*Lees ons volledige onderhoud met Brendan Peyper in die Julie 2017-uitgawe van rooi rose.
Agter die Vrystaatse boerseun
• Brendan is ’n tipiese Suid-Afrikaner as dit by gunstelingkos kom, en sê hy hou van vleis. “Braaivleis is my gunstelingkos, en Cola Tonic en limonade is my gunstelingdrankie.” Hy kook nie, maar vertel dat hy ’n uitstekende ontbyt kan maak. “En goeie kitspoeding!”
• Al het die Mambaonline-webwerf hom in 2015 as Suid-Afrika se sexyste man aangewys, beskou hy hom glad nie as ’n sekssimbool nie. Maar hy is gemaklik met sy lyf en wys gereeld sy gespierde bolyf op foto’s. Oefen het ’n deel van sy daaglikse lewe geword, en wanneer hy reis vir optredes, word ’n stel gewigte agterop sy toerbakkie gelaai. Hy is baie gesondheidsbewus, en probeer gemorskos vermy.”
• Hy wil nie verklap of daar ’n spesiale iemand in sy lewe is nie, maar sy ideale romantiese afspraak pas by sy liefde vir die plaas en die buitelug. “Agterop ’n bakkie, met kussings en komberse, onder die sterre.” Sy idee van die perfekte vakansie is ’n seevakansie by die ATKV Hartenbos. “Of iewers in die Bosveld in ’n woonwa of chalet.”
• Het hy ’n vaste roetine, of vat hy die lewe soos dit kom? “Ek is baie impulsief, so ek lewe soos dit kom.”
• Brendan fliek graag, en is veral dol op komedies. “My gunstelingakteur is Scott Eastwood, en Julianne Hough is ’n puik aktrise.”
• Vra jy hom wie hy bewonder, kom die antwoord sonder aarseling: “Elvis Blue, al sedert sy Idols-dae. Hy is baie talentvol.” Die Amerikaanse musikant Chris Daughtry is sy rolmodel. En een van die verrassendste feite oor Brendan? Dat hy van boeremusiek hou. Die Teelepeltjies en die Klipwerf Boereorkes is sy gunstelinge.
Kyk hier na die musiekvideo van Brendan se Twee is beter as een