Hy is ’n vriendelike, rustige ou wat 1,8 meter in sy sokkies staan, en om hom op ’n tennisbaan in aksie te sien, is ’n les in vlugvoetigheid.
Jy kan maar sê Raven Klaasen (31) het op ’n tennisbaan grootgeword. “My ouers, Japie en Yvonne, is albei tennisspelers en het my reeds as baba saamgeneem tennisbaan toe. Vir so lank as wat ek kan onthou, is tennis maar ’n deel van my lewe. Ek het op ses al begin speel.”
Hy glo sy ouers is die hoofrede dat hy vandag ’n professionele tennisspeler is. “Hulle is baie passievol oor tennis en het ongelooflik baie gedoen om vir my geleenthede te skep om van tennis ’n loopbaan te maak. My suster Lynne en broer Kevin het ook albei tennis gespeel. Dit maak dit makliker vir my dat almal tennis speel, want nou verstaan hulle presies waardeur ek vir my sport moet gaan.”
Wou jy ooit iets anders as ’n tennisspeler word?
Ons familie is sportmal en sport is in die bloed. My pa was ook ’n goeie rugbyspeler. Ek het in my laat tienerjare daarvan begin droom om professioneel tennis te speel. In 2002, toe ek 19 was, het daardie droom waar geword.
Maar toe vernietig ’n besering byna jou droom
Ek het op 22 die kraakbeen en ligamente in albei my knieë ernstig beseer en moes drie operasies ondergaan. Dit het my twee jaar geneem om ten volle te herstel. Daarna was die pad maar lank en steil, en ek het lank net in die kleiner professionele toernooie meegeding. In daardie tyd het ek saam met my afrigter, Stephan de Kock, begin werk – hy is nou al agt jaar my afrigter. Die afgelope drie jaar is my beste tennisjare tot nog toe, maar eintlik voel ek my beste tennis lê nog voor my.
Was dit ’n moeilike tyd?
Die oppe en affe van sport is seker die grootste toets vir elke professionele sportman of sportvrou. Maar die geheim lê in hoe jy die oorwinnings en teleurstellings deel van jou daaglikse motivering en lewe maak. Die manier waarop jy dít doen, bepaal of jy uiteindelik wel die vrugte van al jou harde werk pluk en die hoogste sport bereik.
Wat is die heel moeilikste deel van jou loopbaan?
Ek kom deesdae gereelder huis toe, maar kry steeds nie genoeg tyd vir my familie en vriende nie. Ek mis my verloofde, familie en vriende die meeste. Ek en Celeste ken mekaar al van skooldae af, en is nou nege jaar saam. Al het ek in die Kaap grootgeword, geniet en waardeer ek die stad nou baie meer. Om Suid-Afrika toe te kom is die hoogtepunt van my jaar. Ek mis rugby, biltong, braaivleis en warm weer wanneer ek oorsee is.
Wat beskou jy as jou loopbaan-hoogtepunt?
Om in die dubbelspelfinaal van die Australiese Ope en die kwarteindronde van die Amerikaanse Ope – ook in die dubbelspel – te kon speel. Ek het al vier titels gewen op die ATP-toer. Die Association of Tennis Professionals (ATP) is die hoogste vlak van professionele tennis. Ek is ook baie trots daarop om al baie jare lank ’n lid van die Suid-Afrikaanse nasionale manspan, die Davisbekerspan, te kan wees.
Hoe lyk ’n tennisspeler se dag? Hoeveel uur per dag oefen jy?
Dit verskil van speler tot speler. Ek bestee omtrent drie uur per dag op die tennisbaan en nog so twee uur in die gimnasium om my lyf reg te hou. Tennis neem so vyf tot ses uur van elke dag in beslag as jy ernstig daaroor is. Met toernooie bring ek minder tydop die oefenbaan en in die gimnasium deur, want dis belangriker om uitgerus te wees vir wedstryde.
As jy nie ’n tennisspeler geword het nie, wat sou jy wou wees?
Dis ’n moeilike vraag, want ek speel al vir so lank tennis dat ek my nie ’n lewe daarsonder kan voorstel nie. Ek sou dalk ’n ander sport as loopbaanrigting gekies het. Maar ek wil graag vir altyd ’n tennisloopbaan hê – dit is my passie, en ek hoop om eendag my kennis en ervaring te gebruik om jong spelers te help. Toe ek jonger was, was ek baie doelgerig en gefokus op my tennis en het nie veel ander goed gedoen nie. Ek probeer gholf speel wanneer ek ’n kans kry, maar dis moeilik om die tyd daarvoor in te ruim. Reis is ’n groot deel van my werk, en ek geniet dit vreeslik om meer te sien en te leer van die lande wat ek besoek. Ek kyk graag rugby, en as ek effens swaarder was, het ek dit dalk as sport probeer!
Hoe bly jy gefokus op so ’n intense, mededingende loopbaan?
Dis ’n goeie vraag, en dalk een van die moeilikste gedeeltes van ons sport. Ek is baie gelukkig om ’n goeie span mense om my te hê. My afrigter, Stephan de Kock en fiksheidsinstrukteur, Fayaadh Dhansay, sorg onderskeidelik dat my spel op standard en my lyf in die beste toestand moontlik is. Sonder Celeste en my familie en vriende sou ek dit ook nie kon doen nie. Almal van hulle moedig my aan om hard te werk en ondersteun my deur goeie én slegte tye. Ek aanvaar die kompetisie en druk as deel van die sport, en dis gelukkig vir my lekker.
Toekomsdrome en toekomsplanne?
Ek wil nog ’n paar jaar speel en hoop om ’n Grand Slam-titel te wen. Ek voel ek het nog heelwat om te bereik. Daarna wil ek permanent terugkeer Suid-Afrika toe en ’n bietjie inhaal op al die tyd wat ek saam met my geliefdes verloor het. Ek wil ook graag tennis afrig en help om tennis in Suid-Afrika te ontwikkel en te laat groei.
Jou raad aan jong spelers wat droom van groot sukses?
Moenie jouself met ander vergelyk nie – dis een van die grootste foute wat jy kan maak. Elke speler se loopbaan ontwikkel teen sy eie pas, en dis belangrik om op jou eie spel te fokus. Dit neem tyd om jou spel te verbeter en jy moet geduldig wees. Sukses verg harde werk en deursettingsvermoë.
Wat het tennis jou geleer?
Die grootste les is beslis uithouvermoë. Tennis is ’n unieke sport omdat jy so baie tyd alleen deurbring – dit maak selfdissipline en geduld noodsaaklik. Ek dink die lesse wat tennis ’n mens leer, is ook waardevolle lewenslesse.