Quinne Brown-Huffman vou die moby wrap sagkens om haar suster, Esther, se middel en skouers. Sy drapeer die serpagtige babakombers om die pasgebore Francois en bind hom in ’n kangaroe-buideltjie teen sy ma se hart vas.
Dis ’n mooi toneeltjie wat hom een Saterdagoggend in die laatwinter tussen die suurlemoenbome en rose in Ma Salome se rustige tuin in Melrose, Johannesburg, afspeel.
Die gewese 7de Laan-aktrise en haar suster vorm ’n tjoklitboks-prentjie. Hulle het die afgelope nege maande hul intieme band verstewig. Quinne, wat deesdae vroue as doula in Amerika met geboorte bystaan, was haar sus se doula van die begin van die swangerskap af. Hulle het die geboorteproses per Skype en e-pos deeglik deurgewerk voor Quinne vir die geboorte hierheen gevlieg het.
“Ons Browns trek laer vir sulke dinge,” verduidelik Quinne die gekloek oor die nuweling en haar eie bekkige 16 maande oue Charlotte. (Sy kan van ’n hadeda tot ’n loerie aan hul geluide herken!)
Quinne het haar die afgelope jaar as doula bekwaam en daarmee kombineer sy haar liefde vir Metamorphosis en passie vir die geboorteproses. Sy beoefen Metamorphosis, ’n alternatiewe genesingsterapie, al verskeie jare lank. (Die terapeut doen ’n ligte massering op ’n kliënt om ’n intense bewuswording van die self en innerlike balansering te skep.)
Haar rol as aktrise is vir eers effe opsy geskuif, want om Charlotte se ma en Ryan se vrou te wees en om vroue by te staan met geboorte, is op die oomblik haar groot passie.
Ek dink ek is een van daardie mense wat ’n paar beroepe in een leeftyd sal hê
Sy is in 2006 met die Amerikaner Ryan Huffman getroud. Sy het hom leer ken toe sy Amerika in 2003 met ’n silwer Chevy platgery het. Sy en Ryan het hulle in 2007 in San Diego gevestig en sy het haar akteursloopbaan daar voortgesit en in verskeie kortprente waaronder This is Charlotte King gespeel. (Klein Charlotte is nie na die hoofkarakter genoem nie, maar wel na Quinne se groottante.)
Doula
Die saadjie om haar as doula te bekwaam, het al ’n paar jaar gelede by Quinne posgevat toe ’n vriendin gekwalifiseer het en die gedagte het verder ontkiem met Charlotte se geboorte vroeg 2011. Voor Quinne haar gekwalifiseer het, het sy reeds ’n uitgebreide belangstelling en kennis oor geboortes gehad.
“Ek het ’n wonderlike verpleegster gehad wat my bygestaan het met Charlotte, en my doula het my die regte leiding gegee.”
Die hele proses om gesertifiseer te wees duur meer as ’n jaar. Quinne moes minstens drie geboortes bywoon en die vroue bystaan van hulle 4 cm ontsluit is tot die einde.
Toe Esther einde laas jaar swanger word, het haar ginekoloog aanbeveel sy moet ’n doula kry omdat sy graag natuurlik geboorte wou skenk.
“En wie sou ’n beter keuse as my eie suster wees?” vra Esther wat sê sy ly steeds aan naskokke van die “emosionele ontploffing” van klein Francois se geboorte.
“Kyk net hoe verlief is my kind op haar baba,” sê Salome, wat nie genoeg foto’s van haar twee pragtige dogters en kleinkinders kan neem nie.
Daar is ’n swarigheid in die lug, want Quinne en Charlotte moet binnekort terug Amerika toe. Dan gaan die trane weer vloei en die Skype-lyne warm gesels word.
Quinne is die ousus en sy en Esther verskil twee jaar. En, vertel hulle, hulle het as kinders soms soos kat en hond baklei.
“Maar die sterk band was altyd daar,” vertel die kleinsus wat ’n rol gespeel het om Quinne se droomman uit te soek. Sy het Ryan ontmoet toe sy in Amerika ’n uitruilstudent was en het saam gekonkel dat die twee mekaar ontmoet. Esther het geweet as Quinne Ryan ontmoet, “gaan dit verby wees”.
