Vertel ons van jou karakter?
Cindy is Hoender se ouer suster. Sy is moeg vir hul ma wat deur die huis rondsluip, niks doen nie en nie ’n voet by die deur uit sit nie. Sy rebelleer en kry ’n kêrel, Bruce, wat haar saans uitvat en amper nooit met haar ma gesels nie. Sy help nie veel in die huis nie en doen basies haar eie ding, afgesonder van haar gesin. Cindy is baie lief vir Hoender en sien baie van haar pa in hom. Sy kyk op na na haar jonger boetie en veral sy manier om sterk te bly.
Wat het jou laat besluit om vir ’n oudisie te gaan?
Ek het nog nie ’n rol soos Cindy vertolk nie en dit was juis vir my aangrypend. Daarbenewens is daar diepte in die teks wat nog verder aanloklik was, want terwyl die woorde een storie vertel, vertel die karakters se emosies ’n ander storie. Die teks is realisties, besonders en uniek. Ek het geweet dis ’n film waarby ek betrokke wil raak. Dit is vir my ’n groot voorreg om deel te kan wees van so ’n mooi film en met talentvolle mense te werk soos die drie jong sterre, Morne du Toit, Stefan Enslin, Lize Vosloo asook Antoinette Louw, Luan Jacobs, Mary-Sue Morris, Marne van den Burgh, Eduan Kitching en al die res.
Wat was die lekkerste en moeilikste deel van jou rol?
Die lekkerste was beslis die vertolking daarvan omdat Cindy soveel diepte het, maar tog nie sê wat sy wil sê nie. Terselfdertyd was dit ook die moeilikste deel.
Die tema is aangrypend. Dink jy kinders en/of tieners moet die fliek sien?
Ek dink persoonlik dit is geskik vir kinders en tieners, omdat dit ’n universele storie vertel van hoop. Dis ’n woes mooi storie met soveel hart. Verder is daar soveel fun oomblikke in die film.
Hoekom sal jy sê moet veral ouers die fliek gaan kyk?
Ek dink dit gaan baie vir ouers beteken om ’n storie deur ’n jong skoolkind se oogpunt te sien en hulle gaan ook soveel aanklank vind by die film. Dit is werklik ’n ongelooflike mooi film vir basies enige iemand.
Wat is vir jou die somtotaal van hoop?
Die somtotaal van hoop vir my is dat daar altyd ’n kans is dat iets positiefs uit enige iets kan kom. Omdat daar soveel negatiewe dinge in die lewe is, is dit altyd beter om die klein deeltjies wat positief is raak te sien.
Lees ook: Marisa Drummond oor Nul is Nie Niks Nie
Wat beteken vriendskap vir jou?
Vriendskap is iemand by wie jy kan unwind sonder om skaam te wees. Met ander woorde jy kan uit en uit jouself wees voor daai persoon. Vriendskap is verseker een van die belangrikste dinge in die lewe.
Wat sal jy nooit van die fliek vergeet nie?
Die drie jong akteurs se passie. Dit maak nie saak hoe oud jy is nie, jy moenie toelaat dat jou vlam vir die lewe ooit doodgaan nie.
Hou jy van Zombie-flieks?
Ja ek doen, veral Zombieland, die televisiereeks Walking Dead, Resident Evil ens. So effe van ’n vreemde opsessie. Daai deel van die film was ook baie aanloklik vir my… Maar volgende keer wil ek ook ’n zombie speel.
Nul is Nie Niks Nie begin op 7 Julie 2017 in fliekteaters landwyd wys.
Lees ook: Op ons radar: Nul is nie Niks nie