Raak ontslae van jou emosionele bagasie deur Mariette Snyman
Skud dit af!
Stel jou voor hoe gaaf dit sou wees as ons elke dag onbelemmerd kon aanpak – sonder ’n enkele verwyt oor wat ek die vorige week versuim het, kommer oor iemand vir wie ek dalk meer behoort te beteken, of ’n nare herinnering aan ’n onreg wat ek vroeër aangedoen is.
Let maar op na die kwelvrae wat ongenooid by jou opkom: “Moes ek nie maar … ?”; “Wat as ek nie hulp aanbied nie … ?”; “Hoekom het dit tog gebeur?”
Dié gedagtes wys jy gee om. Die meeste van ons wil graag goed wees vir ons nabymense, vir die gemeenskap en vir onsself – gewoonlik in daardie volgorde! Maar as jy mooi daaroor dink, hou die bydrae wat jy lewer direk met jou eie geestesgesondheid verband. As jou hart lig is en jou kop skoon, kan jy ’n situasie raak opsom en sinvol optree. Worstel jy met emosionele pyn, is dit moeiliker.
Die gulde reël is dus: as jy wil help, help eers jouself!
Om vry te wees van emosionele bagasie is ’n grootse ideaal. Gelukkig maak die kleinste vraggie waarvan jy ontslae raak, al ’n verskil. Dié artikel fokus op blaam in twee baadjies: selfverwyt, en om ander vir jou ongelukkigheid verantwoordelik te hou.
Dis hulle skuld
Dis ’n feit dat goeie én slegte dinge met goeie mense gebeur. Maar wanneer iemand aan die kortste ent trek en nie in staat is om dit te verwerk nie, kan dit hul gemoed vergiftig.
“Hoe weet jy jy sleep ’n emosionele las saam? Wanneer jy jouself gereeld daaroor hoor praat, al het dit lank terug gebeur.” Só sê Ilze Alberts, Johannesburgse sielkundige wat in gesinsgedragstrategie en die verwerwing en bestuur van rykdom spesialiseer.
“Gevoelens, persepsies en uitdagings wat ons uit die verlede saamdra, kan ’n groot invloed op die hede uitoefen. Jy is byvoorbeeld ’n paar jaar gelede afgedank, maar jy skryf jou finansiële probleme steeds daaraan toe. Of jy vertel vir almal hoe jou man jou twintig jaar terug verlaat het en dat jy nou alleen is.
“Sodra jy besef jy praat in ’n wrokkige of bitter toon oor die verlede, moet jy die moontlikheid oorweeg dat jy in victim mode is. Hoewel dit nie lekker is om dit te erken nie, hou ’n slagoffer-situasie áltyd een of ander voordeel in. Dalk voel ander vir jou jammer, of stel hulle minder eise aan jou.
“In die tyd van die Romeine kon ’n moordenaar blykbaar gestraf word deur die lyk van die vermoorde op sy rug vas te bind. Mettertyd het hierdie afgryslike vrag sy dood veroorsaak.
“Om te voorkom dat jy ook ’n nare las saamdra, moet jy besef jy kan die lewe nie beheer nie. Jy kies nie dat ’n liefdesteleurstelling of ’n miskraam jou tref nie. Jy kies wel hoe jy daarop gaan reageer. En jou siening van die werklikheid gee die deurslag.
“Jou ervaring verklap deur watter soort lense jy kyk. Voel jy lank hopeloos, hulpeloos, en sonder eiewaarde, het jy moontlik in die pyn van die verlede vasgeval.
“Die menslike gedragspesialis dr. John Demartini sê ons kies elke dag om blomme of onkruid in ons gedagtewêreld te plant. Onkruid groei sonder dat dit natgegooi of versorg word. Wanneer ons dit verwyder, groei dit eenvoudig weer. Maar as ons dit uittrek en blomme op dieselfde plek plant, word die onkruid minder.
“Dis nie ingewikkeld om slagofferdenke deur besielende gedagtes te vervang nie maar dis harde werk. En jy kan dit net doen as jy wíl aanbeweeg.
“Baie mense weet nie hoe om ‘onkruid’ deur ‘blomme’ te vervang nie. Een manier is om ’n paar indringende vrae skreiend eerlik te beantwoord, soos:
• Watter voordeel het daardie aardskuddende krisis vir my ingehou?
