Smelt die botter oor matige hitte in ’n pan, sit die uie daarin en strooi bruinsuiker oor. Roer deurentyd tot die uie sag en donkerbruin is. Laat afkoel en hou eenkant.
Smeer die brood aan albei kante met sagte botter, sit die gekaramelliseerde uie op ’n sny brood gevolg deur drie skyfies bokmelkkaas. Sit die tweede sny brood bo-op.
Verhit ’n bietjie olyfolie in ’n middelslagpan. Rooster die broodjie aan die een kant, jy kan ’n bordjie met ’n gewig op die broodjie sit om dit ’n bietjie plat te druk sodat die vulsel nie uitval met die omdraaislag nie.
Draai om en rooster die ander kant. Sit warm voor met die sop.
Croutons
Sny ’n middelslag-ciabattabrood in dik snye en breek elke sny in happiegrootte stukkies. Verf met olyfolie en bak vir ±10 min. by 220ºC tot goudbruin en bros. Jy kan dit in ’n lugdigte houer in die yskas hou en ook in slaaie gebruik.
Vorms
Vir ’n spesiale geleentheid kan jy vorms soos sterre en hartjies met ’n koekiedrukker uit ’n sny brood druk, sprinkel olyfolie en sout oor en bak soos die croutons. Laat dit op die sop dryf.
Parmesaanroosterbrood Voorverhit die oond tot 220 ºC. Sny ’n middelslag-ciabattabrood in ±12 snye en verdeel 500 ml (2 k) parmesaan tussen die snye brood. Sit op ’n bakplaat en bak tot goudbruin en bros.
Dukkahroosterbrood Volg dieselfde metode as die parmesaanroosterbrood, sprinkel net olyfolie oor die brood en 5 ml (1 t) dukkah per sny.