kategorieë: Ons mense

Rooiwarm man: Robbie Kruse

Die enigste windmakerige ding aan Robbie Kruse (28) is sy blonde kuif – van aanstellerigheid is daar geen sprake nie. Al is hy deesdae ’n gewilde gesig op kykNET se Bravo! en jare lank al ’n bekende stem op Jacaranda FM, is hy steeds net ’n boytjie van Pretoria wat mal is oor mense. Dit, vertel hy, is te danke aan sy ouers, Robert en Mari, wat hom en sy twee susters grootgemaak het met ’n opregte belangstelling in mense en die houding dat ’n mens jouself nooit te ernstig moet opneem nie. “Hulle is my rolmodelle. My pa sê altyd ander se gevoelens is belangriker as jou eie, en my ma het dit van kleins af by ons ingedril dat jy nooit lelik met ander mag wees nie. Ek grond my lewe op wat hulle ons geleer het.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Vanwaar Gehasi?
Ek is ses kilometer van Loftus af gebore en het in Pretoria grootgeword. In 2004 het ek aan Pretoria Boys High matriek geskryf en deesdae woon ek in Centurion.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

En skree jy vir die Bulle?
Ek kan nie anders nie! My ouma Lettie is vir seker hul grootste ondersteuner.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Dit klink asof jou gesin ’n groot rol in jou lewe speel …
Beslis! Ons is drie kinders. My twee pragtige susters, Jana en Niki, is my beste vriende en ek is baie trots op hulle. Ons almal kuier elke Sondag saam by my ouers se huis waar daar tot laat gesels en lekker geëet word. Ons reis ook graag saam. Ek het al 25 lande besoek, die meeste daarvan saam met my familie. Ek is grootgemaak met die idee dat ’n mooi huis en ’n motor belangrik is, maar dat jy moet spaar vir reis, want dis waar jy jou herinneringe skep. By ons strandhuis is almal se pelle en aanhangsels ook welkom. Ek sê altyd dat vriende buite ons gesin ’n heerlike bonus is, maar dat ons gesin my beste vriende is. Hulle is alles vir my. Ek is mal oor my oumas ook – ongelukkig is ouma Betsie ’n paar maande gelede oorlede. Maar ek was gelukkig genoeg dat albei my oumas op Bravo! ’n draai kon maak om oor my te praat.

Jou pa is ’n prokureur en jou ma ’n dokter. Hoe beland jy toe in die media-kollig?
Ek het so ses maande lank regte geswot tot ek besef het dis glad nie vir my nie. Toe verander ek van kursus en behaal uiteindelik ’n B. Admin-graad met arbeidsreg en ondernemingsbestuur as hoofvakke. Intussen het ek by Tuks FM begin werk – ’n droom wat waar geword het. Ek het as kind al gedink dit moet wonderlik wees om te kan uitsaai, maar my pa het daarop aangedring dat ek eers my graad behaal. Ek was nog op universiteit toe ek in 2008 as 22-jarige hier by Jacaranda begin uitsaai het.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

En is uitsaai so wonderlik soos jy gedink het dit gaan wees?
Dis selfs méér pret as wat ek gedink het!

Jy het al in verskillende tydgleuwe uitgesaai, en is al ’n paar jaar by die ontbytprogram – een van die belangrikste programme op elke radiostasie …
Jou heel grootste plig is teenoor jou luisteraar. Jou eie probleme los jy by die huis, want jy moet dit vir die mense lekker maak om na jou te luister. As ek net elke dag een mens kan laat glimlag, is my dag gemaak! Dis wonderlik om saam met Diane Broodryk en Rian van Heerden te kan werk – ons is ’n gedugte span en ek leer baie by hulle.

Hoe beland jy toe op TV?
Bravo! het ’n insetsel oor Rian kom maak en ek moes ook oor hom praat. ’n Week later het Homebrew se mense my vir ’n rolprent-toets genooi en in November 2012 het ek daar begin werk. Ek het nooit eens ’n TV-loopbaan oorweeg nie, maar hou baie daarvan. Dit help ook dat ek deur die jare ’n hele netwerk bekendes leer ken het – dan is daar mos dadelik ’n rapport as jy met iemand ’n onderhoud moet voer.

Jy is baie borrelend en entoesiasties …
Ek probeer om op die lug presies te wees soos ek by die huis is. As jy die dinge eg hou, ontdooi die luisteraars ook makliker en praat oop en eerlik met jou. Ek glo ook dat deure vir ’n mens sal oopgaan as jy hard werk en opreg gaaf is met mense. Onthou, elke mens wat jy ontmoet, het een of ander persoonlike stryd en kry dalk swaar sonder dat jy dit besef. En ja, daar is probleme in Suid-Afrika, en ons het almal maar ons eie probleme, maar dink eers aan alles wat jy het voor jy begin kla.

Waaraan skryf jy jou sukses toe?
Ek was gelukkig om ’n paar wonderlike geleenthede te kry, maar ek het ook bitter hard gewerk daarvoor en baie vakansies saam met my mense gemis. By Tuks FM het ek verniet gewerk, net vir die ondervinding. As jy nie bereid is om hard te werk nie, kan jy maar vergeet.

Is daar iemand spesiaals in jou lewe?
O, beslis! Haar naam is Lynn, sy is ’n baie suksesvolle sakevrou en she’s my person! Ons woon al ’n paar maande saam en sy is my trouvrou. Ek het dit veral besef toe sy op die eerste dag van ’n lang beplande vakansie in Mauritius ernstig beseer is. Die mediese fonds het ons al op die tweede dag huis toe laat vlieg, maar niks het saak gemaak nie, behalwe dat sy leef. Ek kan sonder enigiets in die lewe klaarkom – geld, goed, maak nie saak nie. Solank ek net vir Lynn het. Elke dag saam met haar is soos ’n vakansie.

Hoe sien jy die huwelik?
My ouers is wonderlike rolmodelle as dit by die huwelik kom – hulle is al langer as dertig jaar getroud en steeds mal oor mekaar. Ek en Lynn doen moeite vir mekaar. Ons eet byvoor- beeld elke aand by ’n gedekte tafel – geen TV, geen selfone – en bêre ’n paar van die dag se stories spesiaal vir die geleentheid. Weer eens: dis hoe ek grootgemaak is. Gehaltetyd saam met ’n mens se geliefdes is die heel belangrikste ding op aarde.

Het jy ’n lewensmotto?
Leef jou lewe op so manier dat jy nooit om verskoning hoef te vra nie.

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

5 mites oor olyfolie

Moenie hierdie 5 mites oor olyfolie glo nie: Ingevoerde olyfolie is beter as Suid-Afrikaanse olyfolie…

6 hours Gelede

Gebakte vis in geurige tamatiesous

Gebakte vis in geurige tamatiesous Lees ook: RESEP: Armand Aucamp se witvis met vanieljesous van Tahiti…

6 hours Gelede

Tamatieroomsop met kaasroosterbroodjies

Hierdie lekker resep vir tamatiesop is ideaal vir ’n vinnige aandete in die middel van…

7 hours Gelede

Lekker opskiet eet-ervaring by Vergelegen

Deur Maryke Roberts. Foto’s: Clifford Roberts en Vergelegen Die historiese landgoed, Vergelegen op Somerset-Wes, het…

8 hours Gelede

Vinnige lamskerrie

Vinnige lamskerrie 4 porsies Bestanddele: 1 ui, fyngekap 100 g kerriepasta 1 kg lamsvleis, in…

10 hours Gelede

Kry só jou tuin reg in Julie

Julie: Doen dit in die tuin     1. Snoei rose teen einde Julie of…

10 hours Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.