kategorieë: ReisOntspanning

Reis deur Pole: Warskou

Reis deur Pole: Warskou: Teks en foto’s deur Beatrix Roux.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Poolse inval deel 1: Warskou

Hierdie keer was Warskou en Krakow op die reislys: eersgenoemde omdat my buurvrou by ons vakansiehuis in Kroasië – kom ons noem haar A – ’n Warskou-vrou is. Ek is al jare lank gefassineer deur haar vertellings van die land se geskiedenis én deur haar fanatiese skoonmaaklus.  Enige land wat deur soveel moeilikheid is en nog steeds flukse huisvrouens oplewer, moet iets hê wat ’n mens dalk kan bottel.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

A en haar man, by wie ons in Warskou tuisgaan, woon in ’n baie gegoede woonstelblok. Met ons aankoms word ons op die hande gedra met bakkies neute, drie soorte sjokolades (ek eet van alles),  druiwe, koekies, koffie en wyn – alles gelyk. Dis net die voorgereg, want twaalfuur die nag kry ons caprese-slaai, ham, brood, kase, salami en egte Poolse suurkomkommers met ’n soort vaal opgekookte wors. Laasgenoemde lyk nie baie aptytlik nie, maar smaak heerlik.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Die volgende dag is ons uitstappie na die ou stad van Warskou, wat totaal en al platgeskiet is tydens die Tweede Wêreldoorlog en weer steen vir steen opgebou is in die ou, oorspronklike style. Die groot probleem het ontstaan toe die Pole hulle stroom-op gehou het met Hitler.  Hy het summier besluit om van almal en alles ontslae te raak, en sy droom was die bou van ’n nuwe stad volgens sy eie spesifikasies wat ’n toonbeeld van sy Reich sou wees.  Wel, die Pole het viervoet vasgesteek en … net murasies het oorgebly.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Warskou se pride and joy is die ou Koninklike Kasteel en toe die plundery begin, het die regering van die dag soveel as moontlik van die skatte gaan wegsteek en berg.  Op een stadium is die hele kasteel vol gate geboor en dinamiet daarin gedruk om die mure plat te skiet. Die Poolse nasie het ná die oorlog self as vrywilligers begin herbou aan die kasteel.  Ambagsmanne, kinders, ingenieurs en huisvrouens het sy aan sy die kasteel herbou. Baie foto’s en beeldmateriaal is vandag in die Kasteel beskikbaar om te wys hoe die mense kom werk het.

My persoonlike hoogtepunt tydens die besoek aan die kasteel was die ongelooflike houtvloere en houtwerk binne.  Elke kamer se vloer het ander patrone en ontwerpe, en die plakpapier is in die oorspronklike ontwerpe herdruk. Die borduurwerk van bedkopstukke in silwerdraad en diep kleure fluweel wys op ’n vergange era van prag en praal.

Later stap ons na die groot, oop Markplein en sit lekker in die vaal sonnetjie en bak.  Op hierdie plein is die restaurant van ’n baie bekende Poolse chef, Magda Gessler (so ’n vroulike Gordon Ramsay), wat ook haar eie kookprogram op TV het.  Die ingang is vrolik en kleurvol. Ek gaan loer net skelm in, want as ek na die pryse kyk, kan ek sien ons moet nog almal help afbetaal aan hierdie prime spot.

Ons stap na die ou stadsmure  – oorblyfsels uit die Barbican era. Ons drie vroue spring voor ’n klomp jong Engelsmannetjies in om ’n foto te neem. Hulle is skoon bewerig ná die senior aanslag op hulle!

Die beroemde komponis Chopin is in Warskou gebore en oral waar jy loop, dartel sy melodieë uit kafees en snuisterywinkels.  Ons het nie tyd om na sy museum te gaan nie, maar hoor dit is die moeite werd.

Later soek ons ’n lekker restaurant vir eg-Poolse geregte.  Ek en my een reismaat sien ’n heerlike pub/restaurant reg langs die ou stadsmuur, maar ons ryk Poolse vriendin trek haar neus op en ons sleepvoet agterna.

Pierogi (Foto Pixabay)

Ons kry tóg ’n oulike klein restaurant met dumplings (Pierogi) wat gevul word met enigiets van aartappels,  sampioene, soetmelkkaas of kool tot selfs aarbeie of pruime.  Verder bied die spyskaart ook Kotlet Schabowy (eintlik maar Wiener Schnitzel) in ’n hoender-, kalkoen- of varkweergawe. Dit word bedien met kapokaartappels en opgekookte kool of sauerkraut.

Ek besef ook gou die Pole is effens behep met sop; die gewildste is beetsop met stukkies aartappel en groente by. Die Zurek of sourdough soup het my bietjie deurmekaar gehad. Is dit nou brood, of is dit ’n oorskietbredie?  Ek het wel by die tafel langsaan geloer en gesien daar dryf aartappels, ’n tipe wors en ’n gekookte eier in die bakkie.

Zurek (Foto Dar1930/istock images)

Die beste ontdekking op die spyskaart is egter die “glühwein”. Ek drink myne ’n bietjie vinnig en lag gou-gou baie uitspattig.

Die volgende dag vertrek ons na Krakow per trein, en ook net betyds. Die Poolse vriendin het ons gevoer met kos van die oggend tot in die middernagtelike ure!

Beatrix (in die middel) en haar reisgenote

Lees ook deel twee van Beatrix se reis deur Pole: Krakau

Deel
Gepubliseer deur
Mariette Snyman

Onlangse plasings

Stel die verbruiker se ervaring eerste! MSI se reis van 20 jaar om ’n ryk van skootrekenaars te bou

’n Nalatenskap wat daarop gebou is om hul verbruikers te verstaan  Oor die afgelope 20…

11 hours Gelede

Het jy wat dit vat vir ‘Die brug’ se tweede seisoen?

Iewers op ’n eiland met ’n toring staan nog ’n skatkis wat R1 miljoen kontant…

17 hours Gelede

Smelt-in-die-mond-koekies

Maak 30 koekies • 500 ml (2 k) koekmeel • 80 ml (1⁄3 k) kakao…

18 hours Gelede

Geurige tamatie-en-wors-gebak

Geurige tamatie-en-wors-gebak. Resep deur Vickie de Beer   Lees ook: Geurige worsies met sampioene en…

18 hours Gelede

Gebakte Carbonara

Vir hierdie heerlike gebakte Carbonara druk jy die blokkies mozzarella tussen die pennepasta in! Resep…

18 hours Gelede

Ribollita

Ribollita is ’n Toskaanse sopbredie. Dit word soos ’n sop gemaak maar is so lekker…

19 hours Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.