“Ek was nie soseer bang om dood te gaan nie – ek was eerder vies omdat ek nog so baie wou doen. Ek was dan nog so jonk!”
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }So gesels Rikus de Beer, onder sy duisende aanhangers beter bekend as Jonathan van Radio Raps. Ons gesels oor wat alles vyf jaar gelede deur sy kop gemaal het toe sy lewe aan ’n draadjie gehang het.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }Kardiomiopatie, ’n toestand van die hartspier wat sy hart laat vergroot het, het hom met twintig persent hartfunksie gelaat.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }“Die dokters het nie gedink ek gaan dit oorleef nie – hulle het in ’n stadium selfs my ouers laat kom om te groet. Net daar het ek besluit: ek het net een lewe – ek gaan hom leef!”
Rikus het nie net sy werk as finansiële adviseur bedank en sy eie herwinbare energie-onderneming begin nie, maar sommer ook besluit om iets meer te maak van die komiese sketse waarmee hy gereeld sy vriende op ’n WhatsApp-groep vermaak het.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }Jonathan, die uitgesproke Oos-Randse karakter met sy kenmerkende “ôlrite”, skreeusnaakse (hoewel soms heeltemal onvanpaste) raad en die tennispet wat bokant sy een oor die lug intoring, is amptelik gebore. Binne maande was hy volksbesit en binnekort gaan selfs fliekgangers Jonathan op die silwerdoek in aksie sien.
“Seker maar. Ek was beslis ’n bietjie loud – ek was hoofdirigent, daai soort ding. Toe kry ek ’n rugbybeurs by die Universiteit van Johannesburg en ek skryf in vir ’n B.Com.-graad in entrepreneursbestuur. Mense het toe al vir my gesê ek moet ’n entertainer word. Maar waar begin jy?”
Rikus was ’n goeie rugbyspeler en lid van die Goue Leeus se 0/20-oefengroep tot hy vroeg in sy eerste jaar sy rug in ’n rugby-oefening gebreek het.
Die skielike gesondheidsprobleme het hom laat besef dat hy die enigste een is wat sy komediedrome kon bewaarheid. Sy vriende het gereeld sy lawwe WhatsApp-boodskappe vir hul vriende aangestuur. Een aand het ’n wildvreemdeling by ’n geselligheid vir Rikus vertel van ’n skreeusnaakse storie wat iemand vir hom aangestuur het.
“En daar speel hy my eie storie vir my, maar weier om te glo dat dit ek is!” vertel Rikus laggend. Net daar het hy besluit dis tyd om Jonathan se kaskenades op video vas te lê. Binne weke was Jonathan en Radio Raps ’n Internetsensasie.
Die akteur en TV-aanbieder John-Henry Opperman het die potensiaal in Jonathan raakgesien. Hy het Rikus gekontak en hom sedertdien gehelp om van Jonathan volksbesit te maak.
“Ek onthou nog die eerste keer toe ek vir John-Henry ’n stukkie stand up-komedie in Impala, ’n kroeg in Potch, gedoen het Dit was seker my swakste vertoning! Ek het gewonder wat my besiel het om te dink ek kan ’n komediant wees. Ek kon dit dan beswaarlik regkry om tien minute lank snaaks te wees. Hoe gaan ek ooit ’n uur hiervan op ’n verhoog doen, of daarvan ’n loopbaan maak?”
Maar ses maande en baie ure se harde werk later, het hy ’n gehoor van duisend mense by die Emperors Palace in Johannesburg laat skater en kort daarna is sy eerste DVD opgeneem. Sedert Februarie 2014, toe hy sy eerste, amptelike skerpskerts-vertoning as Jonathan gedoen het, het daar baie water in die see geloop.
Met ons onderhoud was Rikus al hard aan die voorberei vir die opname van sy derde DVD in November, en ’n uur of tagtig minute op die verhoog voor gehore van tot 3 500 mense is nie meer vir hom vreemd nie. Ons gaan hom ook vroeg in Desember die eerste keer op die silwerdoek sien in Jonathan, ’n komedie gegrond op die Radio Raps-karakter met dieselfde naam (lees onder.)
