Petro Kotzé: die watervrou deur Mariette Snyman. Foto’s van Petro: Julie Vola. Ander foto’s: Petro Kotzé
Fotojoernalis en blogger Petro Kotzé se voetspore lê op baie plekke op die blou planeet. Twee dinge bekoor haar al baie lank: reis en skryf.
“Ek is ’n Suid-Afrikaner wat in Rayton grootgeword en later na Pretoria, Johannesburg en verder geskuif het, totdat ek kontinente begin oorkruis het.”
Petro het dwarsoor Suid Afrika gewerk, “van die Richtersveld tot Mapungubwe, die Tankwa Karoo en Tafelberg, maar ook oor die grens in Mosambiek en Zambië. Ek het vroeër op die Shetland-eilande in die Verenigde Koninkryk gewerk. Meer onlangs het my werk my na Thailand, Laos, Kambodja, en Myanmar gevat.
“Dan was daar besoeke vir persoonlike belang aan Bhutan, Sri Lanka, Indië, Indonesië, Borneo, Suid-Korea, Hong Kong, Zimbabwe, Botswana, Namibië en baie Europese lande soos Ierland, Nederland en die Tjeggiese Republiek.”
Petro spesialiseer in varswater- en omgewingsake en was onder meer vier jaar lank redakteur van die SANParks Times, “wat my die geleentheid gegee het om in die 19 Suid Afrikaanse Nasionale Parke te werk. Daarna was ek twee jaar lank kommunikasiebestuurder by omgewingskonsultante in Viëtnam. Die hoofkantoor is in Hanoi, en ek bied steeds ondersteuning aan die organisasie. Ek is nou terug in Suid-Afrika om my eie besigheid te begin terwyl ek ’n boek oor water in stede skryf.”
Daar’s water
Petro se liefde vir water het tot haar webwerf www.50litres.com gelei:
“Water is lewe. Ons gebruik dit vir alles, van krag opwek tot plastiek maak, leerhandskoene en teelepels produseer, of mielies en pynappels groei. Water is oral om ons, al kan ons dit nie sien nie – ons loop oor strome en poele wat diep onder die grond rus, of onder die skaduwee van die dik cumulus-wolke wat so swaar hang. Ons drink water om te lewe, ons kyk daarna want dit is vir ons mooi, ons maak daarop staat om ons gesond en skoon te hou, en was of doop onsself daarin vanuit ons verskillende geloofsoortuigings.
“En tog, omdat water so vansselfsprekend is, besef baie mense nie dat varswater eintlik ’n waardevolle hulpbron is en dat ’n toekoms met genoeg water vir ons almal nie gewaarborg is nie. Dis nie dat die water minder raak nie, maar die mense raak meer en ons verspreiding oor die planeet is oneweredig – in stede gekonsentreer. Ons besoedel ook baie water sodat dit nie meer gebruik kan word nie.”
Petro, waar het jou liefdesverhouding met water begin?
Jare gelede het ek ’n ruk as joernalis en fotograaf by gemeenskapskoerante in Nelspruit en Kaapstad gewerk. Ek het toe ’n breuk van die media-industrie gevat, en was onder andere in Suidoos-Asië om met ’n gedeelte van die Mekong-rivier af te seil. My liefdesverhouding met water het miskien op daai magiese Mekong-rivier begin, maar die begin van my werksfokus op water was redelik onverwags.
“Die eerste kontrak wat ek as vryskutjoernalis losgeslaan het, was om ’n boek oor 40 jaar se waternavorsing in Suid-Afrika te skryf. As ek geweet het wat dit sou behels, het ek dalk nie so vinnig ja gesê nie! Dit was letterlik ’n crash course oor alles omtrent water – van mynbou tot landbou, riviere en kulturele aspekte. Omdat water en die gebrek daaraan deesdae so gereeld die nuus haal, kom hierdie kennis steeds handig te pas. Ná al die jare vat die liefdesverhouding nou omtrént vlam!”
Skryf jy populêr of wetenskaplik?
“Tegnies kan jy my ’n wetenskapjoernalis noem. Ek skryf mooi, maar ek skryf feite – gewoonlik gestaaf deur navorsers en data. Ek spesialiseer in in-diepte navorsingskryfstukke. Dit pas my, want ek hou van vrae vra en dinge analiseer. Ek volg die impak van droogtes in die Kruger Nasionale Park byvoorbeeld al van 2009 af.”
Vertel ons van www.50litres.com
Dis ’n platform vir mense wat in stede bly wat deur droogte geraak word. Kaapstad is nie die enigste stad met ernstige wateruitdagings nie. São Paulo, ’n stad met 22 miljoen mense, het in 2015 omtrent 20 dae se water oorgehad. Regoor die wêreld neem watertekorte toe, en stede soos Tokio (Japan), Bangalore (Indië), en Beijing (Sjina) sal almal in die toekoms watertekorte ervaar. Maar stede soos Windhoek, San Francisco, Brisbane en Singapoer werk reeds baie effektief met min water. Windhoek herverbruik swartwater (riool) en Kaapstad het slim planne gemaak om so min as moontlik water in die pypstelsels te verloor.
www.50litres.com fokus op twee aspekte van waterwyse bestuur: hoe die water voorsien word, en hoe die water gebruik word. Stede kan van mekaar leer, of jy kan die webwerf besoek as jy wil leer hoe om slimmer met water te werk.
Ek beantwoord ook vrae soos waar water vandaan kom, en wat die doelwit van droogte is. Vir mense voel ‘n droogte onvanpas, maar dit laat die aarde toe om op verskillende maniere weer in balans te kom – alles deel van die fassinerende manier waarop ons planeet werk.
