Raad hoe jy ook ‘n moderne grys haarstyl kan kry Deur Suzanne Kotzé. Foto’s: Kristina Stojiljkovic. Hare: Reto Camichael en grimering: Cheryl Parker
Ons beste raad hoe jy ook ‘n moderne grys haarstyl kan kry
Kyk net hier na ons mooi grys haarstyl makeover met ‘n leser.
Salome Ehlers van Somerset-Wes het haar grys hare in ‘n lang styl laat uitgroei.
Voor
Salome se gesig is effens vierkantig. Die lae en lengte van haar hare het juis die vierkantige vorm daarvan beklemtoon. Haar hare is ook taamlik fyn. Die nuwe grys kleur pas haar goed, maar die styl en ou sonstrepies laat die grys effens geel vertoon.
Na
’n Asimmetriese bob speel help om die oog te flous sodat dit nie net op een plek gefokus is nie. Die punte is net effens langer as die breedste deel van haar gesig wat die gesigvorm versag. Dis ’n baie vleiende snit wat ewe goed vir langer of korter hare werk.
“Dis die kontras tussen die klassiek grys kleur en die moderne snit wat die styl so goed laat werk.” Reto
Laat jou grys hare so uitgroei
- Wees geduldig, veral as jy tans donker gekleurde hare het. Die kleur kan tot ’n jaar neem om uit te groei.
- Dit is duur. Jy sal intussen baie ligstrepies en behandelings nodig hê.
- Begin met ligstrepies om solank meer kleur in jou hare in te bring. Bly weg van donker strepies – dit moet lig wees.
- Gebruik produkte wat tekstuur skep om jou styl effens deurmekaar te maak sodat die hergroei minder sigbaar is.
- Gebruik mooi haarbande om die hergroei weg te steek.
- ’n Sterk, moderne snit is ’n moet.
- Jou hare se toestand sal aanvanklik verswak, want donkerder kleure beskerm die haarskag terwyl ligstrepies jou hare kan uitdroog. Dis belangrik dat jy juis jou hare moet beskerm en voed. Gereelde salon- en tuisbehandelings is noodsaaklik.
Versorging
’n Pers sjampoe en of opknapper een keer per week voorkom dat jou hare geel begin lyk en help dat die silwergrys behoue bly.
Stilering
Grys hare moet gesond en blink lyk. Gebruik produkte wat glans gee.
Vir nog skoonheidswenke en nuus volg gerus skoonheidsredakteur Suzanne Kotzé en assistent-skoonheidsredakteur en stilis Justine Kroes op Instagram @Stylvol.co.za
of volg hulle Facebook blad Stylvol