Gooi die water en suiker in ’n groot kastrol. Roer oor lae hitte tot die suiker opgelos is. Voeg die speserye en geskilde koejawels by.
Sny ’n sirkel so groot soos die kastrol uit bakpapier en bedek die kastrol daarmee. Kook vir 20-30 min. of tot die koejawels sag is, maar steeds hul vorm behou.
Meng intussen die melk in ’n middelslag-kastrol en bring oor matige hitte tot kookpunt.
Voeg die mieliemeel stadig in ’n dun stroompie by terwyl jy deurentyd roer. Meng goed. Geur met sout, roer deur. Verlaag die hitte en kook vir 20-30 min. terwyl jy elke 5 min. roer om klonte te voorkom.
Voeg laastens die room en botter by en roer tot die botter gesmelt en goed deurgemeng is.
Lig die koejawels versigtig met ’n gaatjieslepel uit die stroop. Kook die stroop verder oor matige hitte tot dit effens verdik het.
Sit die romerige mieliepap met die stroop en koejawels voor.