Pierre van Pletzen wat tans as Manie Kraaywinkel op kykNET in PHIL 101 te sien is, hou sommer baie van hierdie quirky, onvoorspelbare, eksentrieke ou met sy unieke manier van dink. Kan ook nie anders nie – Pierre is ook nie juis ’n hoofstroomdenker nie.
Hy ryg deesdae die produksies in. Naas PHIL 101 het hy ook onlangs aan Meerkat Maantuig gewerk, ’n rolprent wat op Riana Scheepers se boek Blinde Sambok gegrond is.
Aanhangers van sy 7de Laan-karakter, Oubaas, het niks te vrese nie. Pierre het nog genoeg tyd vir die Laan.
“Sedert ek op ’n roepbasis by die Laan is, is dit makliker. Almal moet maar meet en pas.”
Dit was vir hom heerlik om saam met regisseur Johan Cronjé aan PHIL 101 te werk. Johan was ook medeskrywer en onder sy leiding kon Pierre die karakter analiseer en uitbou.
“Dit was nie maklik om Manie te speel nie. Trouens, geen rol is rêrig maklik nie. Wanneer ’n akteur sê ’n rol is ‘maklik’, probeer hy nie hard genoeg nie. Dit was ’n goeie en uitdagende kombinasie van makliker en moeiliker tonele.”
PHIL 101 word as ’n “histeriese” komedie beskryf en die wanfunksionele filosofiedepartement aan die Sentrale Universiteit van Suid-Afrika beloof om die kykers voor die TV vasgenael te hou. Die reeks word op kykNET (DStv 144) uitgesaai en sluit akteurs in soos Frank Opperman, Bennie Fourie, Retief van der Liefde, Stiaan Smith en die nuweling Cintaine Schutte. Dis ’n spanpoging wat satiriese vermaak op sy beste verseker.
Die sentrale karakter, Phillip Coetzee, is idealisties, wanaangepas en effe vreemd. Sy menseverhoudinge is nie van die beste nie en hy word aan die diep kant ingegooi toe hy hoof van die departement word. Hy is ’n man met baie boekekennis en min mensekennis!
Die karakters, soos die antagonistiese baas, Dok Knipoog Knoetze en natuurlik ook Pierre se Manie, is groot pret.
Die skrywers het vreemde karakters geskep om met die werklike lewe die draak te steek. Die mense en hul verskille, asook die vreemde eksentrisiteit wat van elke karakter ’n individu maak, sal die kyker laat voel hy ken baie mense wat net soos die karakters in die reeks is.
Spelers soos Philippus Boshoff, Marie Molefe van Heerden, Corné Koegelenberg, Mila Guy, Sandra Vaughn, Bibi Slippers en Elma Postma maak ook ’n draai op die skerm en elke karakter kry lewe uit die pen van teksskrywer Jakus Eloff van Binnelanders-faam.
Die skrywer en regisseur van die reeks het ’n gesofistikeerde, nuwe soort komedie geskep, sê Anneke Villet, ’n opdraggewende redakteur van die reeks. “Dit het ’n tong-in-die-kies aanslag en elke karakter is outentiek.”
Die vervaardigers is hoogs in hul skik dat hulle twee sulke ervare komedie-akteurs soos Pierre en Frank in die rolverdeling het. Dit is die eerste keer in dekades dat hulle weer saamwerk.
Dit was nie vir Pierre so moeilik om ná jare as Oubaas direk in ’n nuwe rol te klim nie. “Natuurlik is dit maklik om na sewentien jaar van 7de Laan in Oubaas se vel te klim. Maar nou kom ander faktore ter sprake, soos tegniek, ervaring, inlewing en ’n vars benadering.”
Hy vat beslis nie ’n rol of karakter huis toe nie.
“Dalk gebeur dit in die eerste paar jaar van jou toneelspelery maar as ’n geskoolde en geslypte werker neem tegniek en ervaring oor en dit word baie makliker om jou in ’n nuwe rol in te werk.”
