Toe dr. Carl Albrecht van Kansa in ’n babawinkel bababottels deurkyk, is “seker 90%” van die bottels van polikarbonaatplastiek gemaak. Die probleem? Polikarbonaatplastiek word aan borskanker verbind, altans in navorsing op rotte. Rotkleintjies wat aan polikarbonaat blootgestel is, toon as jong volwassenes reeds vroeë tekens van borskanker. Toevallig, of dalk nie, kom borskanker die afgelope twee dekades al meer voor by vroue in hul dertigerjare en selfs in hul twintigerjare. Kanada het twee en twee bymekaar getel en verbied sedert 2008 bababottels van polikarbonaat. Dalk is hulle oorversigtig, maar intussen het nog navorsing in die vooraanstaande JAMA verskyn wat ’n duidelike verband trek tussen BPA (’n komponent van polikarbonaat wat daaruit loog) en hartkwale en diabetes by mans. Polikarbonaat is nie al plastiek wat kommer wek nie: sekere poliviniele (PVC’s) is ook op party instellings se lys van ongewenstes. Die groot hospitaalgroep Catholic Health Care West gebruik nie meer kateters en drupsakke van PVC met DEHP nie, en selfs die Food and Drug Administration (FDA) het onlangs aanbeveel dat vervaardigers na alternatiewe vir hierdie soort PVC soek.
Maar by ons is die publiek doodstil oor veilige en hoërisiko-plastiek. Anders as in Europa, die VSA en Kanada is hier by ons geen bohaai oor speelgoed van sagte plastiek nie. Ook nie oor die kleefplastiek waarin ons supermarkvleis netjies verpak is, plastiekhouers vir skoolkos, seksspeelgoed, kateters en drupsakke in die hospitaal, of mengbakke wat ons in die mikrogolf sit nie. Al die plastiekprodukte maak ons lewe makliker, maar stel die kankerwekkers en hormoonontwrigters BPA (Bisfenol A), DEHA en DEHP onsigbaar vry en kan ons gesondheid potensieel ernstig skaad.
Is dit tyd dat ons regop sit en leer hoe om ons PETs van sy gevaarliker boeties, die PC’s en PVC’s, te onderskei … en ons stemme dik te maak om ons en ons kinders se risiko op kanker te verklein? Beslis. Niemand gaan dit vir ons doen nie. Die regering se hande is oorvol en die Plastics Federation of South Africa, die relevantste organisasie om verbruikers op die hoogte te hou, hou vol plastiek is veilig. Volgens hul webwerf is ons besorgdheid gegrond op Internetmites en Amerikaanse verbruikershisterie. Die vlakke van gevaarlike stowwe in hul lede se plastiek is “ver onder die FDA se riglyne”. Maar hulle noem nie dat Health Canada en die Europese Unie, die wêreldleiers op plastiekveiligheid, die FDA-riglyne as irrelevant beskou nie. Is die Plastics Federation besig om twee keer te dink?
Volgens David Hughes, uitvoerende direkteur, is hulle by Vinyl Forum betrokke, waar plaaslike navorsers en kenners binnekort gaan begin om riglyne neer te lê om ons te beveilig. Met ander woorde hulle is self nie meer so seker dat alle plastiek veilig is nie. Nogtans sê Johan Visser, bestuurder van navorsing en ontwikkeling by Nampak, moet ons darem nie die baba(bottel) met die badwater uitgooi nie.
“Daar is plastiek én plastiek. As vervaardigers van verpakkingsmateriaal bly ons aan die voorpunt van navorsing en kan ons regtig met vertroue sê die oorgrote meerderheid is heeltemal veilig. Ons wil immers ook nie kanker kry nie.”
Maar dis waar dat ons as verbruikers swak ingelig is en nie weet wie om te glo nie. Johan glo die verbruikers se beste verweer is om met die versigtigste eksperte saam te gaan. “Wat plastiek betref, is dit Health Canada, en selfs hulle is tevrede met die meeste soorte plastiek. Daar is net rooi ligte oor die polikarbonate wat met BPA geplastiseer is en sekere PVC’s, en ook net as dit in sekere omstandighede gebruik word.” hou sy opsies oop: “Ons leer algaande. Van die meer as 100 000 mensgemaakte molekules is minder as 5% getoets vir karsinogeniteit. Ons is ’n lewende eksperiment, en na my mening is daar baie, baie vraagtekens oor sommige produkte. Ek dink dit is tyd dat ons as verbruikers vasstel wat is veilig en wat nie sodat ons onsself kan beskerm. Ek verkies glas en erdehouers om my kos in te stoor.”
