– Deur Mariette Snyman. Foto: Leana Clunies-Ross
*Hierdie artikel het oorspronklik in die November 2009-uitgawe van rooi rose verskyn
Ek ken Robert die afgelope paar jaar as Robert Hamblin, talentvolle en lewenslustige fotograaf wat talle rooi rose-foto’s skiet. Ek weet hy was vroeër Adéle, maar dit was voor ons begin saamwerk het. Vir my is hy gewoon ’n man. Voor ons oor sy storie kon gesels, moes ek eers ’n kortkursus in die betrokke terminologie doen. ’n Transman is iemand wat as ’n vrou gebore is, en nou ’n man is of besig is om een te word. ’n Transvrou was ’n man. Wanneer transmense hormoonbehandeling of chirurgie of albei gebruik om hul liggame met hul geslagsidentiteit in ooreenstemming te bring, praat ons van transitioning of ’n oorgangsproses.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }
“Hierdie kwessie het niks met seksuele voorkeur te doen het nie,” benadruk Robert. “Transmense kan enige seksuele voorkeur hê. Die kern van die saak is dat hulle van kleins af voel hulle het die liggaam van die ‘verkeerde’ geslag. Dit gaan in die eerste plek oor hul verhouding met hul eie liggaam, nie oor hoe ander mense hulle sien of watter voorregte die samelewing aan hul gekose geslag koppel nie.” Die mediese term vir mense wie se biologiese geslag en geslagsidentiteit verskil, is “transseksueel”.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }Volgens die algemeen aanvaarde Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders (DSM) van die Amerikaanse Psigiatriese Assosiasie is gender identity disorder ’n geestesgesteldheid wat behandeling regverdig. “Nuwe navorsingsresultate dui op verskille tussen die brein van ’n heteroseksuele vrou en ’n vrou wat voel sy is eintlik ’n man, terwyl lesbiese vroue se brein met dié van heteroseksuele vroue ooreenstem. Daar was ooreenstemmende resultate by mans.”
“Toe ek klein was, was ek vas oortuig ek’s ’n seuntjie,” sê Robert. “Ek het geweet my liggaam lyk anders, maar seuns was my vriende. Hulle het my aanvaar. Ek het tot bome natgelei soos ’n seun.
“Op tien het ek reeds my volwasse lengte bereik. Ek was sterk en kon die seuns ’n bietjie rondklap en die meisies beskerm. Meisies was vir my ’n wonder.
“Mense aanvaar ’n tomboy. My ma het wel met my oor klere gestoei, maar almal het gedink ek’s oulik. En toe gebeur puberteit met my.
“Soos elke ander seun het ek graag my armspiere voor die spieël gebult. Ek kon nie wag om borshare te kry nie. En toe, skielik, groei hierdie borste op my lyf en begin ek menstrueer. Ek wou nie die gebloeiery óf die borste hê nie. Ek het begin voel of ek in die mis lewe. My visuele persepsie het verander. Dit was asof alles verder weg was, asof die grond nie daar sou wees as ek trap nie.
Vandag weet ek sielkundiges noem dit ‘dissosiasie’. Ek was afgesny van wie ek was. Ek kon nie meer gou kaal badkamer toe hardloop nie. Ek was ’n mooi dogtertjie, en moes my nou teen vieslike ooms beskerm. Dit het allerhande depressies en simptome soos ’n veluitslag en onverklaarbare pyne tot gevolg gehad.
“Op hoërskool staan heteroseksuele dinamiek en magsverdeling voorop. Daardie paadjies wou nie vir my oopmaak nie. Ek wou nie my beenhare skeer of kort rokkies dra nie. Dit was erg dat die seuns almal groter was as ek. Ek het nie seksueel in seuns belang gestel nie, maar kon ook nie met ander gay kinders identifiseer nie. Ek het een keer met ’n juffrou gaan praat oor ek op onderwyseresse en meisies verlief geraak het. Sy’t gesê dis normaal dat meisies met mekaar eksperimenteer.
“Gelukkig was ek akademies sterk en goed in sport, en ek kon vir my ruimte skep deur ’n clown te wees. Ek het die moed gehad om van enigiets ’n grap te maak en kon stemme, aksente en TV-karakters naaap. Mense het gelag – en geluister.”
Robert se fotografieloopbaan het in graad 9 afgeskop. “Ek het atletiekfoto’s, veral van die mooi seuns se lywe, in die vierkant uitgestal. Ek het pakke foto’s van hunks aan meisies verkoop – secrecy guaranteed – totdat ek genoeg geld gehad het vir my eie kamera.