“Dis net die begin. Ek en John-Henry en Sallas de Jager, die vervaardiger, werk al klaar aan die draaiboek vir die opvolg,” vertel hy. “Ons beplan drie flieks, want die storie leen hom lekker tot minstens nog twee opvolgflieks.”
“Dis aan die begin baie moeilik. Jy kan dit net op die verhoog aanleer. Ek het al die internasionale meesters se DVD’s gekyk en by almal iets geleer. Die belangrikste is dat jy jou eie stem moet kry en dat jy jou tegniek moet verfyn. Dit raak gelukkig makliker sodra jy op jou gehoor ingestel is. ’n Mens kan jou gehoor ook later ‘lees’ om te sien wat werk en wat nie.”
“Michael McIntyre, Robin Williams en Eddie Murphy,” rits hy die name sonder huiwering af. “McIntyre is my held! Sy menslikheid is opvallend en as hy iets sê, sien jy jou in daardie selfde situasie en dis eintlik hoekom jy lag.”
Rikus besef Jonathan se Radio Raps-kaskenades is dalk nie vir almal ewe snaaks nie.
“Ek dink ons het almal so ’n stukkie Jonathan in ons. Hy draai nie doekies om nie maar hy het ’n goeie hart,” sê hy oor sy karakter.
Rikus is glad nie soos Jonathan nie. Hy is nie luidrugtig nie, vloek in ons onderhoud nie eens een maal amper nie en probeer so onopsigtelik moontlik bly in die restaurant waar ons mekaar ontmoet het. ’n Goed gemanierde gentleman. Hy is pas terug van ’n week lange wegbreek en kan nie wag om sy twee honde, Hennie en Inge, later die middag weer te sien nie. “Kyk net hoe mooi is hulle,” vertel hy terwyl hy na foto’s op sy selfoon soek.
Alles aan hom verklap ’n goeie opvoeding.
“My ouers is die rustigste mense wat ek ken,” vertel hy oor sy kinderjare op ’n plaas naby Klerksdorp. “My pa werk by Senwes en boer ook, en my ma werk in die Hervormde Kerk se kantoor. Ek het ’n jonger sussie. My pa is eintlik ’n introvert, en my ma wou haar aan die begin doodskaam vir Jonathan. Sy hanteer dit nou beter vandat mense vir haar kom vertel het hoe baie hulle dit geniet,” lag hy.
Sedert hy net twee weke voor ons onderhoud die derde keer met hartmoeilikheid in die waakeenheid beland het, besef hy opnuut dat hy na homself moet omsien.
“Gelukkig herken ek nou al die tekens – ek was die keer net daar vir ’n dag – en my dokter het gesê ek sal moet gewig verloor, meer oefen en alkohol vermy,” vertel hy. Hy is dol op sy werk, hoewel dit soms vir hom moeilik is om mense te laat besef hy is nie soos Jonathan nie.
“Ek wil nie saam drink en tot diep in die nag kuier ná ek iewers ’n vertoning gegee het nie. Daardie tagtig minute op die verhoog is my werk, nie wie ek is nie. Mense verstaan dit nie altyd nie, ook nie dat dit uitputtend kan wees nie.”
Tog bly dit vir hom heerlik dat mense gek na Jonathan is. “Ek het in Amerika twee vertonings vir Suid-Afrikaners gegee en kon nie glo dat daar mense was wat tot agt uur lank moes ry om na my te kom kyk nie.”
Hy is steeds verstom oor wat die karakter vir mense beteken. “’n Vrou het eenmaal vir my ’n boodskap op facebook gestuur oor hoe Jonathan haar man, toe terminaal siek aan kanker, laat lag het. Ek dink dis waar- oor my werk gaan: ek wil mense help om ’n bietjie van al die moeilikhede in die lewe te vergeet, al is dit ook net vir ’n klein rukkie.”
