kategorieë: Blogs

Perspektief wat pyn

Sondag al is daar ’n rivier in my kombuis. Die water stroom onder die yskas uit. Buite reën dit, en binne is alles nat.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Maandag hoor ek: die yskas se kompressor is stukkend (koop ’n nuwe yskas), die verwarmer in een van ons selfsorg-eenhede het die gees gegee en die Kaap is koud (koop ’n nuwe verwarmer), die toilet wil-wil oorloop (kry ’n loodgieter, vinnig), daar’s iewers ’n elektriese fout in die huis en hierdie slag is dit nie Eskom nie (kry ’n elektrisiën). Hy stry, dis álles Eskom . . . en net daar hou die ketel skielik op kook en ek is sonder koffie (koop ’n nuwe ketel; nee, twéé, koop twee).

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Dinsdag, dis nou eers Dinsdag, dink ek.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Teen Woensdag begin die kantoor se staatmakers struwel, skouers hang, kollegas kla oor mekaar in plaas van by mekaar en kliënte kibbel en karring. Ek verloor stilweg my humeur, my lyf stram van al die agteroor buig, vir ander.

Teen Donderdag is ek goed keelvol en erg krapperig.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Ek bel ek ’n oud-kollega: “Jy’t nie dalk vir my ’n job nie? Een in ’n hoek, met afskortings waar ek soggens met my middagete-pakkie onder die arm kan opdaag, die hele dag vir my skerm kan staar en net papier kan rondskuif? Ek wil met niemand praat nie. Ek wil nie wakker lê en planne maak oor hoe ek kan verseker dat daar genoeg werk op die tafel is om ’n span se families te voed nie. Ek wil hê iemand anders moet ’n slag oor my wakker lê.”

Hy huiwer nie. “Wanneer begin jy? Môre?”

Dié aand, aan tafel saam met familie uit die vreemde, kyk my Nigeriese skoonsuster my in die oë. “Kom ek sit net weer alles vir jou in perspektief. Ek kuier vanmiddag by ’n vriendin wie se driejarige volgende jaar hierdie tyd nie meer op aarde sal wees nie. Breinkanker.”

Perspektief wat pyn. Ek swyg skaam. ’n Huis sonder ’n yskas, ’n verwarmer, ’n toilet en krag versus ’n huis sonder ’n kind.

Die job in die hoek klink in ’n oogwink minder aantreklik as my liewe, kibbelende kollegas en kliënte wat karring.

Ek lê wakker, die kind in my kop. Verwonderd oor hoe dié driejarige se vyfjarige sussie elke aand by haar in die bed gaan klim, haar koppie vashou en oor haar hare vryf. Oor hoe ’n ma elke dag opstaan, die wêreld in die oë kyk en braaf-seer voortbeur.

Dit is so, perspektief pyn.

Tot volgende week,
Marí
www.incontext.co.za

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

6 maniere om griep te klop

Griep is winter se lewenslange vennoot. Sodra die koue tref, kan jy maar seker wees…

6 hours Gelede

Villa Rosa-ster nou in Suidooster: ‘Die poppe gaan dans…’

Die aktrise Elsje Slabbert, alom bekend vir haar rol as Carina Rautenbach in die destydse…

9 hours Gelede

Ons 6 gunsteling-resepte vir sjokoladekoek

Bak vir ’n slag die heerlikste sjokoladekoek! Hier is ons 5 gunsteling-resepte vir sjokoladekoek.

10 hours Gelede

5 mites oor olyfolie

Moenie hierdie 5 mites oor olyfolie glo nie: Ingevoerde olyfolie is beter as Suid-Afrikaanse olyfolie…

1 day Gelede

Gebakte vis in geurige tamatiesous

Gebakte vis in geurige tamatiesous Lees ook: RESEP: Armand Aucamp se witvis met vanieljesous van Tahiti…

1 day Gelede

Tamatieroomsop met kaasroosterbroodjies

Hierdie lekker resep vir tamatiesop is ideaal vir ’n vinnige aandete in die middel van…

1 day Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.