taakgeoriënteer. Ek wil nie graag almal se gevoelens in ag neem as iets nie gebeur nie maar ek wil sake ook graag in die regte rigting druk. Op hierdie organisasies kry ek baie te doen met staatsbestuur, reëls opstel en so aan.
In 2021 bring ons die kongres van die Wêreldorganisasie vir Seksuele Gesondheid na Suid-Afrika, waaroor ek baie opgewonde is. Hopelik kan ons die res van die wêreld se seksuoloë ’n ware Afrika-ervaring gee en bewus maak van die dinge wat in Afrika belangrik is as dit by seksuele gesondheid kom. In die res van die wêreld is die verskil tussen ’n vaginale en ‘n klitoriese orgasme ’n warm besprekingspunt, maar in Suid-Afrika is daar nog steeds duisende vroue wat van onwettige aborsies doodgaan. Die verskillende wêrelde is nog steeds ver uit mekaar, en dis lekker om dit bymekaar te kan bring.
Ek leer ongelooflik baie by ander – dis ‘n tydsame leerproses, nie iets wat jy in ’n oggendkursus kan leer nie. Dis ’n ongelooflike voorreg om tyd te spandeer met mense wat net soos ek passievol is oor die onderwerp.
Het jy geweet? Ons het ’n reeks gesprekke op die rooi rose-webblad waar ons gesels oor gesonde verhoudings en seksualiteit – en dis GRATIS! Klik hier – jy kan selfs daarna luister met oorfone
12. Waarna moet vroue omsien in terme van hul eie seksuele gesondheid?
Jy moet jou papsmeer laat doen – minstens een keer teen die ouderdom van 25, of jy nou seksueel aktief is of nie – en daarna elke jaar in jou twintigs. In jou dertigs kan jy ’n MPV-toets (menslike papilloomvirus) laat doen. As dit negatief is én jy is in ’n stabiele, monogame verhouding, hoef jy die papsmeer en MPV-toets saam net so elke drie tot vyf jaar te laat doen.
Dis belangrik om te gaan vir mammogramme vanaf die ouderdom van vyftig, moontlik vanaf veertig.
Die kontrasepsie wat ’n vrou gebruik is baie belangrik, want ongewensde swangerskap is ’n hartseer saak. Maar die keuse van jou kontrasepsie beïnvloed jou seksuele gesondheid geweldig. Dit kan baie negatief wees vir jou seksuele funksionering as jy byvoorbeeld op die Pil is en dit vat jou libido weg. Dis belangrik om om te sien na jou eie plesier. Een van die seksuele regte wat ons in New York gaan skryf het, is: You have the right to pleasure. As seks nie vir jou plesier gee nie, het ons baie wat daarmee kan help.
Lees ook: Seks hoef nie seer te wees nie! Dis hoe mens dit beter maak
13. Wat is jou beste raad vir mans?
Hulle moet vanaf die ouderdom van 45, en selfs vroeër as daar hoë risiko is, hul prostaattoets laat doen. Hulle moet elke maand hul testes self ondersoek, veral tot op die ouderdom van 40, want testikelkanker kom meer voor in jong mans. Dan moet hulle hul testosteroonvlak laat toets, want testosteroon neem af soos wat ’n man ouer word, en spanning kan dit ook baie laat afneem. Dit het verreikende gevolge vir ’n man se algemene gesondheid, en natuurlik vir sy seksuele funksionering. Veral vir mans is dit ontsettend belangrik om goed na jou algemene gesondheid te kyk sodat jou seksuele gesondheid goed is. Daardie sigarette wat jy rook en daardie boepens en slegte eetgewoontes en gebrek aan oefening beïnvloed ook jou seksuele gesondheid. Jou hart en jou penis is eintlik baie naby aan mekaar en die tekens kom eerste in jou penis na vore. As jy daar moeilikheid het, moet jy laat kyk – hartsiekte is die siekte wat die meeste mans doodmaak.
Lees ook: Testosteroon-aanvullings vir mans – is dit iets wat hy moet doen?
14. Laastens: wat is jou gunstelingmaniere om te ontspan?
’n Slim manier om te ontspan, is om werk te doen! Dit is ongelukkig die realiteit van ’n werkolis. As jy vir my sê ‘Elna, jy kan nou doen net wat jy wil’, dan sal ek baie graag drie of vyf ure gaan sit en my e-posse doen en aan alles aandag gee waaraan ek aandag wil gee.
Wat ek wel doen om te ontspan: ek speel met my kindertjies, en een ding wat my regtig laat ontspan is om te stap – veral as ek ’n lang stap kan doen en nie net ’n uur om die blok gaan stap nie, maar regtig vir dae aanmekaar kan stap en weer in voeling kom met myself.
Elna is die kliniese hoof van MySexualHealth met takke in Johannesburg, Pretoria en Kaapstad: mysexualhealth.co.za