Hoekom juis 50 liter?
Op die kruin van die onlangse waterkrisis in Kaapstad was Kapenaars beperk tot vyftig liter water per persoon per dag, om die sogenaamde “Day Zero” te voorkom. Die oomblik toe die aankondiging gemaak is, het mense regoor die wêreld begin kennis neem. Ek ook! Die onderwerp is met ongeloof genoem op konferensies wat ek bygewoon het, van Bangkok tot Siem Reap. Vyftig liter is ook die minimum hoeveelheid water wat volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie nodig is vir ’n mens se basiese behoeftes.
Die webwerf se naam verwys dus na beide ’n bewuswording (dat water nie ’n onbeperkte bron is nie) en ’n doelwit (optimale gebruik van water).
Waar het jy die idee vir 50liters.com gekry?
Ek was in Viëtnam toe die onlangse “Day Zero”-krisis in Kaapstad gebeur het, maar ek het baie met mense in Suid-Afrika daaroor gepraat. Dit het my verbaas dat my vriende in Pretoria, uit my oogpunt net om die draai van Kaapstad, steeds deur honderde liters water per dag gaan. Ek het begin navorsing doen oor plekke waar mense min water gebruik, selfs in situasies waar hulle nie tekorte in die gesig staar nie. Ek het gewonder hoe mense oortuig kan word om meer wys met water te werk, en waar die mees effektiewe watergebruikers bly.
Waar kry jy inligting vir jou webwerf?
Ek praat op die oomblik baie met mense wat water bestuur of bestudeer, soos mense wat met watervoorsiening werk, van San Francisco tot São Paulo en Kaapstad. Ek praat uiteraard ook met navorsers om meer te leer van aspekte soos die redes vir droogte, die gebruik van gryswater, en waar ons water in die toekoms vandaan gaan kom. Só kan ek ’n bloudruk van die wêreld van water aan lesers voorsien.
Die volgende stap is video op my webwerf, soos byvoorbeeld onderhoude met mense wat water slim gebruik. Ek wil ook die rol van water in verskillende mense se lewens uitbeeld, soos die restauranteienaar wat sy besigheid aangepas het om minder water te gebruik, die tuinier met ’n waterwyse tuin, die ma wat emmers water van ’n kraan na haar huis moet dra, en die karwaseienaar.
Daar is ’n RSS feed wat jou toelaat om enige nuwighede op my webwef in teks-formaat te ontvang op ’n platform wat jy verkies (aanlyn, via e-pos, ensovoorts). Jy kan ook op my nuusbrief inteken.
Vertel ons van die shower songs!
Ek is mal oor shower songs – liedjies van een, twee of vier minute lank wat jy speel terwyl jy stort. Dit hou jou tyd in die stort kort en help jou water spaar. Om ’n groot verskil aan jou watergebruik te maak, hoef nie moeilik te wees nie. Dit kan selfs jou lewe lekkerder maak, of dan minstens jou storte! (liedjies beskikbaar by 50liters.com)
Gesels ’n bietjie oor gryswater
Gryswater sal in die toekoms verseker deel moet vorm van ons waterbronne, maar Suid-Afrika het nie nasionale wetgewing wat dit beheer of stelsels wat dit behandel nie. Ons moet dus op die oomblik mooi daarmee werk. Kombuis- of opwaswater is byvoorbeeld nie ’n goeie plan nie, en jy kan nie jou bad- of stortwater sommer net op jou grasperk uitgooi waar jou troeteldiere of kinders daarmee in kontak kan kom nie.
Riglyne vir die korrekte gebruik van gryswater is onlangs deur ’n groep Suid-Afrikaanse navorsers geskryf. Gryswater is die beste vir tuin natmaak (waar mense nie veel in kontak met die tuin kom nie) en om die toilet mee te spoel. Water wat behandel en ontsmet is kan na die toilet-tenk (cistern) gelei word, maar onbehandelde water, soos water wat jy met ’n emmer gedurende jou stort opvang, moet direk in die toiletbak gegooi word. Dit voorkom dat onbehandelde water moontlik in die lug opspat en ingeasem word as die toilet getrek word.
Wat beplan jy verder vir die webwerf?
Die plan is om al die stede te besoek wat ek as deel van die projek identifiseer, om daar te gaan leer van die mense wat water bestuur en gebruik, en dit met die res van die wêreld te deel ter wille van ’n volhoubare toekoms.
Ek het ’n netwerk van kontakte op wie se knoppies ek gereeld druk vir inligting. In die toekoms sal ek graag ’n kollega wil aanstel om inhoud te help genereer. Ek wil ook die projek oopstel vir befondsing, en is besig om geskikte internasionale organisasies te identifiseer. Ek werk nie in isolasie nie en is oop vir enige voorstelle vir samewerking.
En jou lewensmotto?
Op die trant van die onderwerp: Bewaring begin by jouself. As jy ’n verskil in die wêreld wil sien, maak veranderings in jou eie lewe.
Op ’n persoonlike vlak: Die wêreld is baie vol – biljoene mense het al die oppervlak plat getrap op soek na waarde en betekenis. Ek dink nie daar is enige unieke ondervindings of emosies oor nie. Ek glo die enigste aspek wat jou werklik van ander kan onderskei – meer as kreatiwiteit of prestasie – is opregtheid. Deur my ware self uit te druk, ondervind ek waarde in my bestaan. Dus vra ek myself elke dag af, oor en oor, en ook voor ek iets skryf of foto’s neem: hoe kan ek my ware self in hierdie oomblik die beste weergee?
Jy kan haar ook op sosiale media volg: pinterest, twitter, facebook en Instagram.