Gelukkig is bergfiets een van die sonderlinge sportsoorte wat die hele gesin saam kan geniet. Dis te sê as jy Job se geduld en ’n besonder sonnige persoonlikheid het. Probeer vir drie ure saam met jou geliefde ry terwyl hy voor in die koor trap en jy bloed sweet saam met die agterosse. En as jy eindelik uitasem die groepie inhaal wat vir jou staan en wag, sê hulle; “Nou ja toe, almal is hier; kom ons ry.”
Dis seker waar die woord “mansslag” sy ontstaan het. En ek is seker hierdie scenario tel onder die geleenthede waar versagtende omstandighede in ag geneem gaan word om dit nie strafbaar te maak nie.
Of dalk is jý die ligvoetige wildsbok wat voor wil ry en nou met daai einste Job se geduld en bomenslike sonnige geaardheid na twee kilometer stop vir ’n ruskans en eetdingetjie omdat manlief onfiks is en die kinders honger is.
As enigeen van hierdie tafereëltjies vir jou bekend klink, sal jy weet dat gedeelde ervarings soms eerder klippe in jou pad rol as dit gelyk maak.
Tog is daar bergfietswedrenne wat die mooi in jou na vore bring en verhoudings koester.
Einde Mei het ek en my dogter aan die Croc2Croc-bergfietsmarathon in Verlorenkloof deelgeneem. Dit strek oor drie dae en jy kies of jy die Cruise (100 km), Mild (161 km) of Wild (215 km) wil doen. Dit laat toe vir alle vaardigheidvlakke en omdat dit sirkelroetes is, slaap jy elke aand in dieselfde sagte warm bedjie.
Ek weet tente beskerm jou ook teen die elemente, maar as ek die hele dag my hart en gô op ’n fiets uitgetrap het aan 78 km, het ek die bederfies van ’n stomende bad en sagte bed nodig om my die volgende oggend te oortuig om wéér 70 km af te lê. En dit te geniet.
Dis presies wat jy in hierdie wedren doen. Boonop kan jy jou geliefde saamneem al ry hy/sy nie fiets nie en kan jul die ervaring deel. Of hulle kan die afstand kies wat hul vermoeëns pas. Hierdie moet een van die mooiste gedeeltes van die land wees en ons het sommer met die intrapslag op die Vrydag geweet ons is in bergfietshemel.
Dit moet gesê word dat die proloog op die Vrydag van 30 km liewer die “vaevuur” genoem moes word na ons teen opdraendes moes uitspook wat helaas vir ons te steil was om einduit uit te trap. Wat dit veral bitter gemaak het, was dat kinders wat nie ’n dag ouer as 12 gelyk het nie in ’n stofstreep by ons verbygestoom het en dan so ewe gemanierd oor hul skouers gevra het of die tannies okei is.
Dit het mens laat wonder of daar ’n woord soos “kinderslag” is?
Die meer as 40 km se enkelpaadjies is spesiaal vir die wedren deur werkers van die omgewing gebou en dit was voorwaar ’n hoogtepunt. Daar was behoorlik iets van alles en die omgewing het jou gedurig verras met nuwe vistas. Elke dag se uithaler kos is deur die fynproewers in die omgewing gemaak en ons het nie op ons laat wag nie.
Die wonderlike dik, warm sop na ons tweede dag se 78 km was die perfekte hersteldrankie op ’n koue dag.
Drie dae was vir ons die perfekte balans tussen uitdaging en pret sodat jy nog smiddae genoeg tyd het om te kuier en te herstel vir die volgende dag. Die roetes was baie duidelik gemerk en meer uitdagende gedeeltes is ook aangedui sodat jy nie niksvermoedend in ’n gevaarlike situasie beland nie.
Die haastiges kon Sondagmiddag betyds vertrek om die aand weer in Johannesburg te wees. Daar is ook die opsie, sonder enige ekstra koste, om jou eie kos te bring vir Sondagaand en eers Maandagogend die terugtog aan te pak. Vir ons was dit ’n wonderlike gesinsnaweek wat aan elkeen se persoonlike behoeftes voldoen het, maar waarin ons tog almal kon deel.
Vir meer besonderhede oor die Croc2Croc-bergfietsmarathon en inskrywings, besoek www.verlorenkloof.co.za en klik op Croc MTB.
* Lees ook my ander artikel oor die wedren “Wees aktief saam met jou kinders.” Klik hier