• Wat het ek daaruit geleer?
• Hoe het dit my gehelp om die mens te word wat ek vandag is?
“Die Griekse filosoof Aristoteles het gesê ‘every stressing has an equal and opposite blessing’. Die antwoorde op jou vrae sal hierdie balans na vore bring. Van die ooglopendste voordele van emosionele pyn is dat jy veerkragtig en onafhankliker raak en dieper insig in die lewe kry.”
Kan jy self “onkruid” in “blomme” omskep, of kort jy begeleiding?
“Die meeste mense het hulp nodig om die ander kant van ’n saak in te sien. Lees ’n selfhelpboek, praat met ’n wyse vriend, luister na praatjies op die Internet, of woon ’n werkwinkel by. Ek beveel The Breakthrough Experience met dr. John Demartini van harte aan.
“Professionele hulp is wyd beskikbaar. Selfs mense in afgeleë gebiede kan aanlynsessies aanvra, en mediese fondse betaal ’n gedeelte van professionele tariewe. Die belangrikste is dat jy met die terapeut oor die weg kom.
“Gaan so gou moontlik oor tot aksie,” sê Ilze. “Help jouself deur hulp te soek!”
Jy lewer jy die waardevolste bydrae wanneer jou eie beker vol is
Dis my skuld
Selfverwyt is ’n subtiele vorm van emosionele bagasie. Baie vroue het grootgeword met die oortuiging dat dit belangriker is om te vra: “Is my mense gelukkig?” as: “Is ék gelukkig?”
Dit klink na ’n edel ingesteldheid om ander eerste te stel, maar weer eens lewer jy die waardevolste bydrae wanneer jou eie beker vol is. Op die lang duur lei opoffering tot wrokkigheid, wat verhoudings, jou gemoedstoestand en jou immuunstelsel benadeel.
Dis ’n kuns om ’n gesonde balans tussen jou eie en ander se behoeftes te handhaaf. En die eise kom in soveel gedaantes – van kinders, ’n lewensmaat, ouers, familie, vriende, werkers, troeteldiere tot die skool, kerk, liefdadigheidsorganisasies én jou werk.
In haar boek Natural Superwoman praat Rosamond Richard-son van die guilt trap: “Die fantasie van die volmaakte vrou sterf nie sommer nie. Is jy ’n voorslag by die werk en ’n betrokke ma, maar voel jy skuldig omdat jy kwalik uitblink in kook en huishou?
“Skuldgevoelens rig jou besluite en beheer so jou lewe. Omdat jy nie in beheer is nie, ervaar jy onsekerheid. Jy wil jouself gedurig regverdig en probeer vir jou gewaande tekortkominge vergoed. Verander die omstandighede wat jou skuldig laat voel, of verander jou denke!”
Vra jou bv. af hoe jou “tekortkominge” ander bevoordeel, soos om jou man in die geheimenisse van die kombuis in te lyf.
Het jý spesifieke riglyne wanneer eise aan jou deur kom klop?
Hoe besluit jy wie jy gaan help en watter vorm jou hulp gaan aanneem? Of sê jy outomaties ja omdat dit is wat ’n “goeie vrou” doen?
Kry hulp – 8 dinge wat jy nou kan doen om ontslae te raak vir jou emosionele bagasie
Wanneer jy met ’n ingewikkelde situasie te make het, kan die volgende dalk help:
- Stel vas op wie se gebied die situasie val.
- Vra jou af: Wat is die feite indien ek die situasie nie emo-sioneel inkleur nie? Byvoorbeeld: “my broer het sy werk verloor” instede van “my broer het sy werk verloor en nou voel ek verantwoordelik vir hom en sy gesin”.
- Hoe het jy tot die probleemsituasie, soos ’n vriend se geldnood, bygedra? Was jy enigsins betrokke? Moet jou steun groter wees as jou aandeel aan die probleem?
- Wees bewus van die tyd wat die probleem in jou gedagtewêreld opneem. Soms kan jy praktiese hulp verleen sonder om daglank daaroor te tob.
