Foto deur: Peter Whitfield
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }
Jy is sonder bene gebore, maar is van kleins af al mal oor sport, neem nog altyd aktief deel en leef voluit, soos iemand wat nie toelaat dat enigiets hom terughou nie?
Ek hou glad nie daarvan dat mense my as “gestrem” beskou of so noem nie, want dis glad nie hoe ek myself sien nie. Ek is net ’n doodgewone mens. Almal word verskillend gebore – sommige is blond, ander kort en ander sonder bene. Dis maar net nog een van daardie eienskappe wat jy by geboorte het of nie. Een of ander tyd moet ons maar almal met ons eienskappe deal en aangaan. Maar mense is bevooroordeeld. Ongelukkig is dit maar hoe die samelewing werk. Iemand wat oorgewig is, kan maklik geoordeel word, sonder dat hulle enigiets van daardie mens weet, of ’n idee het hoekom hy oorgewig is. Dieselfde geld mense met gestremdhede. Ek het ook al dikwels gesien dat mense bloot net nie weet hoe om gestremde mense te hanteer nie omdat dit in húl oë anders is. Hulle sal sommer bo-oor of verby jou praat. Maar dinge het in die afgelope twintig jaar baie verander en gestremdheid word al minder as ’n issue gesien.
Wat is dit wat mense deesdae anders na gestremdes laat kyk?
Sport het vir seker ’n groot rol daarin gespeel om vir mense te wys dat gestremdes nie teruggehou kan word nie. Ek dink oudpresident Nelson Mandela het dit die beste saamgevat: “Sport can change the world.” Dis baie waar!
Jy is op Ceres gebore, het op Graaff-Reinet grootgeword en op Kimberley skoolgegaan. Watter soort kind was jy?
Ek was baie besig en sportief, het altyd fietsgery of saam met my maats en boeties nonsens in die veld aangejaag. Ek was die oudste van drie seuns. My ma pas nou dikwels my twee dogtertjies, Lexi (4) en Sunel (9 maande), op en sy het al baie gesê dit was baie makliker om drie seuns groot te maak! Ha!
Watter soort pa is jy?
Daar is mos maar altyd ’n good cop en ’n bad cop en ek dink tussen my en my vrou, Suzanne, is ek die bad cop. Iemand moet dit doen! Maar dinge het baie verander vandat ons jongste, Sunel, gebore is. Omdat sy nou nog ’n baba is, is dit hoofsaaklik Suzanne wat haar versorg terwyl Lexi my verantwoordelikheid is. Ek sal haar aantrek en skool toe vat en so aan. En sy deel ook my liefde vir koi-visse – wat oulik is. Mense sê altyd as jy twee kinders het, verdubbel die werk, maar dit is nie heeltemal waar nie, want mans doen in elk geval altyd net ’n kwart van die werk met ’n baba. So, met ’n tweede kind is een van hulle skielik jou vólle verantwoordelikheid en dan werk jy vier keer harder as vroeër!
Vanwaar die liefde vir koi-visse?
Dit het eintlik by my oupa begin. Hy het ’n vistenk gehad wat my altyd gefassineer het wanneer ons daar kuier. Ek het toe ook een gekry. Later het ek en Suzanne ’n waterfokuspunt met ’n poeletjie in ons tuin gebou en twee “goudvisse” gekoop. Toe word die visse net al hoe groter en groter en ons kom agter dat dit eintlik koi-visse is! Ek het toe oor die visse en hul habitat en gewoontes begin nalees en die poeletjie het ’n dammetjie geword en ook al hoe groter en groter! En die visse meer! Ons is in die algemeen groot diereliefhebbers – dit was seker maar net natuurlik dat ek die beste vir die visse sou wou hê. Dis vir my ’n vreeslike lekker en kalmerende stokperdjie. Ons het ook twee honde, ’n sleehond, Luca, wat nou al oupa is van pure ouderdom, en ’n apporteerhond, Izzie.
Jy neem aan rolstoelresies en handfietsry deel. Wat is die verskil?
Die rolstoelresies is ’n atletiekitem. Dit gaan oor hoe vinnig jy in jou rolstoel kan jaag en jy neem in verskillende afstande deel, soos 100 m of 400 m. Jou rolstoel moet ook aan allerhande reëls en regulasies voldoen. Vir die fietsry-items “trap” ek die pedale met my hande en daarvoor geld fietsryreëls.
Jy het die Boston-marathon al nege keer gewen. Vanjaar was jy tweede en lank voor die twee bomontploffings oor die eindstreep. Hoe het jy dit ervaar?