“My ma het by die plaaslike koerant gewerk, en ek het met die joernaliste vriende gemaak en soms in die donkerkamer gehelp. Ek het soveel geleer dat ek einde matriek ’n portefeulje gehad het wat ’n Mej. Suid-Afrika ingesluit het.
“Ná skool het ek as kadetfotograaf by ’n dagblad werk gekry. Teen daardie tyd het ek agtergekom hoeveel power daar in ’n vroulike liggaam lê. Vir my onderhoud het ek my kort rompie en cleavage onbeskaamd ingespan, en dit het dalk net gehelp om vir my ’n pos te skep.”
Robert het met vroue begin uitgaan. “Ek was bang iemand dink ek’s lesbies en het doelbewus ’n vroulike beeld geskep. Ek het verhoudings met mans probeer, maar ek kón hulle nie soen nie. Ek wou net weet hoe hul liggame werk. Ek het oor die jare verskeie langtermynverhoudings met wonderlike vroue gehad, maar daar was seksuele probleme, en die gedurige depressie.
“Op 21 het ek begin vryskut. Die eerste aktrises wat ek afgeneem het, was Lizz Meiring en Sandra Prinsloo. Met hulle aanmoediging het ek my kunsloopbaan op 23 begin. My uitstallings was suksesvol. Ek was besig om ’n prentjie te bou: lang hare, mooi lyf, glans – selfs ’n BMW Cabriolet, ’n verjaardaggeskenk. Maar my lewe was een groot performance, en tuis was ek depressief. Ek het geweet iets pas nie, maar gedink dié pyn is deel van vrouwees. My gewig het maklik met 20 kg gefluktueer. Ek het myself met lemmetjies gesny: ’n klassieke verskynsel onder transmense.”
“Ek het met ’n Amerikaanse vrou, Leigh, begin uitgaan en in 2003 in Texas gaan bly. Voor ek weg is, het ek my hare afgeskeer en butch klere begin dra. In Texas kon ek my nie meer besimpeld werk nie en geld om my dronk te drink, was daar nie; ek was my hanteringsmeganismes kwyt. Depressie is by my gediagnoseer, maar ek wou nie medikasie neem nie. Boonop was my vriendin se woonstel vol spieëls. Elke keer as ek stofsuig, het ek my in die spieëls vasgeloop.
“Een aand ontmoet ek ’n transvrou op die Internet. Toe ek oor transmans begin nalees, was dit asof ’n gordyn lig. Hierdie mense was nie freaks nie, maar dokters en argitekte en onderwysers met gebalanseerde lewens. Die skokwete het my getref: Ek is ’n man in ’n vrou se liggaam.
“Ek was doodsbenoud oor hoe Leigh sou reageer. Toe ek die bekentenis uiteindelik uitkry, sê sy net: ‘OK, fine. Does that mean you’re gonna leave the toilet seat up?’ “Ek het begin spiere pomp in die gim en het my borste gebind. Vroue het selfs met my begin flirt, maar sodra ek my mond oopmaak, was hulle verward omdat ’n vrou se stem daar uitgekom het.
“Toe ek en Leigh terug is in Suid-Afrika, het ek ’n sielkundige gaan sien. Voor jy met ’n mediese oorgangsproses begin, moet jy ’n tyd lank ’n real life test doen om te ervaar hoe dit voel om soos die ander geslag teloop, op te tree, te leef. Vir my was dit sinneloos; ek het bloot geleer hoe butch lesbiërs behandel word. Ná ’n maand was my sielkundige tevrede dat ek kon voortgaan, maar omdat ek ’n aktivis vir transgenderregte is, het ek ’n jaar lank uitgehou.
“Ek het my mansnaam en die dag waarop ek met hormoonbehandeling sou begin, gekies. Ek was geweldig bekommerd dat gereelde dosisse testosteroon my sou benadeel, en boonop sou ek voortaan dieselfde gesondheidsrisiko’s as mans loop. Wat as ek in ’n aggressiewe mens sou verander? Maar ek wóú my liggaam in lyn bring met wie ek was.
“Kort voor my nuwe ‘geboortedag’, 29 November 2006, is ek Frankryk toe vir ’n fotografiekonferensie. Omdat ek jare terug al gevoel het God verwerp my, doen ek nie kerke nie. Maar op ’n dag stap ek verby die Notre Dame in Parys en, moeg soos ek was, gaan ek in.
