Portugal: Porto, Pinhau en meer deur Beatrix Roux. Foto’s Beatrix Roux
Ons huur ’n motor vir tien dae en ry flink uit Lissabon met behulp van Google Maps – sommer dadelik op die tolpad na Porto. Ons probeer een of twee maal om op die kleiner paaie te vorder, maar êrens moet die Portugese verkeersowerhede tog maar by Engeland gaan afloer en roundabouts heeltemal oordoen.
Porto
Ons nader die verblyf in Porto vanuit allerhande grondpad-afdraaie en onmoontlike straatjies, maar uiteindelik waai die gasvrou vrolik onder in ’n haarnaaldbog. Natuurlik is daar Port as verwelkomingsdrankie en die gasvrou wys ook waar die naaste kafee en goedkoopste restaurant is – letterlik ’n spoegie van die voordeur af.
Ons besluit op die geel hop-on hop-off bustoer en ry vir die lekkerte sommer ’n paar keer heen en weer. Jy kan weliswaar die kleinerige middestad van Porto per voet verken, maar die busroete neem jou ook langs die see en tot by die hawe en maak ’n laaste stop by Gaia (waar port al vir eeue gestoor word).
Die bustoer oriënteer jou goed en om die toer mooi in te wy, klim ons naby die beroemde boekwinkel, Livraria Lello, af. ’n Toegangskaartjie van 5 Euros en ’n lang ry by die ingang gee jou toegang. Jare voor die Harry Potter-boeke het JK Rowling saam met haar man in Porto gewoon en die trappe in die flieks is geskoei op hierdie boekwinkel se asemwegslaan-trappe. Daar is voorlesings en beelde en ’n magdom boeke. My vonds van die dag is ’n geïllustreerde boek oor Frida Kahlo. Dit is in Portugees geskryf, maar so mooi dat dit my min skeel.
Die stasiegebou het blou teëlwerk wat van vloer tot dak verhale uit die geskiedenis uitbeeld. Oral maal toeriste om dit te bewonder. Buite skel ek mooi op Afrikaans as ’n ongeskikte taximan ons nie huistoe wil neem nie.
Op dag 2 sit ons die bustoer voort en gaan draai by die Porto-hawe en Tagusrivier vir nog Portproe en ’n rit op die rivier. Die Dom Luis-brug span hoog oor die rivier en historiese geboue, en sover jy kyk, versier teëlmure kerke en geboue. Die hawegedeelte is ’n hoogtepunt en hier kan jy maklik ’n volle dag spandeer. Hier eet ons vir die eerste keer die eg Portugese toebroodjie, Francesinha. Alles behalwe die wasbak is hier bymekaar gevoeg naamlik wors, steak, eier en skyfies versmoor in ’n oordadige kaassous. As dit nie vir al die stap en bulte was nie, het ons regtig aan cholesterol overload beswyk.
Later beweeg ons oor die Dom Luis-brug na Gaia wat vreemd genoeg as ’n heel ander stad gesien word. Hier sit vars seekosrestaurante ingeryg soos krale en dit is ook die Portmekka vir proe en toere. Let wel: Porto se naam kom nie van Port nie – dié lekkerte word in die Duoro-vallei verbou en stroomop na Porto vervoer vir verdere verspreiding.
Op dag 3 dwaal ons al met die groot inkopiestraat, Rua de Catarina, af en besoek die bekende Café Majestic waar kelners in strikdasse jou bedien en die koekporsies fyntjies gerangskik word op die bord. Ek neem nog talle blouteëlkerke en art deco geboue af – traag om aan te beweeg.
Pinhao
Pinhao lê in die Dourovallei, bekend vir port en wyne. Die vallei omhels die Tagusrivier en dit is selfs moontlik om vanaf Porto ’n bootvaart tot hier te doen. Ons ry egter heerlik in ons karretjie en kom laatmiddag in die klein dorpie aan. Daar is een lang hoofstraat wat parallel met die rivier lê, en soos gewoonlik is dit weer trappe op na die verblyf.
Die hoogtepunt is die lieflike wynplase/kelders en port wat oral bedien word. Ons besoek die moderne Quinta do Bomfim en vind uit dat Port in wit, rooi en rosé te proe is. Port is ’n soetwyn wat met brandewyn of ekstra alkohol gefortifiseer word en dus ’n goeie skop het. Oorkant Pinhao kuier ons by Quinta das Carvalhas vir nog port. Die volgende op die lys is ’n modderige reënpaadjie na ’n ander wynplaas hoog op teen die heuwels, genaamd Quinta do Jalloto. Die familie verbou nie net port nie maar ook olywe en dit is ’n interessante proekombinasie.