Dit was verskriklik. Ek wil eintlik nie daaroor praat nie … Ek was ná die marathon by ’n geleentheid wat my borge in die Mandarinhotel aangebied het. Ons het ’n goeie uitsig oor Boylstonstraat gehad, die plek waar die ontploffings plaasgevind het. Met die eerste ontploffing het ek nie ’n idee gehad waar dit vandaan kom nie, net aangeneem dat dit dalk ’n sirene is wat aandui dat ’n afsnytyd verby is, soos vir die Comrades-marathon. Toe ons by die venster kom, gaan die tweede bom reg aan die oorkant van die pad af! Ek kon onmiddellik die buskruit ruik. Ek het ’n man sien lê, so half bo-op die plaveisel en kon duidelik sien sy bene was weg! Dit was afgryslik! En toe was daar ’n algehele chaos. Alle selfoonnetwerke is geblok sodat geen ander toestelle gebruik kon word om nog bomme te laat ontplof nie – niemand kon bel om te laat weet dat hulle veilig is nie. Wat my die heel kwaadste gemaak het, is dat die laaste 5 000 deelnemers wat oor die wenstreep hardloop, meestal mense is wat dit vir liefdadigheid doen, en dis juis hulle en hul familie en die ondersteuners wat hulle ingewag het, wat beseer is … ’n Onskuldige kind is dood … Mense het arms en bene verloor … Dis siek!
Dit moes verskriklik gewees het. Het dit jou van sulke wedlope afgeskrik?
Nee, dis verby. ’n Mens kan nie in ’n gat kruip omdat daar siek mense in die wêreld is nie. Jy moet met jou lewe aangaan. Om hindernisse en uitdagings te oorkom, is juis waaroor marathons gaan.
Jy is ’n baie gedissiplineerde ou en oefen hard. Wanneer verloor jy beheer en lag net lekker uit jou maag uit?
Vir my kinders! Die goed wat hulle kwytraak en doen, is net skreeusnaaks.
Sy verjaardag is 4 April.
Ernst se ouers het hom van jongs af aangemoedig om aan verskeie sportsoorte deel te neem. Op 17 het hy nasionale kleure in swem verwerf en in 1992 aan die Paralimpiese Spele in Barcelona deelgeneem waar hy vyfde geëindig het. Hy het ook deurgedring na die semifinaal in die rolstoelresies en besluit om hom liewer daarop toe te spits.
Ernst en sy gesin bly in die Paarl.
Ernst luister hoofsaaklik radio maar wanneer hy na musiek luister, hou hy van iets opbeurends soos The Parlotones en 30 Seconds to Mars. “Ek luister veral voor ’n resies na musiek op my iPad om my op te charge.”
Hy hou daarvan om fantasie-, wetenskapfiksie- en avontuurboeke te lees. “Stories waar die ou die wêreld moet red en so aan – dit laat ’n mens vergeet van die alledaagse gesukkel en pyn en is lekker ontvlugting. Ek het onlangs die hele Game of Thrones-reeks gelees en dit baie geniet.”
Sy grootste bederf is ’n duur vis! “Party mense hou van karre en klere. Ek hou van koi-visse en soms sal ek ’n groot bedrag aan ’n vreeslike mooi vis bestee – dis nou nadat ek mooi daaroor gedink het en myself ‘oortuig’ het dat die bederf nodig is.”
Ernst hou baie van Asië en Japan en probeer om gereeld in Japan en Korea aan marathons te gaan deelneem. “Ek gaan ook af en toe Japan toe om koi-visse te koop. Ek dink my liefde vir die stokperdjie is eintlik maar die dryfveer agter my liefde vir daardie dele van die wêreld.”
Hy is ’n bobaaskok by die huis en hou veral daarvan om vleis te braai en interessante slaaie en pastageregte te maak. “Ek oefen vier uur per dag – dis belangrik dat ek gesond en gebalanseerd eet en ek maak altyd seker dat die regte kos daar is. Maar ek het ’n suikertand en sjokolade is my groot swak!”
Ernst het sy eie onderneming, Enabled Sport, wat die korrekte rolstoele vir sport en avontuuraktiwiteite verskaf.
Sy is nie net die eerste dowe vrou om as Mej. Suid-Afrika gekroon te word…
Het jy geweet dat meer vroue jaarliks aan hartvatsiektes en beroertes sterf as mans? Gelukkig kan…
Resep: 'Dairy Gives You Go' Bestanddele 1 ½ koppie gladde medium-vet maaskaas – kamer…
Daar is baie maniere en wenke om vetplante te laat gedy. Hier is nege wenke…
As Karlien van Jaarsveld die horlosie kon terugdraai, sou sy dieselfde keuses gemaak het, want…
Resep: 'Dairy Gives You Go' Bestanddele 2 koppies koekmeel ¾ koppie Amasi ¼…
Hierdie webwerf gebruik koekies.