In Marokko word ’n partytjie gehou wanneer ’n meisie begin menstrueer, en sy ontvang geld en geskenke. In Japan eet die gesin rys en bone wat rooi gekleur is. ’n Jong meisie van die Nuu-chah-nulth, ’n Indiaanse stam in die VSA, word alleen in die see gelaat. Sy moet terugswem en word toegejuig as sy die strand bereik.
In ons kultuur gaan die menarg of eerste maandstonde meestal ongesiens verby. Hoewel baie meisies dit seker so verkies, skep dit tog vrae oor die algemene sienings onderliggend aan hierdie versuim. ’n Gemeenskap vier dit wat vir hulle belangrik is. Is vrouwees dan nie belangrik nie? Is lewensoorgange iets waaraan ons ons skaars steur? Of is dit dalk ons liggame wat vir ons min gewig dra?
Die patriargie, oftewel die sosiale stelsel waar mans die meeste mag het, het vir seker die afwesigheid van rites op bepalende tye in vroue se lewe beïnvloed, sê dr. Ronell Bezuidenhout, predikant van die Fontainebleau-gemeente in Johannesburg.
“In al drie die Abrahamitiese godsdienste – die Christendom, die Judaïsme en die Islam – is vroue as minder belangrik beskou. In Mesopotamië in die tyd van die Ou Testament was verhale van vroulike gode byvoorbeeld algemeen.
In die Judaïstiese monoteïsme het God skielik manlik geword – met verreikende gevolge vir vroue en die waarde wat aan hulle geheg is. Die kerkvader Augustinus het te kenne gegee vroue is minder waardevol, want hulle is ‘minder man’.
“Wanneer vroue in die godsdiens gemarginaliseer word, raak dit ook hul lewensrol. Joodse seuntjies is besny – hulle koms is ‘gevier’. Vroue wat gemenstrueer het, was onrein. Hulle moes dikwels buite die stad in ’n tent gaan woon en deur ’n reinigingsproses gaan voordat hul mans weer aan hulle kon raak.
Ek het jare gelede in Suid-Afrika ’n sinagoge teëgekom waar daar ’n spesiale bad was, amper soos ’n swembad, waar vroue ná menstruasie ’n reinigingsritueel kon ondergaan.”
Hoewel daar baie pogings is om die geslagte op gelyke voet te stel, ook in kerke, lê die eeue oue gevestigde uitkyke baie diep.
Die min erg wat ons gemeenskap aan lewensoorgange het, het waarskynlik ook daarmee te doen dat ons verbondenheid met die aarde so effentjies is, sê Ronell.
“Die industrialisasie van die sewentiende en agtiende eeu en meer onlangse verstedeliking het ons in ’n groot mate weg laat beweeg van die grond. Ons is nie meer in kontak met die seisoene nie. Ek het twee jaar gelede my eie groente begin plant, net om weer in voeling met die siklusse van die natuur te kom.“
In vroeëre gemeenskappe is die wenteling van die seisoene, die groei en kwyn van die maan en ander sirkelgange in ag geneem en gevier. Dit maak sin dat fases in veral vroue se lewe soos menstruasie, swangerskap en menopouse belangrik was. Vroue se oorgange is meer ooglopend as dié van mans, en in primitiewe gemeenskappe is vroue met verwondering bejeën omdat daar kos uit hul borste gekom het en hulle kon bloei sonder om dood te gaan. Daardie aardsheid het ons verloor.
“Ons het ongemaklik geraak met ons lyflikheid. Adam beteken grond, en baie van ons gril deesdae vir grond. Higiëne word oorbeklemtoon; ons vat nie aan iets wat ‘vuil’ is nie. Menstruasie is baie persoonlik – jy word deur jou eie bloed gekonfronteer. Maar vroue is dikwels net vaagweg bewus van hoe dit lyk en ruik. Ons gebruik tampons en kyk weg wanneer ons hulle uithaal.“
Saam met die negatiewe houding waarmee menstruasie eeue lank bejeën is – as iets wat “onrein” is en selfs in die volksmond “die vloek” genoem word – is dit seker nie vreemd dat ons versuim om die aanvang of beëindiging daarvan te gedenk nie.
