Sy broer het net nou die dag gevra of hy nou klaar is met radio, vertel Rian van Heerden oor ’n koppie koffie. Hy is pas klaar met sy derdelaaste skof as aanbieder van Jacaranda FM se ontbytprogram. “Toe sê ek vir hom: radio never leaves you. Ek is nog nie heeltemal klaar nie.”
Hoe waar hierdie woorde is, besef hy toe iewers in die volgende 48 uur, want op 31 Maart 2017 – wat sy laaste dag sou wees – maak Jacaranda se stasiebestuurder die verrassende aankondiging: Rian bly nog drie maande aan.
Hoekom, wil ek later by hom weet. Het die dramatiese middernagtelike politieke gebeure van die vorige aand, toe pres. Zuma die minister van finansies en 14 ander ministers en adjunkministers afgedank het, iets met sy besluit te doen gehad?
“So iets, ja. Radio is my groot passie, en daar is nog te veel werk om te doen, te veel goed op my bucket list wat ek wil aftiek.” Soos maatskaplike opheffing, waaraan daar ’n reuse-behoefte is. En natuurlik heelwat mense in magsposisies om kwaad te maak, skerts hy. “Maar einde Junie maak ek beslis klaar.”
Sy antwoord is ’n bevestiging van iets wat ek tydens ons onderhoud reeds opgemerk het: Rian se dae as shock jock is ver agter hom. Die nuwe Rian is baie bewus van die mag van die woord en die invloed wat iemand soos ’n radioaanbieder op mense se alledaagse lewe en denke kan hê.
Die kentering het gekom ná sy gewraakte opmerking teenoor ’n luisteraar dat sy breindood is en haar by die Nuwe Hoop-skool vir leergestremdes in Pretoria moet inskryf. “Toe die woorde uit is, het ek besef ek moes dit nie gesê het nie, en ek is steeds spyt daaroor,” erken hy op sy reguit manier.
Voor dié voorval was hy ’n paar keer in die sop oor iets wat hy op die lug kwytgeraak het, maar nog nooit het dit hom so diep geraak soos hierdie keer nie. Luisteraars het sy afdanking geëis, en ’n vriendin het hom by die Uitsaaiklagtekommissie verkla. “Ek is só bly sy het dit gedoen, want dit was nodig,” sê hy vandag. Hy het sy werk behou, maar is beboet en moes op die lug om verskoning vra. “Ek het daardie boete verdien, en nie omgegee om dit te betaal nie.”
“Toe die woorde uit is, het ek besef ek moes dit nie gesê het nie, en ek is steeds spyt daaroor”
Hy het daarop aangedring om die skool te besoek en ook daar om verskoning te gaan vra. Daar, tussen die leerders van die skool, het hy ’n oomblik beleef wat sy lewensuitkyk vir altyd verander het.
“Daar staan ek en hulle kyk na my met hierdie vrolike, onskuldige gesiggies, en ek besef skielik die mag van woorde. Dit was humbling. Daardie dag het ek vir die eerste keer regtig begin dink oor wat ek op die lug sê. Ek het van toe af ’n groter bewustheid van die behoeftes en regte van ander mense. Ek het meer balans in my werk gekry.”
Nie dat hy skielik in ’n heilige verander het nie. Daarvoor is hy steeds te uitgesproke. Maar anders as voorheen, toe hy nie omgegee het om berug te wees nie en soms omstrede goed gesê het net omdat hy kon, wonder hy nou dikwels: hoe op aarde het ons destyds weggekom met alles wat ons op lug kwytgeraak het?
Rian het sy radiodebuut in 1992 op Tuks Radio (deesdae TuksFM) gemaak. Dit was die era waarin Howard Stern, ’n Amerikaanse radioaanbieder, die shock jock-konsep aan die wêreld bekend gestel het.
“Hoe meer omstrede jy op die radio kon wees, hoe beter. Niemand het eintlik oor die uitwerking van die gesproke woord gedink nie, of ons het bloot nie omgegee nie. Almal op radio wou berug wees – dis mos lekker! Dit het gegaan oor skok, skok en nogmaals skok.