Hy sal wel ’n ogie daarop hou en sy regisseur ook vra om seker te maak dat hy nie van Oubaas se maniërismes oordra nie. “Maar aan die ander kant is iets nuuts weer so ’n stimulasie dat die adrenalien en muse sterker werk.”
Hy is baie dankbaar dat hy sy ervaring as TV-akteur kon bou op die fondament van die eerste dekade van sy loopbaan op die verhoog.
Hy het in ’n stadium gevoel dat hy genoeg verhoogwerk in al sy vorme gedoen het, maar aanvanklik was daar net hier en daar ’n rolprent en later televisie.
Maar toe kom 7de Laan en sy loopbaan verander drasties: ’n gereelde inkomste, vaste ure en blootstelling aan televisiewerk en regie.
Daar is so baie wat hy nog wil doen. Veral rolprentwerk. “Ek het aan niks meer as tien prente gewerk nie en ek sal nie omgee om meer te doen nie.”
Maar, sê hy, die verhoog sal altyd ’n trekpleister bly. Dis die slagaar van ’n akteur of regisseur, hoewel die dissipline wat ’n lewende gehoor van jou eis, altyd ’n uitdaging vir enige akteur sal inhou. Dis die plek waar hy immer tuis sal voel.
Ateljeewerk is nog ’n groot liefde
Hy hou van die geborgenheid van ’n gebou en alles wat die genre uniek maak. Maar op die oomblik is rolprentwerk sy gunsteling. Die ervaring maak hom gelukkig en skep nuwe uitdagings. Hy pak elke rol voluit aan en sal nooit by ’n bepaalde soort karakter vashaak nie. Dié dat hy in die toekoms nie weer ’n tipiese “Oubaas”-karakter sal speel nie.
Dis vir hom lekker om gereeld saam met ander skrywers en regisseurs te werk, soos Hanneke Schutte, wat ook die regisseur van Meerkat Maantuig is.
Die werk aan die prent was ’n wegkomkans uit die 7de Laan-ateljee. Hy het die rol van ’n oupa in die prent gespeel en Rika Sennett was die ouma aan sy sy. Die 13-jarige Anchen du Plessis was hul kleinkind.
’n Taamlike nuwe rol waarin hy hom beslis inleef, is dié van ’n oupa in die werklike lewe. Sy dogter, Zetske, en haar man, Altus Theart, het onlangs ’n seuntjie gehad en volgens dié oupa “is hy die oulikste kind op aarde!”
Dit is vir hom ongelooflik lekker om oupa te wees. Hy is immers mal oor babas. “Maar nou is dit my dogter se baba en nog meer van ’n wonderwerk. ’n Kind is ’n geskenk van God.”
Hy is vreeslik trots op Zetske en Altus. “Hulle is wonderlike ouers. En natuurlik is klein Alexander die oulikste, mooiste en slimste baba op aarde. En nee, ek’s glad nie subjektief nie!”
Pierre en sy vrou, Sandra, is baie na aan sy kinders, Zetske en Peach, uit sy eerste huwelik met Elzette Maarschalk. Hulle is boonop almal in die vermaaklikheidswêreld betrokke.
“Daar is nie ’n geheim wat verseker dat ’n familie hegte bande smee nie, sê hy. Vir hulle het dit net vanself gekom en liefde, waardering. respek, ruimte, vriendskap, waardering en meer dra alles daartoe by.
Pierre is ’n gesonde, hardwerkende akteur en naas die stent wat hy ’n paar jaar gelede gekry het, het hy niks om oor te kla nie, dankie. Dis nou ondanks die talle kere wanneer “oud” of “ou” met verwysing na sy karakters gebruik word.
Maar as hy oor iets mag kla, sal dit sy knieë wees. Dié keil hom deesdae ’n bietjie op maar sal ook eersdaags aandag kry.
Hy hou sy gesondheid dop en sy huwelik met die “wonderlike Sandra” dra beslis daartoe by. “Haar liefde en onderskraging is vir my van onskatbare waarde.”