Wees op die uitkyk na roosvormige silikoonpannetjies by spesialiteitsbakwinkels.
Bestanddele
- 225 g (435 ml) bruismeel
- 5 ml (1 t) bakpoeier
- ’n knypie sout
- 100 g gemaalde amandels
- 125 ml (½ k) strooisuiker
- 2 eiers
- 45 ml (3 e) heuning
- 250 ml (1 k) ongegeurde jogurt
- 150 ml sonneblomolie
- gerasperde skil van 1 lemmetjie
Rooswaterstroop
- 150 ml water
- 125 ml (½ k) strooisuiker
- sap van 1 lemmetjie
- 45 ml (3 e) rooswater
Versiering
- 50 g pistasieneute
- ’n hand vol droë of vars roosblare
Metode
- Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer een 22 cm-koekpan.
Sif die bruismeel, bakpoeier en sout. Roer die strooisuiker en gemaalde amandel by. - Meng die eiers, heuning, ongegeurde jogurt, sonneblomolie en lemmetjieskil. Maak ’n holte in die middel van die gesifte droë bestanddele en voeg die eiermengsel by. Meng met ’n draadklitser tot net gemeng.
- Skep die beslag in die voorbereide pan en bak vir 50 min. tot goudbruin of tot ’n toetspen skoon uitkom. Laat die koek vir 20 min. in die pan afkoel.
- Rooswaterstroop. Verhit die water en suiker in ’n kastrolletjie oor lae hitte tot die suiker opgelos het.
- Voeg die lemmetjiesap by en kook vir 3-5 min. of tot die stroop met die helfte afgekook het. Haal af en laat eenkant afkoel. Voeg die rooswater by die afgekoelde stroop.
- Druk met ’n dun toetspen klein gaatjies in die koek en gooi die stroop oor.
- Strooi die pistasieneute en roosblare oor die koek.