Quinne vertel sy en Esther gesels twee keer per week ’n uur lank op Skype.
“Dis meer as wat ander susters wat naby mekaar woon, gesels. Ons kan oor enigiets praat, al verskil ons persoonlikhede baie”
Esther gesels oor die oorgang wat hul susterskap ná skool deurloop het.
“Ons het ’n nuwe verhouding gebou. Ons was as kinders altyd saam en skielik moes ons afsprake maak om by mekaar uit te kom. Dis vir my baie moeilik dat sy in Amerika woon. My hart was baie seer toe sy weggetrek het.”
Toe Esther in 2009 getroud is, het sy Quinne as “regisseur” van die troue aangestel.
“Quinne is van nature ’n kalm mens. Sy freak nooit uit nie. Ek wou haar aan my sy hê met my troue en met die geboorte van my eersteling was daar geen twyfel wie my doula gaan wees nie. Quinne was kalm lank voor sy ’n doula geword het. Dis deel van wie sy is.”
Esther sê sy is die effe hardkoppige, meer gespanne een, en Salome beaam dat Quinne die gesin se “hugger and kisser” is.
“Gee haar net kans en sy druk jou. Kyk hoe omhels haar kind die bome. Nes haar ma.”
Quinne lag oor haar ma en sus se beskrywings.
“Ek raak mos emosioneel namens almal in die familie. Dis maar so.”
Quinne het Esther se swangerskap van die beginfase beleef. Sy was toevallig in Suid-Afrika toe Esther gehoor het.
“Ons het dit met vonkelwyn, kos, trane en baie lag gevier. Ek het so na aan Es gevoel en my hart was seer dat ek moes terug Amerika toe en nie heeltyd by haar kon wees om te sien hoe haar swangerskap ontwikkel nie. Dis van daardie oomblikke wat jy wens jy bly nie so ver van jou mense nie. Ons moes maar oor die kuberruim gesels en kennis uitruil.”
Terug in Amerika het sy dadelik beplan om hier te wees vir die geboorte.
“Ek het Ryan laat verstaan ons beter die kaartjie bespreek, want daar is nog ’n baba op pad!”
Sy het van die begin met Esther oor al die opsies van die geboorteproses gepraat.
“Sy was die perfekte doula vir my juis omdat sy my so goed ken. Sy het my kans gegee om oor dinge te dink. Sy het geweet hoe om my diskreet te lei en my die regte inligting te gee sodat ek op die einde gedink het ek het dit uitgedink. Sy het my deur maande blootgestel aan kennis van waardeur my lyf gaan en deur die geboorte sal gaan.”
Quinne het Esther ook daarop voorberei dat dinge anders kan verloop en sy dalk ’n keisersnee sal moet kry as dinge skeefloop.
“Sy het my bewus gemaak daarvan dat ek nie ’n mislukking sou wees as ek nie natuurlik kan kraam nie. Ek het deur haar kennis besef my baba sal kom soos hy kies om te kom. ’n Mens moet die pad laat loop soos dit die beste vir die baba is.
“Ek is seker ’n moeilike een vir enige doula om te hanteer, want dis in my aard om na raad te luister, maar uiteindelik te doen wat ek wil doen. Quinne het my baie idees en kennis gegee, maar laat voel ék het uiteindelik die besluit geneem. Foeitog, sy het baie hard probeer!”
Esther was ’n paar dae voor die geboorte baie emosioneel. Veral toe haar kat, Mr Heckles, wegraak. Hy was haar baba voor Francois se geboorte.
“Dit was vir my en my man, Stephán, soos dood in die familie. Ná drie dae het hy verskrik en vol roet by die huis aangekom. Hy was seker iewers vasgekeer.”
Esther se kraamproses het eers op 41 en ’n halwe week begin en sy en Quinne kon ’n baie spesiale, rustige dag saam beleef.
