Genoeg vir 4
- 50 g botter
- 4 appels, geskil en in kwarte gesny
- 45 ml (3 e) bruinsuiker
- 5 ml (1 t) vanieljegeursel
- 15 ml (1 e) suurlemoensap
- 125 ml (½ k) bloubessies
- 125 ml (½ k) frambose
- 90 g meel
- gerasperde skil van 1 suurlemoen
- 30 ml (2 e) suiker
- ’n knypie sout
- 4 eiers, geskei
- 180 ml (¾ k) melk
- 125 ml (½ k) mascarponekaas vir die opdiening
- heuning om bo-oor te drup
Voorverhit die oond tot 220 °C. Ons het die pofpannekoeke in emaljeborde gebak, maar jy kan hulle ook in ’n oondvaste pan bak.
- Smelt die botter in ’n middelslagpan. Voeg die appels by en braai vir 5 min. tot die skywe kleur kry. Voeg die bruinsuiker, vanieljegeursel en suurlemoensap by en braai verder oor lae hitte tot goudkleurig.
- Voeg die bloubessies en frambose by en roer deur die warm stroop. Hou eenkant.
- Meng die meel, suurlemoenskil, suiker en sout saam en maak ’n holte in die middel. Klop die eiergele en melk liggies saam en voeg stadig by die meel. Roer tot glad.
- Klop die eierwitte tot stywe punte vorm en vou liggies by die mengsel in.
- Verdeel die beslag tussen die 4 verhitte emaljeborde. Skep van die gekaramelliseerde vrugte bo-oor elk en bak vir 10-15 min. of tot goudkleurig en gepof.
Lees meer: Slaai met vrugte, parmaham & fetakaas