Rokke wat jy nóú moet dra deur Susra Matthee en Bea Lingenfelder. Hooffoto: SanneBerg/istock images
Polkakolle
Een van die grootste tendense vir somer 2018 is polkakolle. Die patroon is niks nuuts nie, aangesien dit sedert die vyftigerjare reeds gewild is. Om egter te verhoed dat jy soos ’n huisvrou van daardie tydperk lyk, moet jy jou silhoeëtlyne en bykomstighede modern en informeel hou. Swart kolle op ’n wit agtergrond, byvoorbeeld, lyk jonk en vars. Hou jou grimering en bykomstighede eenvoudig.
Lees ook: Doen-dit-self polkakol-naels
Blommotiewe
Blompatrone is immergroen, of dit nou winter of somer is. Daarom sal jy nie spyt wees as jy in ’n treffende blomrok belê nie, want jy sal baie dra daaruit kry. Jy kan dit opdollie met ’n paar hakskoene of oor die naweek saam met netjiese sandale dra. Probeer hierdie bypassende materiaalkopband daarby wat ’n vrolike aanslag aan die uitrusting sal gee. Verf jou lippe helderpienk en jy is gereed vir die dag!
Lees ook: 16 maniere om geld op jou klerekas te spaar
Wit en natuurlik
Wit is ’n verstekkleur vir elke somerkas en ook ’n wenner om bo-oor jou swembroek aan te trek. Hou jou bykomstighede natuurlik in skakerings van bruin of swart. Indien jy ’n bietjie meer waaghalsig wil wees, dra ’n helderkleurige handsak daarby. Sien wit as ’n leë skilderdoek wat jy met enige versiering kan tooi.
Laventel
Laventelpers is dié moet-hê-modekleur van die jaar. As jy net één item hierdie somer koop, maak seker dit is ’n laventelkleur rok. Pastelkleure steek elke paar jaar kop uit in die modewêrld en dit maak hierdie item ook ’n goeie beleggning. Pas net op – laventel kan maklik outyds lyk. Kombineer die rok met prettige en moderne bykomstighede of selfs met ander pastelkleure om dit vars en byderwets te laat lyk.
Helder kleure
Nespastelkleure is uitspattige, helder kleure ook gewild. Hierdie jaar moet jy nie wegskram van uitstaan nie – dra helder saam met helder. Dink aan die kleurkryte waarmee jy in jou kinderdae tog te lekker ingekleur het – dis die skakerings waarna jy moet soek. Helder word saam met helder gedra en nie afgemat deur natuurlike kleure nie.
Lees ook: Dra helder kleure só