Dis ’n pragtige klein plekkie met die mooiste Instagram-uitsig oor die vallei. Laatmiddag klim ons op ’n boot en vaar al deur die vallei met wingerde en ’n arend of twee wat stil in die lug rondsweef. Die bootsman ontferm hom oor die drie middeljarige tannies wat natreën en meer letterlik meters van ons motor vas.
Die volgende dag ry ons na Aveiro wat ook teen die kus lê – onderkant Porto. Hier is lang, kleurvolle bote wat deur kanale vaar en dit word die Venesië van Portugal genoem. Ons bly in die Aveiro Dock Apartments, ’n pragtige woonstelletjie in die hartjie van die aksie. Ook hier is dit reënerig en ons probeer ’n Tuk-Tuk dorpstoer – duur en definitief nie die geld werd nie.
Op pad vanaf Aveiro na Obidos ry ons by die pragtige dorpie, Costa Nova langs. Streepsuiker-houthuise staan op mekaar al langs die strand, met oordadige malvas wat oral by vensterbanke uitloer. Dit was vroeër vissermanshuise – rooi, geel, blou, groen, streep op streep. Vandag is dit gesogte vankansieverblyf. Ons neem foto’s, koop yskasmagnete en drink koffie voor die die reis hervat word.
Obidos
Obidos was vir my een van die hoogtepunte van die hele Portugese reis (en daar was báie hoogtepunte). As verjaardaggeskenk vir die susters het ek by die Literary Man Hotel bespreek wat ’n paar treë van die dorpie se stadspoort sit. Elke muur van die hotel is vol boeke gepak wat gelees en gekoop kan word. Ousus, die leser, is in die sewende hemel en ons kry haar met moeite weer op straat.
Die dorpie lyk soos ’n prentjie op ‘n legkaartboks. Vensters is versier met kunsroosrame en oral hang malvas teen die mure. Dit is ’n skildery van spierwit mure en potblou vensterrame. Elke winkeltjie het die mooiste keramiek, vars groente of juwele en ons koop elkeen ’n vriendskapsring. Dit het steentjies rondom en jy moet drie wense wens as jy dit aansit. Elke keer as ’n steen uitval, sal ’n wens waar word. Dis nou wat ek goeie verkoopstegniek noem. Daar is ook kersielikeur in sjokoladedoppies en weereens sardientjieblikkies met skilderagtige prentjies op. Oral pop restaurantjies uit en die klein dorpie oorval jou met sy kreatiwiteit en kultuur.
Sintra
Sintra is ons laaste besoekpunt voor ons terugkeer na Lissabon. Die hele dorp sit teen ’n steil bult en die pad na die middedorp is ’n eenrigtingstraat. As jy dus verkeerd ry, moet jy ’n sirkelroete ry wat jou elke keer tien minute neem. Onnodig om te sê … ons sirkel ’n hele paar maal, want die gasheer waar ons oorbly, antwoord nie sy foon nie en ons is verlore. Parkering is ’n nagmerrie, maar ons wurm by ’n gaatjie in en strompel oorverhit na ’n restaurantjie naby Google Maps se idee van ons verblyf. Gelukkig vind die gasheer ons en help die tasse opstoei tot in die woonstel.
“Waarom kies ek alewig verblyf op die hoogste vloere?” is ’n vraag wat gereeld op die trippie gevra wprd. Weens ’n glips in my besprekingsdatums is die woonstel kleiner en ek slaap op ’n matras op die vloer. Dit is egter weer eens baie sentraal en ’n klipgooi van al die lekker winkeltjies en restaurante. Hier ontdek ons gebreide serpe/mantels in die mooiste kleure en ook ’n pragtige jongman wat ons van die straat af na sy restaurant nooi. Laataand pose hy ewe ordentlik tussen die tantes en gee geduldig sy Instagram-naam vir ons.
Die Sintra Kasteel lyk soos ’n regte, egte kinderboek-illustrasie: rooi, heldergeel en vol torinkies, versteekte gange en hoekies. By een van die uitkyktorings laat ek my afneem in een van die nuwe gebreide serptogamanteltjies. Later sien ek ’n tapyt rooi blomme onder ’n boom en ’n klein seuntjie wat dwarrels jaag deur die blare.
Te gou is ons tyd verby en ons slaap nog vir oulaas een aand in Lissabon.