Die afwesigheid van sulke rites, sê Ronell, dui ook op een van die groot kwessies van ons tyd: ’n ongemak met ons liggaamlikheid en veral ons seksualiteit.
“Die ou Grieke se siening dat die denke belangriker en waardevoller is as die liggaam, vorm steeds deel van ons manier van kyk. Ek het dit ervaar toe ek in standerd nege my been in ’n motorongeluk verloor het. Ek het baie, baie lank buite my lyf en in my kop geleef. Ek het op die akademie gefokus en ses of sewe grade verwerf. Maar mettertyd moes ek die verskillende aspekte van my lewe in balans bring en integreer.“
As ons die fisieke oor die algemeen as “minder waardig“ beskou, staan die seksuele nog meer onder verdenking. “Die sogenaamde pelvic issue kom in talle gedaantes na vore. Een is dat daar nie rustig en openlik oor seks gepraat word nie, selfs met tieners wat begeleiding bitter nodig het. As seks in ons samelewing ‘genormaliseer‘ kan word, sal die prentjie anders lyk.
“Om ’n klip in die bos te gooi: hoeveel meisies of vroue se eerste seksuele ervaring word gevier? Ons kan nie iets vier wat in soveel voorskrifte en vooroordele vasgedraai is dat ons angstig of verleë raak wanneer dit ter sprake kom nie. “Ons ongemak met die seksuele lei onder andere daartoe dat ons bang is dat aanraking seksuele ondertone mag hê. Ons vat nie meer aan mekaar nie. Bejaardes, gestremdes en talle gewone mense ly hieronder en raak lyf- en hartshonger.”
Ons lyflikheid
Jacob Meiring, narratiewe teoloog en berader van Pretoria, is besig met sy doktorsgraad in teologie en lyflikheid. Dis ’n verrassende kombinasie, veral vir mense wat dink spiritualiteit en lyflikheid is teenpole van mekaar.
“Ons is nie altyd bewus van hoe belangrik lyflikheid is nie,“ sê Jacob. “Omdat ons grootword met die dualisme tussen denke (mind) en liggaam, fokus ons baie keer hoofsaaklik op ons emosies en gedagtes. In werklikheid ervaar ons die lewe deur ons lyf. Die liggaam vorm die basis van ons persepsies. Net deur ons liggame kan ons van die wêreld bewus word, en ons soeke na sin is ten nouste daarmee verweef. Hoe jy in jou lyf leef, bepaal die gehalte van jou verhoudings met ander, met die aarde, met God.
“Ons liggame is ook nie net fisiek soos ons dikwels glo nie. Ons eindig nie by ons vel nie; ons is deel van ’n sosiale opset. In ons gemeenskap is daar dominante narratiewe of kulturele ‘stories’ wat byvoorbeeld sê wat van jou ’n goeie ma of ’n mooi vrou maak. As jy oorgewig is, bepaal dit nie net hoe jy beweeg nie, maar ook watter emosies jy ervaar en hoe jy hierdie emosies verwerk. Die kulturele ‘storie’ oor oorgewig speel ’n groot rol, veral as jy dit jóú storie maak.
“Nog ’n voorbeeld raak aan die definisie van ’n ‘goeie lewensmaat’. As jy kanker het en chemo kry en jou man dring aan op seks, hoewel dit die laaste ding is waarvoor jy kans sien, voel jy jy moet toegee om ’n goeie vrou te wees? As sekere dominante narratiewe of ‘stories’ intiem deel word van ons belewing, kan dit ons lamlê. Dis helend om hulle raak te boor en te dekonstrueer, en te besluit om self die outeur van jou storie te word. Dit kan wel ’n lang en uitdagende proses wees, maar die bewustheid maak reeds ’n beduidende verskil.“
Jacob werk met die narratiewe benadering en gebruik soms lyfkartering of body-mapping om mense bewus te maak van hoe hulle in hul lyf leef. “Met body-mapping kan ons die persoon se liggaam op ’n groot stuk papier aftrek terwyl hy of sy op die grond lê, en dan kan die persoon die kaart met aantekeninge, simbole en kleur verryk. Ons het baie wonde of letsels op en in ons liggame. Dit word ’n insiggewende ontdekkingsreis.”
