Rolanda Marais is op die kruin van die golf en sy gaan waarskynlik nog lank daar bly as jy kyk na die rolle en akkolades wat instroom. Resensente het haar spel in Die Seemeeu van Tsjechof by die Potchefstroomse kunstefees as ’n “verhoog-kragtoer” beskryf wat “weer eens haar statuur as kunstenaar bevestig het”. Oor die soort lofuitinge het Rolanda min te sê. Sy praat liewer oor die eer wat dit vir haar was om saam met Sandra Prinsloo en Marius Weyers te kon werk.
Sy het ook nie tyd gehad om oor haar “statuur” na te dink nie. Rolanda het ná Aardklop ’n enkele rusdag gehad voor sy weer op die stel van ’n opwindende, nuwe projek, Bloedbroers, moes inval. Daarby het sy tot kort voor Aardklop aan die rolprentweergawe van Ballade vir ’n Enkeling gewerk. Die TV-reeks uit die pen van Leon van Nierop het kykers in die jare tagtig voor die kassie vasgenael gehou. Intussen het sy ook gewerk aan Paul C. Venter se dramareeks, Vlug na Egipte.
Bloedbroers is die eerste deel van nog ’n kykNET-trilogie uit die pen van die bekroonde skrywer Deon Opperman wie se Donkerland groot lof ingeoes het. Die verhaal speel hom teen die sosio-politieke agtergrond van 1914 tot 1948 in ’n voorstedelike gemeenskap in Johannesburg af en wentel om vier vriende in hu twintigerjare en die hegte band tussen hulle.
Rolanda speel die feminis, Ingrid. “Ek hou sommer baie van haar, want sy is vol passie vir die lewe. Sy is ’n slim vrou wat haarself l aat geld. “My kêrel (nou Rolanda se man), Jozua Malherbe, is die regisseur van die stuk. Hy sê net op grond van hoe hy Ingrid in die teks ervaar het, kon hy my al in die rol sien. Dit was nog voor ek ’n oudisie afgelê het. Hy ken my baie goed en het geweet ek sou die rol kan speel.”
Rolanda oor Jozua
Sy het Jozua drie jaar gelede op die rolprentstel van Wolwedans in die Skemer ontmoet en het geweldige agting vir sy vermoëns as regisseur.
“Jozua het ’n ongelooflike mooi manier om met mense te werk en dwing respek by die span af. Hy is my trouman, ek hoef nie eens verder te soek nie. Ek het ’n skat gekry”
Jozua het al by geleentheid aan joernaliste erken hoe vinnig die leading lady in sy eerste fliek as regisseur sy voete onder hom uitgeslaan het. Hy bewonder Rolanda se talent en sjoe, vertel hy, sy is borrelend en fantasties.
Sy dink Jozua se sosiale vernuf help om haar eie, meer onsosiale styl te balanseer. “My vriende lag as ek dit sê, maar ek is regtig nie ’n sosiale vlinder nie. Toe ons in ons nuwe huis ingetrek het, het hy gou ’n groot braai gereël en ’n klomp mense genooi. Ek het effe geskrik, maar geweet dit is die regte ding vir my.”
Die twee het onlangs in Westdene, Johannesburg, huis gekoop en snuffel naweke in ou winkeltjies rond vir goed met ’n vintage-gevoel, hoofsaaklik uit die jare sewentig. “Ons hou gelukkig van dieselfde goed. Ek hou veral van die lyne en kleure uit die sewentigs. Ons mure is ook vol van kunswerke wat ons vriende gemaak het. Ons steun plaaslike kunstenaars. My pa, Fanie, ook ’n kunstenaar en my ma, Charlotte, ’n spraakterapeut, het my van kleins af aan kuns blootgestel en ek kon ’n oog vir kuns en goeie smaak ontwikkel.”
Gelukkig hou Jozua ook van katte, want ná Rolanda se hoogs bejaarde Charlotte afgesterwe het, het sy twee pragtige Siamese katjies by ’n kattehawe raakgeloop.
“Ek het werk in die omgewing gedoen en besluit om net gou by die kattehawe in te loer. Ek het geweet dit is ’n groot fout. Dis hoe ek en Jozua twee katte gekry het. Ons kon elkeen ’n naam gee. Jozua het syne die interessante strokiesprentnaam Attakus gegee, maar ek kon nie dadelik aan ’n naam dink nie. Ek het my kat tydelik Seuna genoem en ná my Aardklop-toekenning heet hy nou Kostya, ’n karakter in Seemeeu.”
Hulle is nie ’n kollig-paartjie nie en verkies gewoonlik ’n stil, lui naweek by die huis.
“Ons kook graag saam en is baie lief vir kerries en slaaie en baie gesonde kos. Ons is ook intens verslaaf aan goeie koffie.”
As regisseur agter die skerms val die kollig gelukkig nie so sterk op Jozua nie, sug sy verlig. “Ek is nie heeltemal gemaklik met bekendheid nie. Die karakter wat ek so lank in Binnelanders gespeel het, was nie gewild nie en die publiek het toe ook nie van my gehou nie. Dis vreemd, maar mense verbind jou tog met die rolle wat jy speel. Ek en Nadia Valvekens, wat Pippa speel, is een keer voorgekeer deur mense wat foto’s wou neem. Hulle het reguit gesê hulle hou meer van Pippa. Asof ek en Stefanie dieselfde mens is!”
Ambisie
Die bedryf is goed vir Rolanda, maar sy werk hard vir elke rol en is dankbaar vir die kanse wat die lewe aan haar gee.“Jy moet ook die kuns ontwikkel om die kanse raak te sien,” sê sy.“Ek is baie ambisieus, maar nie in so ’n mate dat dit mense afskrik of dat ek opdringerig voorkom nie. Dit is net ’n kombinasie van gefokus en vasbeslote wees. Ek sorg dat ek oudisies bywoon, want die werk kom nie na jou aangeloop nie. Ek glo ook jy moet jou heel beste gee, want dit is al hoe mense van jou weet.”
Sy sê maklik dat sy ’n werkverslaafde en perfeksionis is, maar voeg darem by dat ’n paar los ure ook nie te onaangenaam is nie. “Ek doen altyd my bes. Ek weet ek plaas te veel druk op myself, maar dit is soos ek is. Ek verwag dieselfde van my kollegas. Dit is baie moeilik wanneer iemand nie sy woorde ken, of nie genoeg aan karakterisering werk nie en die hele span se tyd mors.”
Een van haar beste kenmerke, glo sy, is die vernuf om weer op te staan ná ’n moeilike situasie jou platgeslaan het .
“Ek laat my nie deur teleurstellings onderkry nie. Natuurlik kom dit oor elkeen se pad. Maar wanneer ek oor iets huil, sorg ek dat ek uit die trane leer, al is dit net die tegniek wat ek in ’n volgende vertoning kan gebruik! Ek sal byvoorbeeld probeer onthou hoe ek asemgehaal het toe ek gehuil het. Daar is altyd iets goeds aan ’n situasie. Dit hang net af hoe jy daarna kyk.”Die lewe neem ’n mens op reise en jy moet die positiewe en negatiewe op hierdie roetes kan raaksien, sê sy. Sy is nie een van daardie mense wat in ontkenning leef nie en hanteer probleme wanneer dit kom. “Dis hoe jy oorleef. Ek hou daarvan om as mens te groei en nuwe goed te probeer. Maar ek hou ook van die bekendheid van roetine.”