“Ons het voor die tyd ’n lys liedjies op ’n CD gesit waarna ons deur my kraamproses sou luister. Die dag toe ek in kraam gegaan het, het ons die oggend eers vir ’n akupunktuursessie gegaan en rustig huis toe gestap. Ons was so kalm saam en het ’n dinosourus teen die babakamer se muur geverf terwyl ons na die klankbaan van die fliek The Mission, Stef Bos, Laurika Rauch, verskeie klassieke snitte en Josh Groban geluister het. Dit was ’n mooi dag saam. My man en ons ma moes gaan werk en dit was net ons twee. Saam met Quinne kan jy nie op jou senuwees raak nie. Sy het so ’n rustige energievloei. Ek was baie gelukkig en het geen pyn gehad nie. Ek kon deur die dag net die sagte kontraksies voel. Dit was ’n dag vol vrede.”
Die susters het saam die babakleertjies uitgepak en saam uitgesien na die mensie wie dit sou dra.
Quinne is ook later die aand saam met Esther en Stephán hospitaal toe.
“Ek en Quinne en Stephán kon deur die hele kraamproses praat. Daar was ’n ongelooflike kalmte, soos ek dit wou gehad het. Dit het my gehelp om nie bang te wees nie. Ander mense is bang vir natuurlike geboorte. Ek was bang vir ’n keiser.”
Ongelukkig het Esther te veel bloeding gehad en het haar dokter besluit om ’n keiser te doen.
“Sy wou dit die aand al doen en ek was so dankbaar toe sy dit na die volgende oggend uitstel. Dit het my kans gegee om aan die gedagte gewoond te raak. Ons het daardie nag nie geslaap nie en baie gepraat en ek het dinge aanvaar soos dit gaan gebeur.”
Vir Quinne was dit anders as ander doula-ervarings omdat sy Esther baie intiem ken.
“Ek het meer aandag aan haar gegee as wat ek normaalweg as doula sou gee. As doula besoek jy die ma net twee of drie keer voor die geboorte en is jy op bystand van 36 weke af. Tot die baba kom, kan die ma my enige tyd bel. Meestal bel hulle as hulle die eerste kon-traksies voel. Gewoonlik staan jy hulle telefonies by tot die aktiewe kraam intree en die kontraksies twee tot vyf minute uit mekaar is. Dan gaan ek na haar toe.”
Die ma’s wat sy bystaan, weet sy is bereid om enige tyd daar te wees, maar gewoonlik respekteer sy hul privaatheid.
“Geboorte is so ’n private, intieme ding. Die meeste vroue wil nie te veel gesteur word nie. Ons mense is baie soos diere. Jy wil stil in ’n donker plekkie beskermd gaan kraam. Dis nie lekker as te veel oë na jou staar terwyl jy kraam nie.”
Sy verduidelik as doula is jy daar om die vrou gemaklik te laat voel en kalm te bly.
“Jy staan haar nie met die fisieke proses by nie. Dit doen die medici. Jy is daar as emosionele ondersteuning.”
Sy wil nooit as doula vir ’n ma voorskryf wat is reg en wat verkeerd nie.
“Die ma moet nooit voel dis nie haar keuse nie. Sy moenie ná die geboorte terugkyk en voel sy het nie keuses gemaak nie.”
Sy benadruk elke geboorte is anders.
“Elke baba het sy eie plan hoe hy in die wêreld wil kom. Klein Francois het sy eie plan gehad. Dit was sy keuse om met ’n keiser te kom en niks kon hom keer nie. Ek is net dankbaar ek kon daar vir hom en Es wees.”
Die twee susters koer en kwetter voort. Soos Quinne dit beskryf: “Ons praat Baba!”
Dis vir hulle onvergeetlike dae saam.
“My sussie was so gelukkig om haar seuntjie ná ’n uitdagende geboorte te ontmoet. Die kraamproses was nie soos sy beplan het nie, maar sy het die uitdagings aangepak. Met Francois se geboorte het ek weer besef geboorte is ’n getuienis van een van die belangrikste reise van ons lewe: wanneer ons ons kinders gaan ontmoet. Saam met Esther het ek ’n wonderwerk beleef. Iets wat ons hegter as ooit bind.”