Afgesien van die kulturele “stories” wat na vore kom, soos die samelewing se eise ten opsigte van hoe ons moet wees, kan lyfkartering traumas uit die verlede ontlok.
“Die liggaam het ’n geheue; dit stoor trauma. ’n Vrou wat haar seun verloor het, kan dit byvoorbeeld in haar longe voel. Sy kry nie genoeg asem nie. Hierdie selherinneringe is dikwels moeilik om te herroep, maar lyfkartering maak dit toegankliker. Dit gee as ’t ware aan die liggaam ’n stem en help mense sin maak van toestande soos eetversteurings of chroniese pyn.”
Jacob se wegspringplek is nie algemene waarhede of dogmas nie, maar “mense se eie ervaring van lyflikheid. Ek luister na hul stories soos uitgedruk deur hul liggame. Ons ervaar elke dag klein geboortetjies en sterftetjies, en dit beïnvloed elke verhouding wat ons het. Ek help mense om deur stories sin te maak van hul lewe – met die lyf wat hulle het en is.”
Jacob se waarnemings wys hoeveel ons nog omtrent onsself, ons liggaamlikheid en die manier waarop ons in hierdie wêreld leef, kan ontdek. Al laat ons nie ons liggame karteer nie, kan ons meer bewus word van die fisieke basis van ons ervarings: ons is lyf, ons liggame het siklusse en fases, en ons mag dit erken en selfs saam met ander vier.
Rites en meelewing
Hoewel hierdie artikel op die benadering tot natuurlike mylpale in vroue se lewe konsentreer, kan rites en rituele ’n baie wyer rol in ons emosionele welsyn speel, glo Ronell.
“Ons laat soveel geleenthede verbygaan wat ons eintlik sou kon vier: die eerste keer dat ’n kind skool toe gaan, wanneer ’n kind die laerskool verlaat, of hoërskool toe gaan. Toe ek my eerste bra gekry het, was dit ’n okkasie in die sin dat daar iets van gemaak is om die familietafel, en gesê is: ‘Kyk wat hang op die draad!’
“Ons hoef nie net ‘goeie’ dinge te vier nie. Enige statusverandering, soos ’n egskeiding, kan met ’n ritueel geëer word. Pyn kan ook gevier word, anders dra jy dit alleen. Ek was ’n keer by die begrafnis van ’n swart vriendin se man, en ’n handdoek is oor haar kop gegooi waaragter sy kon huil. Afrika-tradisie het haar ‘toegelaat’ om in die openbaar te treur.
“In die ou dae was dit gebruik om ’n jaar lank swart klere of ’n rouband te dra nadat ’n geliefde dood is. Vandag weet niemand jy treur nie. Dis tot ons nadeel – ons kan gerus eerliker raak oor verlies. As jy mooi daaroor dink, eindig elke verhouding op hierdie aarde in pyn.“
Dalk is Ronell se insig die deurslaggewende een. As ons werklik vir mekaar omgee, as ons ’n ruimte kan skep waar die ander een veilig voel, en as ons sagter kan kyk met ons veroordelende oë, sal ons mekaar inniger ken en beter kan ondersteun. Met kreatiwiteit en veral tyd vir mekaar kan dié omgee uiting vind in rites en rituele om mekaar se ervaringe te eer.
Op die internet is daar talle aanbevelings oor die viering van die menarg – maak net seker jou dogter is gemaklik daarmee. Ma’s laat skiet gaatjies in hul dogters se ore, koop hul geboortestene of nooi vriendinne wat rooi of wit moet aantrek. Party vra vooraf waarvan hul dogters sal hou wanneer sy begin menstrueer, wat hulle help voorberei op die gebeurtenis.