“Nou wil ek nie meer opsetlik skok nie. Ek het ook ’n duidelike besef gekry van radioaanbieders se verantwoordelikheid om te help. Nie net om te help dat iemand sy dag met ’n glimlag of ’n bietjie hoop begin nie, maar ook letterlike hulp om iemand se lewe te verander. Ons radiomense het ook ’n plig om mense in te lig en met mekaar te help versoen.”
Maar, erken hy, dit tap ’n mens se energie. “Ek sou seker kans gesien het vir nog vyf jaar as dit nie so baie uit ’n mens geneem het om elke oggend vir almal wat luister hoop en energie vir die dag te gee nie.” Dis hoekom hy vasbeslote is om radio ná Junie vaarwel toe te roep – altans, vir eers.
“Ons radiomense het ook ’n plig om mense in te lig en met mekaar te help versoen”
Ons praat oor roem. Vir Rian is dit baie relatief. “Wat is roem nou regtig? Wie se maatstaf gebruik ons? Hier is roem gewis nie dieselfde as in die res van die wêreld nie. Hier is jy bekend in jou eie groep, maar dit beteken nie noodwendig jy is beroemd nie. Ek beskou Jacob Zuma, Julius Malema, Evita en Leon Schuster as beroemd. Maar ék is nie beroemd nie. Dalk berug, ja!” skerts hy.
Die gesprek draai na sosiale media en hoe dit mense se persepsies en optrede beïnvloed. “As daar een ding is wat ek nie kan verdra nie, is dit selfopgelegde onkunde. Daar is soveel nuusbronne – gebruik dit! Alles wat in die wêreld om jou gebeur, het ’n invloed op jou. Wees ingelig! En moet tog nie alles glo wat op sosiale media versprei word nie! Neem nou maar die Spur-rassevoorval, en die foto van die dogtertjie met die klapmerk op die gesig. Dis ’n foto van Amerikaanse dogtertjie wat op ’n bus geklap is en het opslae gemaak in die VSA, maar toe vat iemand die foto en verkondig vir die waarheid dat dit die Spur-dogtertjie is, en almal glo en versprei dit en blaas die haat net verder aan. Voor sosiale media was daar net so ’n paar malles wat vir jou traktaatjies oor byvoorbeeld die Illuminati gepos het. Nou deel hulle daardie twak op sosiale media, en almal slurp dit op as feite en hits mekaar aan deur dit verder te versprei. Niemand bevraagteken niks nie!”
Rian voel sterk daaroor dat ons almal ’n verantwoordelikheid het om te help bou aan ’n beter Suid-Afrika, veral in die onseker tye waarin ons nou gedompel is weens die politiek. Hy glo gewone Suid-Afrikaners kan die land vorentoe neem. “Ons kan nie meer rassisme toelaat nie. Ons moet eenvoudig iemand korrigeer wat daardie soort haat aanblaas. As jy dit nie doen nie, gee jy
as ’t ware jou seën.”
Vir Rian, wat eers teologie studeer het, en die Bybel al “sewe of agt keer” deurgelees het, is dit ondenkbaar dat iemand homself ’n Christen kan noem en ’n rassis kan wees. “Hoe kan jy God net vir jou en jou eie groep toeëien? Onthou ook maar: dit wat jy op sosiale media sien, is net deel van ons werklikheid. Daar is miljoene goeie mense in hierdie land wat net wil aangaan met hul lewe en wat versoening bly kies, en nie haat nie.”
Hoewel hy duidelik nie dieselfde Rian is as ’n paar jaar gelede nie, beteken dit nie almal hou nou skielik van hom nie. Dit weet hy maar alte goed.