Die skurke en goeie outjies
Maar vir seker kan ons nie na ’n wêreld voor plastiek terugkeer nie. Van ons selfone tot ons tandedraadjies word daarvan gemaak. Dis wyser om te leer onderskei tussen veiliges en onveiliges en om te leer hoe om plastiek reg te gebruik. Plastiek word in sewe klasse gedeel. Hulle is oorspronklik geskep om plastiek vir herwinning te sorteer, eerder as om die slegtes en goeies te onderskei. Maar dis die beste stelsel wat ons as verbruikers tans het. So val alle PVC’s in Klas 3, en al is party veilig het ons geen manier om maklik te onderskei nie. Die ander groep om te vermy is Klas 7, bloot omdat dit enige ongeïdentifiseerde plastiek aandui, maar ook omdat polikarbonaatplastiek hier ingedeel word. Jou kind se skoolkosblik val waarskynlik in Klas 3 of 7 …
En die goeie outjies? As jy Health Canada se riglyn gebruik, kan jy ontspan oor PET en polistireen. Daardie skrik-e-pos wat kort-kort die rondte doen dat ons kanker gaan kry van ons PET-waterbottels is regtig ’n mite. Maar die stories oor PVC en PC is nié. Onder hierdie rokies brand vuurtjies. Wat is dit met PVC? Poliviniele is sterk en duursaam en staatmakers in die boubedryf, vir tuistoebehore en in die vervaardigingsektor. In die jare sewentig is PVC sonder twyfel aan ’n skaars soort lewerkanker by fabriekswerkers wêreldwyd verbind. Die vervaardigingsproses is toe geoutomatiseer en is volgens die vervaardigers nie meer ’n gevaar nie. PVC alleen is hard en bros, en daarom word dit geplastiseer (sag en buigsaam gemaak), en dis hier waar die volgende kwessie inkom. Die twee algemeenste plastiseerders is DEHP en DEHA. DEHP vorm daardie sagte plastiek wat vir kinder- en seksspeelgoed gebruik word. DEHA gee ’n besonder sterk, elastiese kleefplastiek – die kommersiële soort wat supermarkte vir verpakking van vars produkte gebruik. Die probleem is dat hierdie twee kankerwekkers “verdamp” uit PVC en veral na vette migreer. Hoe warmer, hoe meer migrasie vind plaas. Jy kan jou indink wat gebeur wanneer kommersiële kleefplastiek gebruik word om vleis (vetterig) te verpak, vir dae op die rak staan, waarna jy dit vries en dan in die mikrogolf (hitte) ontdooi.
Skoolkosblikke wat in die son rondstaan, is eweneens soos oondjies wat hierdie kankerwekkers uit die plastiek loog. Aangesien die DEHP daarin die probleem is, eerder as die PVC, skakel baie vervaardigers oor na DINP wat ’n veiliger plastiseerder is, en meen baie vervaardigers PVC is nou veilig. Maar daar is nog ’n probleem: die uiters toksiese karsinogeen dioksien word vrygestel wanneer PVC vervaardig word. Dit is die hoofrede waarom Japanse motorvervaardigers nie meer PVC binne-in fabrikate soos Honda gebruik nie. Nogtans doen vervaardigers groot moeite om die besoedeling met dioksien te keer. Die probleem met PC’s (polikarbonate) is dat die estrogeennabootser bisfenol A meestal gebruik word om dit te vervaardig.
Navorsers is meer besorg oor BPA-kontak vir babas as vir volwassenes. Die rede? Waar volwassenes oor die ensieme beskik om BPA doeltreffend af te breek en in die urien uit te skei kan babas nie. In hul lyfies word BPA as estrogeen gelees, wat teoreties minstens een van die redes kan wees vir die stygende voorkoms van bors- en prostaatkanker by al hoe jonger vroue en mans.
Waar sal jy die verkeerde plastiek kry? Die algemene riglyn is dat PVC helder, hard en breekvas is, terwyl sommige PVC’s die kenmerkende “nuwe motor” reuk het. Maar talle PVC’s is sag, gekleur en reukloos. Sonder die Klas 3-merk sal leke hulle moeilik uitken. Boonop word verskillende klasse plastiek dikwels gemeng gebruik: vleis kan byvoorbeeld in ’n polistireenbakkie lê en met PVC-plastiek bedek word. Die wet verplig vervaardigers nie om plastiek te merk nie, sê David Hughes van die Plastics Federation. “Ons kan maar net die plastiekbedryf aanmoedig om hul plastiek te identifiseer, verkieslik met groot, leesbare simbole.” Ons sal maar sélf die bal aan die rol moet sit. En met goeie oordeel, want vanselfsprekend hou PVC-tuinstoele en dies meer min risiko in, maar wees versigtig as PVC in kontak kom met jou kos of as jy dampe daarvan gaan inasem. Dring daarop aan dat hierdie plastiek duidelik nié PVC, polikarbonaat, Klas 3 of Klas 7 mag wees nie.
Wees hier op jou hoede
• In die supermark
Kleefplastiek veral oor kaas, vleis, biltong en brode. (Glad Wrap en die supermarkhandelsmerke, soos Spar Cling Wrap, is veilig maar die ander is nie). Herverpak alles in glas, karton (sonder ’n plastieklagie) of PET-plastieksakkies.
