*Hierdie artikel het in die Februarie 2015-uitgawe van rooi rose verskyn.
As jy mooi kyk, sien jy dalk nog verfkolle op my,” skerts Riana Nel toe sy vertel dat sy besig is om ’n vertrek by haar huis uit te verf. “Ek glo nie aan stilsit nie – ek het dit al beproef en dit werk nie vir my nie. Voor ek veertig is, is daar nog ’n klomp dinge wat ek wil doen.” Soos? “Soos om te leer klere maak. Toe ek klein was, wou ek ’n mode-ontwerper word. Ek loop nou klas en dalk sien jy my een van die dae in een van my eie skeppings op die verhoog.”
Sy lag baie en maklik, ook vir haarself, veral wanneer sy stories uit haar jeug vertel. Telkens sien jy die Namibiese hartlikheid by dié boorling van Windhoek deurslaan.
Sy vertel hoe bekommerd haar oorlede ma Heletjé was toe sy gehoor het haar kreatiewe jongste wil óók, soos ousus Sonia (die bekende sangeres Nianell), ’n sangloopbaan volg. “Daarom het my ma my aangemoedig om argitektuur te gaan studeer. Sonia het vir musiek geleef, en ons middelsuster, Erika, was weer heeltemal sportmal.”
Riana (32) se kreatiwiteit was darem van jongs af betalend. “Ek was op skool ’n regte entrepreneur en het met alles gesmous.” Sy skater toe sy onthou hoe sy geraamde prente aan onderwysers en almal wat belang stel, verkwansel het.
Ek was op skool ’n regte entrepreneur en het met alles gesmous
“Hoe groter die raam, hoe duurder die prent! En ek was die fudge- en die toffieappel-queen van die skool! Ek onthou dat ek selfs in ’n stadium tuindwergies geverf en aan my ma se graad eens verkoop het.
“Toe ek in standerd ses was, het ek met al my gesmous my eie reisgeld betaal toe ons kerk op ’n uitreik in Rusland was. Dis die wonderlikste plek waar ek tot nog toe was. Ons het gaan Bybels uitdeel en met die gewone mense oor God gepraat. Daar het ek besef ’n mens waardeer nie wat jy het nie. Ek onthou een tannie op ’n trein se intense vreugde toe sy vir die eerste keer haar eie Bybel kon vashou.”
’n Gesprek met Riana wip ligvoets heen en weer. Eers praat ons oor musiek, later oor geloof en tussendeur oor haar man, Cornel, of die musiekbedryf. Natuurlik praat ons oor haar loopbaan, en hoe haar musiek aanvanklik heeltemal op die gospel-mark gefokus was.
Riana is so ernstig oor haar geloof dat sy aanvanklik gevoel het God roep haar om slegs gospel te sing, maar in 2011 het sy die sekulêre mark betree. Dawerend betree! Van haar jongste album, Die regte tyd, is daar binne die eerste tien dae 20 000 CD’s verkoop.
Haar eerste album, Die moeite werd, het reeds die 100 000-kerf (dubbel-platinum) oorskry, en vyf nommereen-treffers opgelewer. In 2012 het sy weggestap met die Tempo-toekenning vir die gewildste pop-album, en by die 2013 Ghoema-toekennings het sy die gesogte titel van Liedjieskrywer van die Jaar met Johan Vorster gedeel. (Riana skryf ook liedjies vir kunstenaars soos Juanita du Plessis, Jay, Lianie May, Bobby van Jaarsveld en vele meer.)
Haar gewilde treffers, “Dans” en “Timbuktu”, is op die klankbaan van die romantiese komedie Semi-Soet gebruik, en “Maak oop jou oë” op die klankbaan van die prent Klein Karoo. By die onlangse Afrikaans is Groot-konserte was dit duidelik dat die sowat 80 000 konsertgangers gaande is oor dié spontane donkerkop wat ewe tuis in jeans en stewels as in aandrokke is.
Tipies Riana, bring sy ook haar geloof na die sekulêre verhoog. “Anders sou ek nie Riana Nel wees nie,” verklaar sy eenvoudig. “My man, Cornel, het gesê ’n mens kan enige platform vir die Here gebruik. Jy moet dit net in sy hande los om vir jou een te skep. Ek wil nie preek deur my musiek nie – ek wil bloot sing oor wat in my hart is. En in my hart is ek ’n evangelis, al van kleins af. Vandat ek kan onthou, wou ek gedurig oor die Here praat. Dis nie altyd maklik nie, maar as ek my kom kry, doen ek dit maar weer. God is my anker.” Nie dat dit beteken sy is perfek nie. Allermins.
“Ek gly baie, en daarom is dit noodsaaklik dat daar Iemand is om aan vas te hou.”
Ek wil my hart deel
Riana wil deur haar musiek hoop bring. “’n Liedjieskrywer skryf mos maar die stories van sy lewe. Ek wil my eie stories en lesse met die gehoor deel, al stel dit jou baie bloot wanneer jy in ’n liedjie jou hart so oopmaak. “Toe ek besluit om sekulêr te sing het my uitgangspunt dieselfde gebly. My musiek het nie eintlik veel verander nie. In byna elke liedjie betrek ek wel die Here iewers.”
Was dit ’n moeilike keuse om uiteindelik op ’n sangloopbaan te besluit? “Ek het altyd geweet ek sal sing, maar ek het tog baie daarteen gestry. Maar ek moet erken: sang is ’n baie rewarding beroep. Nie net oor die sang en die interaksie met die gehoor nie, maar ook omdat ek produktief kan wees en mense deur my werk bereik. Ek wil iets vir mense beteken. Ek soek in alles wat ek doen na die betekenis en sin van die lewe.
