Poppie Nongena slaan 12 pryse los by die Silwerskermfees! versorg deur Catherine Schenck. Hooffoto: Retha Ferguson
Die 9de kykNET Silwerskermfees het die afgelope naweek (21 – 24 Augustus 2019) in Kampsbaai, Kaapstad plaasgevind en Poppie Nongena het skoonskip gemaak tydens die prysuitdeling!
Sedert sy begin het die kykNET Silwerskermfees al meer as 160 films en kortfilms opgelewer – waarvan ’n groot hoeveelheid ook internasionale erkenning gekry het.
Saterdag 24 Augustus is die Silwerskermfees toekenningsgeleentheid gehou, met June van Merch en Bennie Fourie as aanbieders. Tobie Cronjé is vereer as vanjaar se Silwerskermlegende vir sy besondere bydrae tot die filmindustrie.
Lees ook: Die verhaal van Poppie Nongena word nou ’n fliek
Hier is al die pryse wat Poppie Nongena gewen het
Beste film: Poppie Nongena
Beste regisseur: Christiaan Olwagen
Beste aktrise: Clementine Mosimane
Beste vroulike byspeler: Nomsa Nene
Beste manlike byspeler: Chris Gxalaba
Beste draaiboek: Saartjie Botha & Christiaan Olwagen
Beste hare en grimering: Gale Shepherd
Beste kostuums: Sylvia Van Heerden
Beste klankontwerp: James Olivier, Richard West & Simon Ratcliffe
Beste redigering: Eva Du Preez
Beste kinematografie: Vicci Turpin
Spesiale toekenning: Beste rolverdeling
Loer hier na ’n paar foto’s van die Poppie Nongena-rolverdeling by die Silwerskermfees
Meer oor Poppie Nongena
Poppie Nongena vertel die aangrypende verhaal van ’n Afrikaanssprekende Xhosa-vrou wie se lewe om haar gesin draai terwyl sy probeer om stabiliteit te vind in ʼn era van ondraaglike onrus in Suid-Afrika. Dit speel in ’n tyd af waarin swart vroue deur boetes, arrestasies en gedwonge verskuiwings gedwing is om hul tuistes te verlaat om in afgeleë gebiede, die sogenaamde swart tuislande, ’n nuwe lewe te gaan begin.
Wanneer Stone, Poppie se man, te siek word om te werk, beskou die owerhede haar skielik as ’n onwettige burger in haar eie land. Sy voer ’n desperate stryd om wettiglik te mag bly, al beteken dit sy moet van huis na huis trek en gedurig aansoek doen vir permitte en verdere uitstel. Poppie werp alles in die stryd om nie van haar kinders geskei te word nie. Maar uiteindelik word sy vasgevang in die spervuur van haar kinders se behoeftes, haar man se siekte, ’n gemeenskap se woede en onderdrukkende wette.
In 1976 – net toe die onluste uitbreek – word Poppie uiteindelik gedwing om die stryd gewonne te gee.
Hierdie film is gebaseer op Elsa Joubert se gelyknamige roman, Die Swerfjare van Poppie Nongena. Die roman is wyd geloof en word steeds beskou as baanbrekerswerk in die Afrikaanse letterkunde. Dis binne die eerste vier maande drie maal herdruk en uiteindelik in dertien tale vertaal. Plaaslik is dit bekroon met die W.A. Hofmeyr-, CNA- en Louis Luyt-prys. Die British Royal Society het Joubert bekroon met die Winifred Holtby-prys en sy is in 1981 aangewys as ’n “Fellow of the Society”. Joubert se latere werk is bekroon met talle plaaslike en internasionale pryse, onder meer die Hertzogprys, die mees gesogte prys in die Afrikaanse letterkunde.