• In jou mikrogolfoond
Kleefplastiek en sommige plastiekbakke. Glasbakke en -deksels is altyd veiliger.
• In jou plastieklaai
Klas 3, Klas 7 en alle ongemerkte plastiek. Tupperware sê hul produkte “bevat veilige hoeveelhede PBA soos deur die FDA toegelaat” maar Health Canada aanvaar dit nie.
• Vir babas
Sagte plastiekspeelgoed, veral as dit soos “nuwe motor” ruik en goedkoper polikarbonaat-bababottels – al is hulle dierbaar versier. Die veilige, duurder polikarbonaat-vryes is: Nuk, New Born Free, MAM, Flow, Pigeon, Steribottle, Dizzy Dots en Ez Freeze. NOTA Milton en Jik laat selfs meer BPA uit polikarbonaat loog. Moet ook nie in PC-bottels melk in die mikrogolfoond verhit nie. En moenie PC-bottels in die mikrogolfoond of met kookwater steriliseer nie.
• Geplastiseerde blindings
PVC-behandelde materiaal en PVC-plastiektafeldoeke.
• Waterhouers
Glas (die topkeuse) en PET-plastiekbottels is veilig, maar yskashouers en modieuse plastiekbekers is nie noodwendig nie.
• Seksspeelgoed
Dié van sagte plastiek. Bedek dit met ’n kondoom, of gebruik glasitems.
• In jou badkamer
Jou plastiekstortgordyn.
• Sport- en kamptoerusting
As jy daaruit gaan eet of drink (veral warm goed), of dit gaan inasem, soek produkte wat duidelik nié PVC, polikarbonaat, die Klas 3- of Klas 7-merk dra nie en nie by aankope na “nuwe motor” ruik nie.
Ontspan oor
• Blikkieskos
Die binnekant van die meeste blikkie is uitgevoer is met PVC met BPA maar tydens vervaardiging word BPA vir alle praktiese doeleindes uitgeloog. Selfs Health Canada is gerus oor blikkieskos, hoewel hulle tog besig is om te kyk na beter houers vir formulemelk vir babas. Dis dalk tog veiliger om blikkieskos vir kinders onder ’n jaar te vermy.
• Jou ketel
Dit behoort van ’n veilige plastiek te wees.
Melk- en vrugtesaphouers Al die UHT-dosies is veilig, asook die tipiese melk-,jogurt- en maaskaashouers. Grootmaat-kaas (“brode”) is meestal omhul met ’n veilige omhulsel, maar in supermarkte word dit in klein maat herverpak in kommersiële kleefplastiek. Koop liewer ’n “brood” en herverpak dit tuis.
Klasse plastiek
- ’n Klassifikasiestelsel (bo) is oorspronklik ontwikkel om plastiek maklik te herwin maar twee klasse plastiek is potensieel onveilig: Klas 3 en Klas 7
- Klas 1 met PETs (poliëtileen) waarvan veral bottels gemaak word vir water,
koeldrank, kookolie en grondboonbotter. - Klas 2 met HDPE’s (hoëdigtheid-poliëtileen) wat veral vir melkbottels gebruik
word. - Klas 3 PVC’s (polivinielchloried).Klas 4 LDPEs (laedigtheid-poliëtileen) waarvan plastieksakke van alle soorte
gemaak word. Die meeste kleefplastiek huishandelsmerke en Glad Wrap word ook
hiervan gemaak. - Klas 5 PP (polipropileen) waarvan plastiek soos jogurthouers gemaak word.
- Klas 6 PS (polistireen) wat ons as weggooibekers en die -houers en verpakkingsmateriaal
ken. - Klas 7 alle ander soorte plastiek onder meer polikarbonate. Hier is geen riglyne
nie, en geen veiligheidswaarborge nie.
Grys gebiede waaroor groot onsekerheid heers
- Kleefplastiek Oppas vir die sterker, onvelige, kommersiële kleefplastiek wat deurgaans deur verpakkers en supermarkte gebruik word. Vervang hul kleefplastiek so gou jy kan met Glad Wrap of die supermarkte se eie handelsmerke.
- Krone en die plastiekdele van ortodonsiedraadjies Ná die herrie oor kwikvulsels, is hier nog olie op die vuur: ’n Japanse studie het bevind dat BPA hieruit loog – en meer as wat verwag is.
- Water- en sportbottels Hoewel baie bottels van veilige PET-plastiek gemaak is, is talle van PVC en PC. Hou jou geld in jou sak tensy die bottel van PET is (Klas 1, 2 en 4).
- Hospitaaltoerusting Talle hiervan word van PVC gemaak, soos kateters, drupsakke en so aan. Health Canada is besig om dit te ondersoek.
- Die waterkoeler Omdat die water verkoel is, behoort min BPA uit te loog.