Daar was onlangs ’n uitstalling, Marks of Change, van fotograaf Karin Schermbrucker in Kaapstad. Die onderwerp REKMERKE.
Jy verwag ’n swaar, gefabriseerde uitstalling oor die donker kant van die lewe, maar word toe heeltemal onkant betrap omdat die foto’s bééldskoon is. Die groter-as-lewensgroot foto’s wys die subtiele patroontjies wat rekmerke op die lyf ets, asof ’n potloodkunstenaar elkeen met ’n fyn, seker hand getrek het. Delikate lyntjies wat speels oor vrouekurwes kronkel en dans. Sommige rooi, maar die meeste silwerig-wit. Emma se lyntjies word ’n gul sonneblom oor haar koeëlronde 34-weke mamma-magie. Sam se dye wys sebrastrepies so kompleks verweef soos geen tattoeëerkunstenaar dit sou kon regkry nie. Mooi as ons maar net met ’n oop gemoed wil kyk, wys Karin ons. Elke rekmerk, sê sy, vertel die verhaal van jou eie wording. Want dit is wat rekmerke werklik is: die fisieke tekens van ons wording van meisie na vrou en van vrou na ma. Dis iets om te vier en te waardeer, want dit teken ons elkeen se reis na ’n nuwe lewensfase. Waar woorde. Bevrydend. En so bedoel. Die waarheid is dat die meeste van ons ons skaam vir ons “lelike” rekmerke. Ons sien nie die mooi raak nie, en waardeer nog minder die simboliek daaragter. Wat is rekmerke regtig? Hoe raak jy lief vir jou rekmerke?
Ons is nie gereed nie
Stria, soos die dokters dit noem, ontstaan nie omdat jy te vet geword het nie, verduidelik dr. Jana Rossouw, Kaapse ginekoloog. “Soveel meisies en vroue verwyt hulle allerverskrikliks hieroor, asof hulle iets verkeerd gedoen het. Dit is nie jou skuld, of iets wat jy kon gekeer het of veroorsaak het nie. “Stria is doodnatuurlik – sewe uit elke tien meisies het rekmerke. Wanneer jou vrouehormone tussen 10 en 14 begin funksioneer, ontwikkel sekere dele van jou lyf skielik vinnig, soos jou borste wat vergroot en jou heupe, dye en maag wat ronder word. Die vel moet ooreenstemmend rek, maar hoe jonger jy is, hoe fermer is die kollageenstruktuur van jou vel. Omdat dié dele binne net ’n paar maande uitsit, kan
jou vel nie vinnig genoeg rek nie, en ‘skeur’ dit, wat jy as rekmerke sien.” Dieselfde gebeur tydens swangerskap maar dit veroorsaak nie naastenby soveel angs by swanger vroue as by tieners nie, sê sy. “Vroue beplan om swanger te raak – hulle sien uit daarna, is goed ingelig oor rekmerke en is heeltemal bereid om die verandering wat moederskap meebring te aanvaar. Hulle kry immers ’n begeerde, kosbare baba in ruil daarvoor. “Tieners word deur hul hormone oorval. Hulle het geen sê daarin nie en geen keuse nie. Baie is maar net tien en glad nie emosioneel gereed vir die vinnige ontwikkeling van hul lyfies nie.”
Ja, hulle hoor dat hulle gaan menstrueer maar hulle verwag nie al die ander drama soos aknee en rekmerke, en dat hulle nie almal standaard-modellyfies gaan hê nie – en dat dit ook goed en reg is. Hulle word getakseer op hul voorkoms en voel ontsettend verwerp as hulle nie “inpas” en soos hul maats lyk nie. Hul rolmodelle is modelle, eerder as werklike vlees-enbloed vroue. “Ons kinders word uiters behep gemaak met hul voorkoms, sonder realistiese perspektief oor wat ’n té skraal lyfie sonder rekmerke kan impliseer. Ons behoort ons dogters ook te vertel dat minstens 23% (amper ’n kwart) van hul liggaamsgewig uit vet móét bestaan om normal te ontwikkel omdat die faktore wat volwassewording beïnvloed eers geaktiveer word as hulle genoeg liggaamsvet het. “Ons behoort hulle te vertel dat rekmerke die norm is.”
Gesels
Maropeng Ralenala, kliniese sielkundige van Johannesburg, lag lekker toe sy vertel hoe sy as tiener daarop aangedring het dat haar ma haar onmiddellik dokter toe moet neem met haar “velsiekte”. “Net soos die meeste meisies was ek heeltemal onbewus daarvan dat rekmerke die reël is. Dit het my geweldig ontstel. Daarom verstaan ek hoe ontsettend selfbewus meisies daaroor is, hoe dit hul selfbeeld knou, hoeveel angs dit skep en hoe hulle hul liggaam as minderwaardig en lelik begin sien. “Jy as ma is die een wat jou dogter die beste kan help om vir haar lyf lief te raak. Gesels met haar, wys haar jou rekmerke en stel dit in ’n positiewe lig. Jy kan byvoorbeeld sê dat die patroontjies vir jou baie mooi is – soos Karen se uitstalling wys – dat jy meer rekmerke gekry het toe jy haar verwag het en hoe bly jy oor haar was, en dat jy hulle beskou as eretekens, want elkeen verteldat jy van dogter na vrou en van vrou na ma verander het. Sy moet ook weet dat byna alle meisies en omtrent die helfte van seuns rekmerke het. Hou alles daaromtrent mooi, normaal en gesond– wat dit in werklikheid is. “En gesels met jou dogter in daardie tyd wanneer sy vining begin ontwikkel, al sê sy niks nie. Baie is te verleë en voel te verneder om die gesprek aan te roer. Gee haar inligting en maak dit vir haar veilig om uit te vra.”
Daar is tog ’n paar dinge wat rekmerke kan maak, soos:
– vinnige gewigstoename
– steroïede
– asmamedikasie met kortisoon
– stres
– liggaamsbou as sport, as die spiere te vinnig vergroot
– MIV-medikasie
– Cushing- en Marfan-sindroom
Kan jy keer?
Jy kan probeer. Maar daar is nie waarborge nie. “Jou gene bepaal waarskynlik hoe maklik jy rekmerke kry,” sê dr. Ayesha Moolla, Kaapse dermatoloog. Niks neem die merke weg nie maar as dit jou erg pla, kan jy hulle ligter maak met:
Retinoïede en tretinoïen (akneemedikasie)
Moet gebruik word terwyl die merke nog vars en rooipers is. Maar dit is teratogenies (veroorsaak geboorte-afwykings) en nie geskik vir swanger vroue nie.
Laserterapie
Ook nie vir swanger vroue nie en alle velsoorte nie. Kry advies by ’n betroubare laserkliniek
Velafskilfering met AHA’s en soortgelyke middels
Geskik vir swanger vroue.
Massering met olies en rome
Sukses is wisselvallig. “Dit lyk asof ferm, gereelde massering met ’n olie of room by baie mense die vel soepeler maak, maar jy kan nie jou tiener beloof dat sy geen rekmerke sal kry nie, want dit help vir party glad nie.
“Aan die ander kant is dit al tegniek tot ons beskikking om die vel te rek. Dit maak dus sin dat swanger vroue en jong tieners wat skielik begin groei elke aand die vel met olie masseer.”