Reese Witherspoon: Blonde ambisie deur Margaret Gardiner. Hooffoto: Magnus Sundholm vir die HFPA
Big Little Lies is besonder goed ontvang. Dink jy almal het geheime?
Ek dink geheime is deel van menswees; dis deel van oorlewing. Dis noodsaaklik – ’n mens moet immers in die samelewing kan inpas. Dis baie interessant om te sien wat mense oor hulself onthul en wat nie …
Jy is ook as vervaardiger baie suksesvol …
Ek het vier, vyf jaar gelede ’n produksiemaatskappy begin omdat daar so min interessante karakters vir vroue aangebied is. Al die beste aktrises het dieselfde oudisies vir die eggenoot- of jongmeisie-rolle afgelê en dit het my regtig gepla. Ek het gedink hierdie akteurs het soveel meer om te bied, en daar is beter stories om te vertel en as niemand anders dit gaan ontwikkel nie, sal ek dit doen.
Ek het die skrywers en ateljeehoofde gebel en vergaderings gereël en vir alles uit my sak betaal. Dis hoog tyd dat daar meer geleenthede vir komplekse vrouekarakters geskep word. Ek dink vroue verdien dit om hulself op die skerms te sien en dat regte vroue in die vermaaklikheidsbedryf verteenwoordig word. Big Little Lies was ’n stap in die regte rigting, en vroue in Hollywood besef nou dat ons moet saamstaan om ’n uitwerking op die stelsel te hê.
Intussen geld die status quo steeds dat dit die vrou se rol is om by die huis te bly en kinders groot te maak.
Ek dink daar is ’n verandering ten opsigte van ouerskap-verantwoordelikhede en pa’s wat by die huis bly om die kinders te versorg. Omdat die vrou fisiek die lewe aan ’n kind skenk, is die band tussen ma en kind net anders, sterker. My grootse ouerskaples is dat ek nie in beheer is nie (lag). Jy dink jou kinders gaan soos jy wees. Maar eintlik is hulle heeltemal hul eie mense met hul eie geaardhede. Dis baie interessant. Ons weet nie wie hulle gaan wees wanneer hulle gebore word nie. Ons weet nie waartoe hulle in staat sal wees nie.
Hoe lank is jy en Nicole Kidman al vriende?
Ons ken mekaar al ’n geruime tydjie. Ek het Big Little Lies van Liane Moriarty gelees en dit dadelik vir my vennoot, Bruna Papandrea, gegee. Sy het dit vir Nicole gegee en gesê ons moet dit saam aanpak. Nicole het die boek oornag gelees. Sy en Liane was albei in Sydney en die twee het gaan koffie drink. Nicole het vir haar gesê dat ons die verfilming vinnig sal kan afhandel en toe het sy die regte daarvoor vir ons gegee. Die draaiboekskrywer David Kelley was mal oor die boek en was gelukkig beskikbaar – die res is geskiedenis.
Lees ook: Nicole Kidman: Sag maar sterk
Hoe is dit om twee tieners groot te maak?
Sjoe! Dis nie wat ek verwag het nie! Wanneer hulle nog klein is, is dit meer fisieke werk, soos om hulle op te tel, te voer, doeke om te ruil … Maar wanneer hulle ouer word, word dit meer emosioneel, want jy lei hulle deur al daardie eerste groot belewenisse, soos hul eerste liefde, eerste liefdesteleurstelling, eerste danse, eerste motors. Ons doen op die oomblik aansoek by universiteite en ek bedoel óns doen aansoek. Dis ’n gedoente, maar ’n ongelooflike ondervinding.
Waardeer jy jou ma nou meer noudat jy ook ’n ma is?
Vir seker. Ek bel haar nog gereeld om raad te vra (lag).
Hoe voel dit om iets in die veertig te wees?
Ek hou daarvan! Toe ek die eerste tonele van Big Little Lies gesien het, het ek die eerste keer my plooie raakgesien. Ek was mal daaroor. Ek het hard gewerk om daardie plooie te verdien (lag)! Dis ’n ongelooflike ervaring om vir die afgelope 25 jaar van my lewe voor die kamera te wees. Ek het so baie uiteenlopende karakters gespeel en in so baie mense se skoene gestaan. Dis ’n wonderlike lewe. Ek is gelukkig om ’n akteur te kan wees.
Hoeveel van jou eie ervarings van ouerskap het jy gebruik om die Big Little Lies-karakter te vertolk?
