Deur Ilse Salzwedel. Foto: Leonie Scholtz
Sy het sewe jaar laas ’n boek gepubliseer, maar vir aanhangers van haar werk was die wag op Stormkind, wat vroeër vanjaar verskyn het, die moeite werd. Stormkind, ’n bedrieglik eenvoudige storie wat oorspronklik as ’n jeugverhaal geskryf is, het lesers én resensente bekoor, en ons nuuskierigheid oor die (bekroonde) skrywer daarvan geprikkel. Toe vra ons haar so ’n bietjie uit.
Bekroonde skrywer, gerespekteerde letterkundige, kok, wêreldreisiger, ma, ouma … Is daar ander beskrywings van jou wat ek uitgelaat het?
Panteïs, natuurliefhebber, opteller van ander mense se rommel.
Waar kom jou liefde vir stories vandaan?
Behalwe my kinderjare wat vol stories was, kon ek deur middel van boeke en stories die wêreld vol reis en avonture beleef. Ek het baie vroeg leer lees en toe agtergekom elke boek is ’n reis en ’n avontuur. Biblioteke is wonderlike plekke. Ons het arm grootgeword (my ma was al vroeg in haar dertigerjare ’n weduwee) maar ondanks ons finansiële posisie het sy altyd vir ons boeke gekoop. Ons eie, eie boeke.
Wou jy altyd ’n skrywer word?
Ek het reeds op laerskool begin skryf. In my hoërskooljare was daar die verwagting van my onderwysers dat ek vroeg sou debuteer. Ek is baie bly dit het nié so gebeur nie. Toe ek debuteer, was dit ’n sterk en onafhanklike debuut sonder adolessente hebbelikhede. Ek het nooit gedink ek wil my skryfwerk “my lewe” maak nie – dit is darem te serebraal. Dit was die driftigheid waarmee ek sekere dinge in die lewe wou aanspreek, wandade en onregverdighede, liefde en hartstog en woede en teleurstelling, dinge en gebeurtenisse wat my diep geraak het … Ek kon dit deur my verhale doen. Maar my lewe is gelukkig veel groter as my verhale – dis avontuurlik en uitdagend.
En as jy nie ’n skrywer was nie, wat sou jy wou wees?
Daar is baie beroepe wat ek sou wou volg: historikus, kenner van panteologie, veearts, beesboer, regter. Maar ek sou ’n hanging judge wees. Ek sal moet terugkom vir nog ’n paar lewens. Gelukkig glo ek wel in reïnkarnasie.
Jy is veral bekend as kortverhaal- en rubriekskrywer, wat ’n spesiale vaardigheid verg. Wat is jou geheim?
Ek is nie ’n bang skrywer nie en deins nie terug nie. Ek skryf oor temas wat uitdagend is. Maar ’n uitdagende tema is nie die enigste voorwaarde vir ’n goeie verhaal nie, want dit alles moet in ’n soepel en funksionele styl gedoen word. Ek weet eerlikwaar nie wat die “geheim” is nie, ek weet net ek is bereid om na die hartklop van die storie te luister.
Wat is die belangrikste raad wat jy vir voornemende skrywers het?
Ek het saam met Leti Kleyn ’n hele boek saamgestel met raad oor die skryf van verhale, Die Afrikaanse Skryfgids. Maar die belangrikste is dat ’n skrywer ’n leser moet wees, want jy as skrywer weet nie alles nie. Elke ander skrywer is ’n leermeester, selfs ’n vrot skrywer, want ’n slegte skrywer leer jou beslis wat jy nié moet doen nie.
Jy was nog altyd eerlik daaroor dat jy ook al die swaar kant van die lewe geken het, maar jy is weer gelukkig getroud en ’n ouma. Vertel ons van jou vreugdes.
My man, Johann Loubser, is die vreugde van my lewe. Ek het hom laat in my lewe ontmoet, al was ons kinders vroeër saam op skool. Hy is slim en sensitief met ’n onverbeterlike humorsin – én hy gee my al die ruimte wat ek nodig het. Ons eerste gesamentlike reis was na Ierland. Met ons vyftiende huweliksherdenking was ons weer soontoe en dié keer het ons op die windverwaaide eiland Inis Mór aan die weskus van Ierland ons huweliksbeloftes herbevestig. Ons het besluit dat ’n druïde die seremonie moes lei. Die seremonie, in die tradisie van ’n oeroue Keltiese ritueel, het in die ruïne van die eerste kerkie op die eiland, neffens ’n fontein, plaasgevind. Dit was ’n eenvoudige, diep emosionele gebeurtenis.
Die vreugde van my kleinseuns? Die geheime wêreld van ’n kind se gees fassineer my mateloos. Wat ’n vreugde is dit nie om ’n volledige gesprek met ’n klein siel te voer wat geen grense ken nie.
Jou passie vir kos is welbekend, en jy het ook al pragtige resepteboeke geskryf. Wat is die bekoring van kos en saam eet?
Dis die liefde wat my leer kook het. Ek het van kleins af kos gemaak (my ma is bekend daarvoor dat sy nié kos maak nie en eerder sal boeklees). Maar toe Johann in my lewe kom, het ek die sensuele plesier van kos ten volle ontdek. Ek is ’n slagter se dogter en ’n jagter se vrou, dus skrik ek nie vir vleis nie. Om met mooi vleis en pragtige produkte te werk is een van die vreugdes van my lewe.
Vertel ons van jou gunstelingkos. En as jy enigiemand (lewend of dood) vir ete kon nooi, wie sou dit wees, en hoekom?
