Die sjirurg is ’n ouer man; ’n saaklike man. Hy bestudeer die mammogram en die radioloog se verslag vlugtig en stuur my na sy ondersoekkamer toe.
Ek is amper al gewoond daaraan om kaalbolyf te lê voor vreemde mans. Sy ondersoek is vinnig verby. Hy vra my hoe lank die knop al daar is. Hy hou nie van my antwoord nie, lei ek af aan sy afgetrekte mondhoeke. Dit is ’n onverantwoordelike vrou dié.
Terug in die spreekkamer teken hy vir my ’n prentjie van ’n bors. Die gewas word aangedui deur ’n groterige sirkel. Jy gaan beslis jou areola en tepel verloor, sê hy saaklik vir my, en moontlik jou hele bors. Daar sal van my limfkliere ook verwyder moet word om te kyk of die kanker versprei het.
Hy laat my toe om ’n keuse te maak. Ek kan eers onder die mes gaan, waarna die gewas weggestuur word vir ’n biopsie. As daar ’n mastektomie gedoen moet word, sal ek weer geopereer word. Die ander opsie is ’n ‘frozen biopsy” waartydens die patoloog in die teater is. Hy sal dadelik ’n uitslag gee en as daar ’n mastektomie moet wees, sal dit onmiddelik gedoen word. Ek kies die tweede opsie. Wat moet gebeur sal gebeur.
Dit moet so gou as moontlik gedoen word, sê die sjirurg. Dadelik. Ek sê nee. Ek het ’n radio-onderhoud wat voorlê en ’n verskyning by die Vryfees in Bloemfontein. Ek sal eers my verpligtinge nakom en dan kan ons voortgaan. Hy stem in. Die datum word vasgemaak. Dit sal die dag ná die Vryfees wees. Berei jou voor vir chemoterapie en radiasie na die herstelperiode, waarsku hy my. Daardie middag na werk begin ek navorsing doen oor pruikverskaffers in Johannesburg. Daar is ’n hele paar om van te kies.
Ek werk lang ure daardie week. Daar is baie wat gedoen moet word voor die operasie. Ek moet van my groot projekte oorgee aan kollegas. My kollegas se gebare van ondersteuning nadat die diagnose veldbrandstatus verkry, is oorweldigend. Ek is oukei, verseker ek hulle oor en oor. Niemand glo my nie, al is ek hóé oortuigend.
Die radio-onderhoud is ’n heerlik ontspanne geselsie en die verskyning by die Vryfees ook. My familie in Bloemfontein woon die geleentheid by en dit maak alles dubbel so lekker. Daardie aand kuier ons almal saam en daar word ’n foto geneem van my, my ma en my sussie saam. Miskien die laaste foto van ons waarin daar ses boobies is, skerts ons. Dit is ’n lighartige bymekaarkoms waarin daar baie gelag en geskerts word, maar daar is tog iets anders in die atmosfeer. Ek voel geseën om al my mense by my te hê op hierdie aand.
Die volgende oggend is is my gees boordenstoe gelaai met vrede. Iewers in die nag het die klarigheid in my kop geklouter. Hierdie ervaring is deel van my lewensreis. En dit gaan ’n nuttelose ervaring wees as ek dit nie reg benader nie. Ek gaan nuwe dinge van myself leer, nuwe mense ontmoet. En miskien kan ek ander help. Ek weet nog nie hoe nie, maar dit is wat ek gaan doen.
Kanker sal ’n instrument wees om ander te bemoedig.