“Kyk, jy praat mos nou eintlik hier met ’n man wat uit die dood opgewek is. Verlede naweek het daar gerugte rondgegaan dat ek doodgeskiet is.” Luisteraars se reaksie op sy “dood” het hom maar net weer daaraan herinner dat mense in die openbare oog uitgelewer bly aan die publiek se mening, verdiend of onverdiend. “Daar was mense wat baie bly was dat dit nie waar was nie, maar ja, daar was ook diegene wat gesê het hulle sal vir die skieter skietlesse gee dat hy volgende keer kan raakskiet.”
Dit slaan hom steeds stom dat die luisteraars wat die ongeskikste boodskappe stuur dikwels ook dieselfde mense is wat vir hom Bybelversies aanhaal, maar daarmee het hy ook vrede gemaak.
“Ek moes ’n dik vel ontwikkel in hierdie beroep, en het dit lank terug vir myself uitgemaak: daar is vier of vyf mense in my lewe vir wie ek die reg gee om ’n mening oor my lewe uit te spreek. Na hulle sal ek luister. Na die res – glad nie.”
Rian oor Rian en met Rian
Hy het geen twyfel dat sy pad vorentoe weer met radio sal kruis nie, maar voorlopig wag daar drie nuwe uitdagings: ’n eenmanstuk wat hy spesiaal vir die Innibos-kunstefees ontwikkel, ’n nuwe televisieprogram wat mense gaan laat regop sit, en sy outobiografie wat volgende jaar verskyn.
Moenie dink die boek gaan bloot Rian se storie van A tot Z wees nie. “Dis nogal moeilik om te besluit wat sit jy in, en wat laat jy uit. Dit sal waarskynlik gaan oor die goed wat ek eerder nie moes gesê het nie.” Hy bly ’n oomblik stil, dink ’n bietjie. Vervolg dan: “Of nee, eintlik moes ek dit tog gesê het. Want dit het groot debatte tot gevolg gehad.”
Later vanjaar gaan ons hom ook weer op kykNET beleef in ’n program “wat mense beslis aan die praat gaan kry”. Meer wil hy nie op die oomblik verklap nie, maar dis duidelik uit sy ondeunde glimlag dat hy nie kan wag om weer die TV-waters te roer nie.
Sy verhoogproduksie gaan Rian met Rian heet. “Dis ’n soort selfgesprek om die goed te vertel wat vertel moet word. En ek gaan nie terugstaan vir die onderhoudvoerder nie, hoor. Ek gaan myself grind. As jy al daardie stories bymekaarweef, gaan jy ’n prentjie kry van my en die tyd waarin ek geleef het.”
Daar is baie stories wat hy voel nog nooit vertel is nie. “Soos wat werklik gebeur het toe ek die aand ’n brief aan Rapport geskryf het om te sê ek is gay. Of die dag wat ek saam met Eugène Terre’Blanche op sy plaas deurgebring het ná sy ontslag uit Rooigrond-gevangenis. Sy perd het my met die kop gestamp, ons het sy ma se graf gaan besoek … ” Hy bly ’n oomblik stil, asof hy terugdink. “Eugène op vol spoed in ’n onderhoud was soos ’n stoomtrein!”
Gaan hy toer met die produksie? “Ag, ek sal maar sien. Dis vir my meer ’n platform om al hierdie stories te vertel as iets om mee geld te maak. Dit gee my kans om van aangesig tot aangesig met die publiek te kom. Dis maklik om agter ’n mikrofoon te sit en vir mense te sê wat jy dink hulle moet en wil hoor, maar om dit op ’n verhoog te doen, is iets heeltemal anders. Hulle kan jou gooi met iets, of uitstap.”
En het mense al? “Nog nie gegooi met iets nie, maar uitgestap, ja. En dadelik gebedsgroepies gaan stig om vir my te bid! En met my een vertoning in Pretoria is die onlustepolisie, kompleet met R4-aanvalsgewere, gestuur om vir my ’n dagvaarding te bring. En dit alles oor ek plakkate onwettig opgesit het. Al die wins wat ek met daardie vertoning gemaak het, het ek net weer so op regskoste en die boete uitgegee.”