Hoe voel dit om na 8 jaar ’n nuwe album op die rak te hê?
Wel, dis die eerste Afrikaanse album in 8 jaar. Daar was egter heelwat aan die gang met Jack Hammer, naamlik: ” Live at the Nile ” in 2004, “The Pilgrim” in 2005 en “Highway 13″ in 2008 asook die ” Jack Hammer Roadworks 1984-2009″ wat in 2009 uitgegee is. So daar is nie op die louere gerus nie! Dit voel egter heel goed om weer in Afrikaans te kon skryf en te sien dat mense dit geniet en waardeer.
Die program “Wie lê waar” het ’n invloed gehad op jou liedjieskryfproses. Hoe so?
Met die video opnames vir “Wie lê waar” het ons vir drie maande deur die land gereis en so het ek baie geskiedenis herontdek, wat dan vergestalt is in die nuwe liedjies, so uit die onderbewussyn. Sekerlik het al die besoeke aan begraafplase ook bygedra tot die hele konsep van “Spookpsalms”.
Wat was die inspirasie agter die titel “Spookpsalms”?
Synde die gewerskaf met al die dooies en die geskerts oor spoke tydens die verfilming van die TV-reeks het die konsep by my opgekom. Aanvanklik was ek nie seker oor die “psalms” nie maar ek het ’n vriend van my wat ’n predikant is gevra of dit enigsins aanstoot gee en hy het my verseker dit doen nie!
Die album het selfs ’n orkes. Vertel ons meer.
Wel dis maar eintlik net die versamelnaam vir ons klompie musikante wat aan die album gewerk het! Die “Spookorkes” het partykeer verskillende lede as mens op toer gaan .Dit het bloot gepas by die omslag se kuns, die klomp geraamtes wat so tekere gaan op die instrumente!
Wat wou jy deur die album bereik?
Om met eenvoud iets te skep wat gewigtig is, is sekerlik die kunstenaar se grootste uitdaging. Ek dink ons het dit reg gekry. Ook wou ek die album “tydloos” laat klink, m.a.w. glad nie deel van die moderne elektroniese nabootsende klanke wat so hoogty vier nie. Al die instrumentasie is werklike instrumente uit die “verlede” soos die trekklavier, saksofoon, akoestiese kitaar, orrel, mondfluitjies ens. Ek was bloot net so bevoorreg dat ek die wonderlike musikante bymekaar kon kry!
Hoe verskil die album van jou vorige albums?
Wel , dis beslis baie rustiger as die vorige albums. Daar is geen elektriese kitare gebruik nie behalwe op een snit! Daar is ook geen lang solo’s soos op vorige albums nie en ons het doelbewus gepoog om dit “gestroop’ te hou, m.a.w. om nie oorboord te gaan met die produksie nie. Ek dink ook daar is ’n besliste groei wat die liedjieskryf betref.
Hoekom is jy lief vir die Afrikaanse taal?
Die taal het soveel trefkrag as dit reg aangewend word. Veral as mens ook die ouer digters lees, kry jy die wonderlikste idiome en sêgoed wat uniek is aan Afrika.
Jy is ’n veteraan rocker. Wanneer het jy besluit “Nou wil ek rock”?
Wel, “rocker” is seker ’n beskrywing van die swaarder goed wat ons al geproduseer het, maar daar is ’n groot versameling ballades ook in die albums oor die jare. Vir my het dit altyd gegaan oor die songs….of dit nou heavy metal of bloot klavier en stem is, ’n goeie lied sal baie lank oorleef. Kyk maar na kunstenaars soos Leonard Cohen, Neil Young, Dylan en Willie Nelson. Ek het besef dis wat ek wil doen toe ek omtrent 12 of 13 was.
Wie is jou gunstelingrock-groep?
Moeilike vraag hierdie, want ek het so baie gunstelinge! Op die oomblik is ek gaande oor Government Mule, want hulle werk so hard en speel so pragtig, en mens hoor hulle ook nooit op die hedendaagse plastiekradiostasies nie. Maar hulle is meesterlik.
Sal jy ooit ophou om musiek te maak?
Wat sal ’n mens nou doen as jy nie meer musiekmaak nie? Nee wat, daar is net een pad en dis aanhou tot jy omval.
Wat is jou gunsteling Afrikaanse idioom/sê-ding?
Hef aan lê nog voor! Dis omtrent hoe dit gaan om te oorleef in hierdie tye van uiterse kommersialiteit.
Wat weet niemand van jou nie?
Dat ek eintlik ’n surfer wou wees.