Terwyl ek daar sit, besef ek watter ongelooflike geleentheid dit is om een helfte van my lewe as ’n vrou te leef, en die ander helfte as ’n man. En net daar het ek toe ’n ‘Conversation with God’ wat die hare op my arms laat regop staan. Al wat ek kon dink, was dankie. My lewe was hard, maar amazing. Ek was so dankbaar vir die kans om ’n man te kon word, en dat my ma en my gemeenskap my nie verwerp het nie. Ek kon nie aan ’n enkele ding dink om oor te kla nie.
“Toe besef ek ek moet iéts vra, net om te wys ek glo. En ek vra ’n oplossing vir die feit dat Leigh nie in Suid-Afrika wou bly nie, en ek nie in die VSA nie. En omdat Gideon in die Bybel ’n teken gevra het, het ek dit ook gedoen. Ek het behoorlik by die katedraal uitgehuppel.
“Terug by die huis het ek dadelik gaan slaap. In ’n stadium maak Leigh my wakker met ’n koppie tee en sê ons moet oor ons verhouding praat. Sy het voorgestel dat ons dit beëindig ‘terwyl ons nog vriende is’, omdat ons nie die woonkwessie kon oplos nie. Ek kon my ore nie glo nie. Hier praat ek twintig jaar lank nie met my Vader nie, en Hy vra dadelik: ‘Wat kan ek vir jou doen?’ én gee my ’n teken. Dís liefde.
“Met die aanvang van my hormoonbehandeling het ’n kitspuberteit my getref. Ek het puisies en krampe in my bene gekry en ’n dramatiese seksuele bewuswording beleef. Een aand het ek vir ’n vriendin gesê dit voel of ek meer kleur in my het: daar was ’n ekstra laag rooi, en dit was sag.
“Intussen het ’n nuwe, ou liefde my aandag in beslag geneem. Ek het Sally, met wie ek in Mei vanjaar (*2009) getroud is, jare tevore ontmoet. Sy was destyds besig om skottelgoed te was en daarna het ek altyd aan haar gedink as ek skottelgoedseep ruik. Ons het ’n keer of wat uitgegaan, maar ek was emosioneel op ’n slegte plek en wou nie haar lewe omverwerp nie.
“Nou het ek Kaap toe gevlieg om Sally te gaan jag. Skielik was ek in ’n manlike ruimte. Ek was ’n spies wat vorentoe klief, nie meer ’n boom wat met wye takke in die wind staan en alles voel nie.
“Sally se suster het pas ’n tweeling gehad en soos altyd het ek, die vroue en die babas in die slaapkamer gekuier. Maar dié keer was dit anders. Die saam- en deurmekaargeselsery het my ’n kopseer besorg, en ek moes uitloop.
Ek het later teruggegaan, en besef toe as ek ’n ent weg staan, kon ek die stories volg. Nou kon ek mans se optrede in geselskap beter verstaan.
“Toe ons op ’n keer Kalkbaai toe ry, is ek deur emosies oorval wat ek nie kon verwoord nie. Ek kon elke skakering van die water sien. Ek wou huil oor die see – ek wou dit vashou en voel dis my see. Toe besef ek: ek het laas as kind so gevoel.
“Die proses van verandering was en is nie maklik nie. By tye het ek selfmoord oorweeg. Die mans in my familie het my nou nog nie verwelkom nie. Vir vriendinne wat teen patriargie gekant is, het ek die ‘vyand’ geword. Ek het twee jaar lank in doodsangs padblokkades vermy omdat ek soos ’n man gelyk en met die identiteitsdokument van ’n vrou rondgery het. Nou, te danke aan my betrokkenheid by die menseregteorganisasie GenderdynamiX, weet ek jy kan vroeg in jou oorgangsproses al nuwe dokumente kry.
“Maar Robert is nie meer ’n konstruk, ’n prent, soos wat Adéle Hamblin was nie. Ek is solied. My gewig, haarstyl en klerestyl bly konstant. Ek het relevante chirurgie gehad en dit was van my vreugdevolste ervarings. En ek is mal oor my vrou.
“Om dit op te som: I’m feeling great, baby. Ek like my lyf soos ek nou lyk.”
Kan my kat of hond ook Alzheimersiekte kry? Dis wat jy moet weet oor "canine…
Sodra jy dink jy het al die voorskrifte onder die knie, hoor jy daar is…
Het jy geweet jou baba of peuter moet letterlik leer om sintuiglike inligting te filtreer…
Genoeg vir 6 Bestanddele 625 ml (2½ k) tee-en-vrugtesap 30 ml (2 e) gelatienpoeier…
Buiten vir sy uitsonderlike talent as musikant en liedjieskrywer, is Len Muller ook bekend as…
Hierdie webwerf gebruik koekies.