- Watter vorms van hulp (behalwe joune) is beskikbaar indien iemand ’n kwessie soos ’n regsprobleem moet oplos? Dink aan hulporganisasies, steungroepe, webwerwe, professionele hulp …
- Waar lê die probleem op jou prioriteitslys? Gaan jy tyd, geld of energie bestee om ’n kennis te help wanneer jou kinders aandag vereis?
- Hoe sou dit jou op ’n praktiese en emosionele vlak bevoordeel indien jy minder betrokke was? Sou jy dalk by ’n betekenis-voller projek of aktiwiteit kon uitkom?
- Kyk van twee kante na die probleemsituasie en vra jou eerlik af: wat is die voordele én nadele vir diegene wat dit ervaar? As jy die positiewe sowel as die negatiewe kan sien, verander dit jou persepsie.
Om te weet hoeveel verantwoordelikheid ons vir ander moet aanvaar, bly ’n moeilike kwessie. Ons wil ander se welsyn op die hart dra, maar daar is ’n fyn lyn tussen omgee wat iemand bemagtig en omgee wat hulle (en onsself) skade doen. Het ons maar Salomo se wysheid gehad!
Gelukkig kan ons ons emosionele bagasie met bewustheid hanteer deur verwyt en selfverwyt minder vatplek te gee. En wanneer alles te ernstig raak, moet ons dalk maar ’n slaggie lag!
Dis ’n kuns om ’n gesonde balans tussen jou eie en ander se behoeftes te handhaaf
Tien vrae wat jy jouself moet vra
Die volgende tien duiwelsadvokaat-vrae is bedoel om insigte aan te wakker wat jou kan help om versoeke realistieser te benader.
Dit geld nie noodwendig die aansprake van kinders nie – hulle is dikwels ’n spesiale geval.
Daar is geen regte of verkeerde antwoorde nie – hopelik slegs meer helderheid oor die omvang van jou verantwoordelikheid.
- Glo jy dat jy slegs ’n goeie mens is as jy alles vir almal is? Gaan drink jy byvoorbeeld koffie saam met ’n vriendin terwyl jy na alleentyd smag?
- Moet jy álles wat skeefloop, regstel – of dit nou ’n lewensmaat is wat die pad byster raak of ’n bejaarde ouer wat sukkel om die lewe te hanteer?
- Vra jy mense wat jy wil help hoe hulle die situasie ervaar en watter oplossing hulle in gedagte het, of maak jy aannames oor hoe hulle voel en oor wat behoort te gebeur? As iemand byvoorbeeld studeer en nie deurkom nie, reël jy sonder meer ekstra onderrig?
- Beskou jy diegene met die krisis onbewustelik as iemand met minder gesonde verstand, kreatiwiteit, ondernemingsgees of vaardighede as jy?
- Wat sou gebeur indien jy hulle toelaat om die probleem self op te los? Het hulle innerlike bronne of ander hulpmiddels, en kan die krisis daartoe lei dat hulle hul eie krag ontdek?
- Probeer jy ’n verhouding tussen ander partye fasiliteer? Verduidelik jy byvoorbeeld gedurig aan die kleinkinders hoekom oupa onaanvaarbaar optree sodat oupa nooit hul ware reaksie ervaar nie?
- Probeer jy iemand teen haarself beskerm, byvoorbeeld teen ’n oormatige kooplus? Wat sal gebeur as sy die gevolge van haar optrede ten volle ervaar?
- Is dit vir jou moeilik om die uitkoms van ’n knelkwessie aan ander oor te laat omdat ’n sekere uitkoms by jou waardestelsel pas? Sal jy jou byvoorbeeld skaam as ’n familielid se huweliksprobleme tot ’n egskeiding lei?
- Hoeveel beheer het jy oor die saak waarvoor jy verantwoordelikheid neem? Beheer en verantwoordelikheid loop hand aan hand. As jy jou ma se leefstylsiekte wil bestuur, is die vraag: het jy beheer oor haar dieet, oefenprogram, neem van medikasie, en veral haar uitkyk?
- Is die verhouding met diegene wat jy wil help ’n eenrigtingstraat? Is jy die een wat altyd ingryp, of is daar wedersydse steun?
Vir nog goeie raad om jou gelukkigste self te word, loer hier