Romerige biltong en peppadew sop met brandewyn. Deur Mariëtte Crafford. Foto: Johan Wilke
Genoeg vir 6
Bestanddele
- 1 groot blomkoolkop
- 6 knoffelhuisies, geskil
- 250 ml (1 k) droë biltong, fyn gekap in ’n voedselverwerker
- 60 ml (1/4 k) Peppadew® piquanté peppers, fyn gekap of verpulp (kan ook weggelaat word)
- 30 – 45 ml (2-3 e) goeie, ou KWV-brandewyn
- seesout, swartpeper, en pienk peperkorrels
- 1 wiggie (125 g) Blaauwkrantz-skimmelkaas, gekrummel (kan weggelaat word)
- volroommelk
Bedien met vars room en klam biltonglappies.
Metode
- Kook die blomkool en knoffelhuisies in water op tot sag. Dreineer en verpulp die blomkool tot baie fyn in ’n bietjie melk.
- Voeg die biltong, Peppadew® piquanté peppers-pulp, brandewyn en skimmelkaas daarby. Verdun met melk en room tot ’n dik bestandheid. Geur met sout en peper. Prut oor matige hitte totdat die geure goed vermeng het en die sop deurwarm is.
- Dien op met ’n paar biltonglappies en pienkpeperkorrels as tooisel.