“Dis heerlik om ’n wonderlike vertoning te hê, maar nóg lekkerder as iemand ná ’n vertoning kom sê, ‘Sjoe, hierdie of daardie liedjie het baie vir my beteken.’”
Riana se spontane vriendelikheid en openhartigheid is opmerklik. Dis een van die redes hoekom haar aanhangers gaande oor haar is, maar haar sukses in die musiekbedryf bly steeds vir haar ’n kwessie. Sy sal jou gou vertel dat sy maar altyd bang is om grootkop daaroor te kry. “Ek is altyd in ’n binnestryd gewikkel. Ek is super-hard op myself, super-eerlik. Dit hou my op my knieë. Gelukkig is daar mense soos my man en goeie vriende wat soms sê ek moenie so hard op myself wees nie.”
Sy is nederig-dankbaar oor haar sukses. “Maar ’n treffer kan nie jou einddoel in die lewe wees nie. Dan gaan jy baie teleurgesteld wees. ’n Mens kan nie jou waarde aan jou sukses meet nie. Jy is waardevol omdat jy in Christus is en omdat Hy jou liefhet. Ek leer daagliks dat ’n mens nie perfek hoef te wees voor Hy jou sal liefhê nie.”
Riana noem haarself ’n “ideaist” – ’n skepper van idees. “Maar ek is nie goed met die uitvoer daarvan nie. Daarvoor het ek mense nodig soos Anneri Hugo, my agent, en Ilse de Beer wat vir my reklame verantwoordelik is. Sonder hulle sal ek nie in my loopbaan oorleef nie.” Ja, beaam Anneri, sy moet baie streng wees met Riana. “As sy ’n musikant hoor waarvan sy hou, wil sy hom of haar dadelik in haar band gebruik.”Dit was nie altyd vir haar maklik om met haar kreatiwiteit saam te leef nie.
Riana noem haarself ’n “ideaist” – ’n skepper van idees
“Op skool het ek soms maar dom gevoel, want ek was kreatief en nie noodwendig akademies nie en nie almal het waardering vir my kreatiewe kant gehad nie.”
Riana is inderdaad baie kreatief. Behalwe sing en liedjies skryf, is skilder en grafiese ontwerp ook twee van vele ander talente. Maar daar is ’n groot verskil in die manier waarop jy musiek en skilder benader, sê sy: “By kuns is daar nie ’n fout wat nie reggemaak kan word nie. Dit werk baie anders met musiek.” Interessant genoeg hou sy nie van die etiket “kunstenaar” nie.
“Dis iets waarteen ek nog my lewe lank rebelleer. Ek is ’n dromer, ja, maar ek hou nie van al daardie tipiese goed wat mense aan kunstenaars toedig nie. Ek is byvoorbeeld nooit laat vir ’n afspraak nie. Ek sorg altyd dat ek minstens ’n halfuur vroeg is. Onthou, my pa, Flip, is ’n oud-polisieman, ’n militêre man.”
Stiptelikheid is nie al wat sy by hom gekry het nie. Haar musikale aanleg en kunstigheid kom ook van haar pa af. “Hy het so baie talente. Hy skilder en kan enige instrument bespeel. Hy en my ma het ons altyd baie aangemoedig en baie geleenthede gegee om ons talente te ontwikkel.”
Sy het ’n spesiale plek in haar hart vir kinders, bejaardes en die huwelik as instelling. “Wanneer ek by geleenthede sing, maak ek altyd ’n ophef oor kinders en bejaardes en ook oor mense wat byvoorbeeld pas getroud is of ’n huweliksherdenking vier.”
By sulke geleenthede, vertel sy, skep sy sommer maklik net daar ’n liedjie, spesiaal vir hulle. “Dis vir my heerlik, en die rede hoekom ek nie met agtergrondmusiek sing nie. Dis makliker om woorde op te maak as om die woorde van ’n liedjie te onthou,” skerts sy. Haar klankingenieur weet al hy moet hierdie spontane liedjies opneem, want agterna kan sy nie noodwendig onthou wat sy gesing het nie.
Dis makliker om woorde op te maak as om die woorde van ’n liedjie te onthou
Vir die hartlike Namibiër, wat op 19 al haar tassies gepak en haar drome in Gauteng kom najaag het, was die aanpassing nie altyd maklik nie. “Man, jy weet mos in Windhoek groet almal mekaar,” vertel sy. “Dit was vir my nogal moeilik om hier aan te pas. Niemand groet terug nie. Ek is ’n mense-mens en hou nie baie daarvan om alleen te wees nie.”
Nie dat sy toegelaat het dat onvriendelike mense haar onderkry nie. Sy lag heerlik toe sy vertel dat sy selfs eenmaal vir wildvreemdelinge in ’n restaurant gevra het of sy die aand by hulle kan gaan televisie kyk omdat sy die eerste keer op die program Jukebox sou wees. “Wat is so snaaks?” vra sy toe ons almal begin lag. “Ek het nie DSTV gehad nie en ek wou my op televisie sien!”
Riana erken dat haar hart soms te klein is vir die bedryf waarin sy haar bevind. “Vir my soort werk moet ’n mens eintlik mos ’n dik vel hê, want jy is aan mense se menings oor jou en jou werk uitgelewer. En jy sien ook die seer raak in die mense wat voor jou sit. Empatie is ’n crazy ding. “Ek word sommer gou bewus van iemand se bui en ervaar dinge baie intens. Ek vra dikwels vir die Here hoekom kry ons met die sagte harte hierdie soort verantwoordelikheid.”
Sy lag toe sy vertel hoe maklik sy huil. “Ag man, oor alles – hartseer of mooi. Ek wou só graag hê Cornel moet op ons troue huil en toe sê hy so ewe vir my: ‘Maar dis nie hartseer nie! Dis ’n wonderlike dag!’”