My gunstelingkos? Alles! Veral ’n geurige bredie en ’n kerrie met karakter. Ek het géén fiemies nie en geniet dit om by mense te eet, al is dit eenvoudig. Maar as ek ooit ’n laaste ete moet bestel (gewoonlik doen ’n mens dit net voor jy galg toe gaan maar dan sal ek, die vet weet, níks wil eet nie!), sal dit maar ’n perfekte, brosgebraaide braaibroodjie moet wees. Ek werk graag met vleis, veral wildsvleis, en groente soos eiervrug, uie, sampioene, rissies en gemmer en interessante kruie soos brandnetel en marog. Subtropiese vrugte soos mango’s, koejawels, vla-appels en ook die sensuele saronvrugte bekoor my.
Ek sou vir Jeanne D’Arc wou nooi. Ek sal haar kos gee, en liefde, toewyding, respek, bewondering en dankbaarheid – alles wat sy nooit gehad het nie. Onder alle historiese figure is dit Jeanne wat my steeds aangryp. En Boudica. Vegter-vroue.
Wat is alles op jou emmerskop-lysie?
Ek het al baie dinge gedoen, maar my emmerskop-lysie is nog baie lank. Ek wil (weer en weer) gaan skubaduik en die wonderlike, stil lewe onder die see ervaar. Ek wil die tien oudste bome in die wêreld gaan opsoek (ek het al die oudste olyfboom op Kreta gesien) en ek wil nog duisende bome plant. Ek wil weer in die Tankwa se klipkoppe loop as dit reën. Ek het nog nie genoeg gereis nie, nog nie genoeg boeke gelees nie en ek het nog nie genoeg goeie rolprente gesien nie. Ek het nog ’n storie of meer wat ek wil skryf.
Waaraan bestee jy die meeste van jou geld?
Boeke, en dis nie ’n skuldige plesier nie, dit is noodsaaklik. Ek gee ook verstommend baie geld in ysterwarewinkels uit. Ek verstaan nie mooi watter bekoring die soort winkels vir my inhou nie. Miskien omdat ek van mense hou wat planne maak, en in ysterwarewinkels sien ek altyd iets wat ’n goeie patent is.
Jy reis baie. Wat is jou gunstelingbestemming? En as jy enige plek in die wêreld kan woon, waar sal dit wees?
Ja, ek reis baie. Dit bring die onrus en die vrede. Die oomblik as ek beweeg, vlieg, ry, in ’n trein of ’n bus klim, dan gebeur daar dinge met my. Van my beste verhale is op lughawens geskryf, binne ’n paar uur. Dit is seker die gypsy in my, of die feit dat my pa ’n treindrywer was, altyd op pad, altyd elders. Soos Stef Bos sing: “Ek reis onrustig en onseker, tussen die liefde en die leegte … ” Maar vir my is dit ’n kwessie van “tussen die liefde en begeerte, die klop van treinwiele op ’n spoor”.
Ek woon reeds op ’n paar plekke, en ek is dankbaar daarvoor. Ek woon (letterlik) in die oerwoud van Wildernis, en ook in die Tankwa. As ek kon, sou ek ook in Ierland wou woon, aan die verlate Weskus, die ruwe, ongenaakbare kus van Ierse digters en rebelle. Die Iere het ’n manier van dink en leef, en uitleef, wat aards én poëties is. Die beste skrywers ter wêreld kom uit Ierland. En Suid-Afrika.
Jy lewe met oorgawe en passie. Waar kom hierdie lewensdrif vandaan?
Daar is een ding wat ek nie kan verduur nie, nie van enige mens óf van myself nie, en dit is om lewend dood te wees, om gevrek te leef. Daar is soveel dinge wat ek nog nié weet nie, wat ek nog moet ontdek – niks is so wonderlik soos ’n nuwe ontdekking, ’n nuwe ervaring nie.
Só is Riana se Stormkind gebore
Stormkind is die verhaal van klein Jana, die “stormkind” waarna die titel verwys. Haar ma, Deidre, het met ’n besoek aan Ierland spoorloos verdwyn. Jana se pa en oupa en veral ouma Lien probeer troos, maar Jana moet self vrede vind, iets waarmee haar Boesmanmaatjie !X’uri baie help. Nes ouma Lien destyds by háár speelmaat Letjie Stamboom so baie geleer het.
Riana vertel die boek het ontstaan uit ’n sameloop van verskeie dinge. “My bewondering vir die Boesmans – hulle verwys nie na hulself as San nie, maar verkies om Boesmans genoem te word – wat dit reggekry het om so sintuiglik te leef, en my respek vir die wyse waarmee hulle in ’n ongenaakbare landskap oorleef het, was beslis faktore. Ek bewonder hulle vir hul respek en kennis van die natuur en die kunswerke wat hulle geskep het. Nog ’n inspirasie was my magtelose woede en verslaenheid oor hoe hulle so meedoënloos verdelg is. Het jy geweet daar is tot in die 1900’s nog permitte aan boere uitgereik om Boesmans te jag?”
Die boek is deur resensente beskryf as ’n mengsel van ’n plaasroman en magiese realisme, maar Riana sê sy het dit nie vooraf beplan nie. “Dis net hoe dit gebeur het. Toe ek oor die Boesmans gelees het, het ek ook die literatuur van die Suid-Amerikaanse sjamaans bestudeer, en uiteraard het die liriese, maar aardse toon daarvan my beïnvloed. Ek het nog altyd geglo dat Afrika-skrywers die eintlike eksponente van magiese realisme moet wees, omdat ons aanspraak kan maak op alles wat vervlietend en ewig is.”