Rooibostee-en-jogurt-koek. Deur Vickie de Beer. Foto’s deur CRPHOTOGRAPHIC.
Dié koek is een van die smullekkerste goed op aarde!
Rooibostee-en-jogurt-koek met ricotta-en-mascarpone-versiersel
Ingredients
- • 300 g botter
- • 300 ml rooibostee
- • 356 g bruismeel
- • 420 g strooisuiker
- • knypie sout
- • 1 ml (¼ t) wonderpeper
- • 1 takkie roosmaryn, gekap
- • 3 eiers, geklop
- • 150 g tuisgemaakte jogurt (*sien onder)
- Room
- • 400 g ricotta
- • 400 g mascarpone
- • 60 ml (¼ k) versiersuiker
- • gerasperde skil van 1 lemoen
- Tooisel
- (Die tooisels is opsioneel, maar dit maak die koek ekstra spesiaal)
- • 1 vars heuningkoek
- • 60 ml (¼ k) heuning
- • 1 lemoen, in ringe gesny
- • 45 ml botter
Instructions
1 Verhit die oond tot 170 °C. Voer 3 x 20 cm-losboom-koekpanne met bakpapier uit en smeer met botter.
2 Smelt die botter in die verhitte rooibostee en hou eenkant.
3 Sif die bruismeel, strooisuiker, sout, wonderpeper en roosmaryn saam.
4 Klits die botter-en-rooibos-mengsel met ’n elektriese menger of handklitser by die meelmengsel.
5 Voeg die eiers een vir een by terwyl jy deurentyd klits. Voeg die jogurt by en klits saam tot goed gemeng.
6 Verdeel die koekbeslag tussen die koekpanne.
7 Bak vir 30 - 35 min. of tot ’n toetspen skoon uitkom.
Room
1 Meng die ricottakaas, mascarpone, versiersuiker en lemoenskil liggies saam - moenie te veel meng nie.
2 Smeer die versiersel oor elke koeklaag. Stapel die koeklae op ’n koekstander of dienbord opmekaar en voltooi met ’n laag ricottaversiersel.
3 Karamelliseer die lemoenringe aan albei kante in die gesmelte botter. Laat afkoel.
4 Versier die koek met die lemoenskywe en vars heuningkoek en gooi die heuning oor.
*Maak jou eie jogurt
Genoeg vir sowat 1 liter
1 Verhit 2 liter (8 k) volroommelk in ’n groot kastrol oor matige hitte. Laat die melk liggies prut en ’n vel vorm.
2 Trek van die hitte af en laat afkoel totdat jy jou vinger kan indruk sonder om te brand.
3 Meng 250 ml van die louwarm melk en 125 ml (½ k) volroomjogurt in ’n bakkie.
4 Gooi die melk-en-jogurt-mengsel terug in die kastrol. Roer eenmaal.
5 Gooi die mengsel in gesteriliseerde flesse of in een groot fles en seël dig.
6 Sit die flesse in ’n kastrol vol warm water en laat die jogurt vir 18 uur daarin “broei”.
7 Haal uit die kastrol en hou in die yskas.