Clementime Mosimane maak haar rolprentdebuut as Poppie. Die res van die rolverdeling sluit groot name in, soos Anna-Mart van der Merwe (Stuur groete aan Mannetjies Roux, Skin, Die Storie van Klara Viljee, Dis Koue Kos, Skat, Kanarie), Dawid Minnaar (Torings, Fiela se Kind, Nag van die 19de, 7de Laan, Amalia), Rolanda Marais (Wolwedans in die Skemer, Binnelanders, Out on a Limb, Dead Easy) en Lida Botha (Invictus, Susters, Windprint, Pad na jou Hart, Die Boekklub, Hollywood in my Huis). Nomsa Nene, wat die naamrol vertolk het in die verhoogproduksie Poppie – wat ook van 1982 tot 1984 internasionaal opgevoer is – vertolk die rol van Poppie se ma.
Die veelbekroonde dramaturg en regisseur Christiaan Olwagen het die regie behartig, en Vicci Turpin was verantwoordelik vir die kinematografie. Olwagen was die regisseur van drie vorige rolprente (Die Seemeeu, Johnny is nie dood nie en Kanarie). Die draaiboek is deur Olwagen en die bekroonde dramaturg Saartjie Botha verwerk.
Wanneer kan ek dit ook kyk?
Poppie Nongena sal op 31 Januarie 2020 in Suid-Afrika uitgereik word – skryf dit sommer nou al in jou dagboek neer!
Die volledige lys wenners by die Silwerskermfees
Kyk wie het almal gewen …
Kortfilms
Beste kortfilm: Oedipus: Die Musical – ‘n Dokumentêr
Beste draaiboek: Luan Jacobs – Hoe om ‘n perd te teken
Beste regisseur: Stefan Benadé – Oedipus: Die Musical – ‘n Dokumentêr
Beste akteur: Luan Jacobs – Hoe om ‘n perd te teken
Beste aktrise: Ansu Visser – Binnelandse Sake
Beste manlike byspeler: Ludwig Binge – Oedipus: Die Musical – ‘n Dokumentêr
Beste vroulike byspeler: Ilse Oppelt – Janneman
Beste produksie-ontwerp: Idelette Jordaan en Nadine Minnaar – My Gelykenis
Beste redigerig: Canya Cruywagen – Oedipus: Die Musical – ‘n Dokumentêr
Beste kinematograaf: Janhendrik Burger – My Gelykenis
Beste grimering en haarstilering: Charné Burger – Oedipus: Die Musical – ‘n Dokumentêr
Beste kostuumontwerp: Juanita Ferreira – Die Begrafnis
Beste klankontwerp: Wesley Ayliffe – Binnelandse sake
Webreekse: Deur die Blare
Gehoorgunsteling: Fiela se Kind
Draaiboeksoek:Gerhard Marx – Asem
Reginald Hufkie – Kinderhuis kind
Nico Steyn – Skrop
Blitsfilms: Ilka de Beer – Cry/Huil
Melanie Tait – Ligspoor
Speelfilms
Beste speelfilm: Poppie Nongena
Beste draaiboek: Christiaan Olwagen en Saartjie Botha – Poppie Nongena
Beste regisseur: Christiaan Olwagen – Poppie Nongena
Beste akteur: Stian Bam – Die Verhaal van Racheltjie de Beer
Beste aktrise: Clementine Mosimane – Poppie Nongena
Beste manlike byspeler: Chris Gxalaba – Poppie Nongena
Beste vroulike byspeler: Nomsa Nene – Poppie Nongena
Beste produksie-ontwerp: Chantel Carter – Die Verhaal van Racheltjie de Beer
Beste redigering: Eva du Preez – Poppie Nongena
Beste kinematograaf: Vicci Turpin – Poppie Nongena
Beste oorspronklike klankbaan: Kyle Shepherd – Fiela se Kind
Beste grimering en haarstilering: Gale Shepherd – Poppie Nongena
Beste kostuumontwerp: Sylvia van Heerden – Poppie Nongena
Beste klankontwerp: James Olivier, Richard West, Simon Ratcliffe – Poppie Nongena
Beste ensemble-spel: Poppie Nongena