Gisteroggend stap ek na die busterminaal, hande so diep as moontlik in my baadjiesakke gedruk en kennebak snoesig toegewikkel in ‘n serp. Lekker vasgevang in my eie knus kokonnetjie. Toe staan hy eensklaps daar reg voor my. ‘n Boom steeds getooi in sy pragtige mantel van geel herfsblare. Dis asof hy my naam uitroep en sê: “Stop! Kyk en waardeer my skoonheid want more is ek kaal en vaal”.
Tydens my busrit dieper die platteland in sien ek vanoggend die eerste ryp op die stoppels van die ryslande, die padlangs-grassies en die groot groen koolkoppe. En ek besef dat my mooie herfsseisoen snel tot ’n einde spoed. En toe dink ek oor tyd en ons belewenis daarvan. In my lewe voor Korea het ek dikwels gaan sit en probeer sommetjies maak oor wat ek met die 24 uur in my dag doen. As ek al die ure van die “moete” in my lewe bymekaar getel het, het daar weinig tyd oorgebly vir die “wille”. Ek onthou hoedat ek dikwels gewens het dat daar meer ure in ‘n dag was en dat ek meer energie oorgehad het om effektief in daardie ure te belê. Nodeloos om te sê, maar die realiteit was dat ek met dieselfde 24 ure in my dag gesit het as waarmee jy vandag sit.
Maar hoe het dinge dan verander sedert ek na Korea toe gekom het? Ek het steeds dieselfde 24 uur in ‘n dag en daar is steeds dinge wat ek wil doen en wonder waar ek tyd daarvoor gaan kry. Maar ek dink die groot ding wat ek hier kom leer het, was dat tyd altyd perfek is. En dat tyd altyd genoeg is. Alles gebeur wanneer dit moet. Hoe anders sou my lewe gewees het as ek hierdie ervaring wat ek nou het op 27 gehad het? Nee, ek wonder nie eens daaroor nie want ek weet ek moet juis nou hier wees en ek moet die ervaring wat ek het juis nou hê. My lewe tot nou toe was my voorbereiding om hier te wees vandag.
Net soos my boom wat elke dag meer en meer van sy geel mantel verloor, het elke seisoen in my lewe ook perfekte tydsbereking. Ek moes deur ‘n tyd in my lewe gaan waar ek gevoel het ek het ‘n gebrek aan tyd om te besef ons kry almal presies genoeg tyd. Ek moes by ‘n punt in my lewe kom om te besef ons lewens is nie bedoel om van jaar tot jaar of mylpaal tot mylpaal gelewe te word nie, maar om in die oomblik te lewe. Om spontaan deel te kon wees van ‘n tradisionele dansgroep by ’n afgeleë Koreaanse Tea House. Die sekondes waar ek my oë kon laat feesvier op die wonderskone herfskleure in Korea. Die oomblikke wat ek my seun se gesig kon dophou terwyl hy sy ma se nuwe leefwêreld ervaar het. Die toneel van die ou tannie wat met haar ruggie, krommer as krom gewerk, in die middel van die straat afskuifel en al die motors vir haar uitdraai. Die ou omie wat vir my ‘n ekstra persimmon in die hand stop. Die busbestuurder wat vir my ‘n papierkoppie met kitskoffie in die bus bring. Die vrou wat haar ryskoekie met my deel. Die oombik toe die bus deur die laaste tonnel ry en ek Seorak Berg in al sy majestieuse glorie sien. Dit is in die oomblikke, die momente dat ons werklik lewe en die enigste momente wat jy het, is dit wat jy nou het.
Osaek in Seoraksan Nasionale Park