Hy beskou sy sin vir humor as sy oorlewingsmeganisme.
Die bekendheid het nie na sy kop toe gegaan nie.
“Ek het sedert my universiteitsdae nog dieselfde vriendekring – hulle hou my nederig. Toe ek in die hospitaal daardie eerste keer so tussen lewe en dood gehuiwer het, was daar altyd so vier of vyf pelle om my bed. Ek het besef hoe kosbaar vriende is. Dis hoe ’n mens jou rykdom op aarde meet – nie aan besittings nie.
“Ek het toe ook besluit om alle negatiewe mense en dinge uit my lewe te sny. Dit was ’n bewustelike besluit – ek hou regtig nie van onnodige drama nie.” Sy vriendin van die afgelope paar maande, Kaylee van den Berg, dra ook tot sy kalmte by. “Maar sy het ’n wonderlike sin vir humor en kan heerlik lag!”
“Ja, ek dink nogal so. Ek is nou baie rustiger – ek dink dis omdat ek nou my droom kan uitleef om mense te vermaak. Vroeër was ek baie luidrugtiger – ek het onophoudelik gepraat. Ek was beslis ’n gefrustreerde entertainer.”
Dis vir hom belangrik om elkeen van sy verhoogoptredes met ’n positiewe boodskap af te sluit, al word dit ook met humor verbloem. “Ek wil iets by mense laat waaroor hulle kan nadink.”
Wanneer het ouers genoeg gehad van hulle dertigjarige se drome om ’n skerpskertser te word? Toe Jonathan ’n groot komediekompetisie verloor, verdrink hy sy sorge so deeglik dat hy sy pa se splinternuwe bakkie in ’n stuk skrootmetaal verander. Net daar besluit sy pa (Eric Nobbs) en sy ma (Rika Sennett) die jongste kuiken moet nou die nes verlaat. Hy word die eerste keer gedwing om sy eie potjie te krap, maar waar begin ’n mens? Jonathan besluit om ’n motorwag te word – dit kan tog nie só moeilik wees nie! Die ander wagte is minder geneë om hul gebied met die arrogante vreemdeling te deel, tot hul leier Hartog, vertolk deur Paul Eilers, besluit om hom ’n kans te gee. Of wil hy hom ’n les leer?
Daar, op die parkeerterrein in die bloedige son, leer Jonathan daagliks van verantwoordelikheid, respek, medemenslikheid, vriendskap en mededeelsaamheid. En, veral, van nederigheid. Maar toe raak hy verlief en hy en Hartog wen die Lotto … Hoe gaan hy dit hanteer?
Jonathan is prettige vermaak met volop kinkels wat ’n mens laat skaterlag. Dis beslis nie net vir Radio Raps-aanhangers nie. My kollegas het saamgestem dat die fliek ’n mens ook met ander oë na motorwagte laat kyk, want uiteindelik is ons almal mense, elkeen met ’n eie storie, eie drome en ’n hart vol hoop én spyt. En niemand wil regtig alleen wees nie.
Met Jonathan waag die bekroonde vervaardiger, skrywer en regisseur, Sallas de Jager, die eerste keer sy hand aan komedie.
Kyk hier na die lokprent:
MSI is opgewonde om ons eksklusiewe vakansieverkope aan te kondig, wat van 10 Desember tot…
Die lewe is te kort om al jou eie foute te maak. Leer by ander…
Los jy jou potjies se deksels oop of staan jou skoonheidsprodukte in die son? Dan…
Maak hierdie maklike gemmerbier - dit bevat nie gis nie! Dis die heerlikste afkoel-drankie.
Vonkelwyn is ryk aan geskiedenis Die tradisie om met vonkelwyn iets te vier word histories…
Met hierdie wenke sal jy soggens die spreekwoordelike gousblom eerder as die molshoop wees, al…
Hierdie webwerf gebruik koekies.