Ek het beslis uit my lewenservaring geput. Ek, Nicole en Laura (Dern) het gereeld skoolstories stel toe gebring en dit ook met David Kelley bespreek, wat soms dele daarvan in die draaiboek ingesluit het. Daar is soveel druk op ouers dat hul kinders suksesvol moet wees. Dis oorweldigend en ek sien dit oral, nie net in Kalifornië nie. Die angs wat die ouers ervaar, spoel oor na die kinders toe. Ek dink ons moet eerder op ons kinders se siele begin fokus. Kinders moet meer tyd hê om te speel, vriende te maak en goeie, positiewe ervarings te hê. Veral hoërskoolkinders word hierdeur geraak.
Wat is jou daaglikse take as ’n skoolma?
Een van my kinders ry met die bus. Een het al ’n eie motor. Ek neem een van hulle skool toe. Ek woon die sportbyeenkomste en kompetisies by. Ek help met huiswerk, ons praat oor eksamens en universiteite. Maar dis vir my veral belangrik om hul individuele eienskappe te ontwikkel. Dis seker omdat ek ’n kunstenaar is, maar ek voel dis baie belangrik dat hulle hulself moet kan uitdruk. Ek gee nie regtig om watter kleur hul hare is, of wat hulle aantrek nie (lag). Wanneer dit koud is, sal ek hulle aanraai om ’n baadjie aan te trek, maar ek ondersteun hul individualiteit.
In Big Little Lies sien ons hoe mededingend en uitspattig kinderpartytjies kan raak. Het jy al ’n klomp kinders na Disney On Ice geneem?
Nee, maar ek het al vreeslike dinge gesien (lag)! Baie duur partytjies vir baie jong kinders. Ons het eenkeer by ’n sewejarige se partytjie almal goudvissies gekry om huis toe te neem. Ek het gedink dis so onnodig. Wie wil nou daardie verantwoordelikheid hê (lag)! Mense kan baie uitspattig wees. Ek dink kinders hou van pizza en tjips. En koek. Is dit nie meer genoeg dat jy ander mense se kinders oornooi en drie uur lank na hulle omsien nie? Die meeste van hierdie dinge is net om die ouers te beïndruk. Dit traak die kinders glad nie.
Kry jy iets daaruit om saam met vroue te werk wat glad nie die geval met mans is nie?
Ek dink dit gaan oor die verbintenis in werkverhoudings. Wanneer jy saam met mans werk, is daar net ’n beperkte hoeveelheid verhoudings waaroor ’n mens kan praat: die pa-dogter, man-vrou, meisie-ou verhoudings. Dis al. Daar is baie meer dinamiese en komplekse verhoudings tussen vroue waaroor jy kan praat: susters, vriende, vyande … om maar ’n paar te noem.
Dink jy dis makliker om saam met vroue te werk?
Ek dink daar moet ’n balans wees. Ek sê nie vroue moet oorneem nie, maar ons is vyftig persent van die samelewing en daarom moet ons ook vyftig persent van die vermaaklikheidswese en ander posisies vul. Dit maak net sin. As ’n groter verskeidenheid mense saam aan ’n projek werk, is die kans op sukses net soveel groter.
Wat motiveer jou?
Ek glo aan harde werk. Dis baie maklik om lui te raak in ’n bedryf as jy al lank daarin werk – jy sit net rond en wag dat die telefoon lui. Maar dis nie hoe my kop werk nie – ek is te pro-aktief. Ek leef baie bewustelik, en ek kan dieselfde sê van die ander vroue in Big Little Lies. Ons werk almal hard daaraan om ons idees ’n werklikheid te maak.
Watter van die tradisies uit jou kinderjare dra jy ook aan jou kinders oor?
Dis ’n goeie vraag! Ons het altyd vriende in ons huis. Mense val heeltyd by ons in (lag). Dis normaal vir ons om by mense te gaan kuier sonder om hulle te laat weet dat ons op pad is. Miskien is dit nie so goed nie (lag)! Ek is nog baie “Southern” in my gewoontes. Ek het my ouma se antieke porseleinborde geërf, en ek is heeltyd besig om nog stukke by die versameling te voeg. Ek hou nie van mense wat hulself te ernstig opneem nie. Ek hou van gewone, “regte” mense. Ek het my kinders geleer perdry. Hulle is ook mal oor diere – ons het honde en katte. Ek wil nie hê hulle moet so bang soos stadskinders vir goggas wees nie (lag). Toe hulle kleiner was, het ons ook op ’n plaas gebly, nes toe ek ’n kind was.