Die strewe na perfeksie het vir baie mense ’n lewensingesteldheid en doel geword. Die keersy daarvan is dat perfeksionisme dikwels ’n verwoestende uitwerking op mense en verhoudings kan hê. Jack Kirby sê perfeksioniste is hul eie duiwels. Die perfekte en in-beheer beeld is te dikwels net ’n emosioneel dreinerende masker vir ’n onseker, gestresde mens wat soms selfs soos ’n mislukking en bedrieër voel. Dit word met selfbeeld- en gesondheidsprobleme, soos angstigheid, depressie en hartprobleme verbind.
Perfeksionisme kan letterlik en figuurlik jou hart en dié van die mense om jou breek.
Perfeksioniste raak verdwaal en vasgevang in ’n labirint met massas inligting en detail wat oorgeanaliseer word en wat baie rigiede, spesifieke en onrealistiese eise en verwagtinge stel waaraan alles voortdurend gemeet word.
Die strewe na perfeksionisme is ’n verslawing, want jy voel jy het nie die keuse om anders te dink, te voel en op te tree nie. Jy moet alles volmaak doen, anders val jou lewe en selfbeeld uitmekaar. Hoewel temperament ’n rol speel, is dit gelukkig grootliks aangeleerde gedrag wat deur jou agtergrond, persepsies, aannames, geloof oor jouself en die wêreld, maar ook deur jou vrese bepaal word.
Perfeksionisme het twee gesigte: Die gawe gesig waarmee jy verwagtinge oortref en almal verstom met jou uitmuntende werk, prestasies, organisasie, beplanning, deeglike voorbereiding, doeltreffendheid en netheid. Jou hoë standaarde en die ekstra wat jy met dryfkrag en deursettingsvermoë regkry, verseker jou uit- nemendheid en dat jy jou doelwitte bereik.
Die kritiese gesig van perfeksionisme ervaar die lewe as gebroke en dat almal voortdurend tekort skiet. Onvolmaaktheid en klein foutjies mergel jou uit, veroorsaak baie stres en steel jou geluk.
Intussen offer jy soveel op, ervaar soveel druk maar voel jy het nie ’n keuse om anders op te tree of te dink nie. Perfeksioniste se selfwaarde hang van hul prestasies, werk en omgewing af. Daarom geniet die perfeksie van hul werk, huis of voorkoms voorrang bo tyd met vriende en geliefdes. Hulle sukkel om af te skakel en kasty hulself dikwels nog lank ná die tyd oor foutjies.
Thea is supervrou, superma en superwerknemer. As vennoot in ’n prokureursfirma het sy ’n uitdagende en tydrowende werk maar intussen maak sy werklik tyd vir haar kinders. Hulle kon voor skool reeds lees en jy kan hulle altyd deur ’n ring trek. Sy onthaal met styl en kreatiwiteit – van die uitnodigings, die tafelversierings tot die kos wat van Kokkedoor-standaard is. Tuis is dit ’n spanningsvolle bontstaan en almal loop deur as alles nie skitterskoon en perfek is nie. Die gaste bewonder haar, maar nooi haar nie graag terug nie. Al lyk haar huis, huwelik en gesin op die oog af perfek, is daar min plesier, want daar is immer iets waarmee sy ontevrede is. Sy is gedurig oormoeg en voel dat haar gesin nie hul deel doen nie.
Pieter is ’n uitmuntende dosent. Hy is werklik ’n kenner en werk ongekende ure. Hy is krities op sy mededosente en studente, meedoënloos oor sy verwagte standaard. Hy laat ander dikwels voel hul bydraes is ondeurdag en afgeskeep. Intussen werk hy nou al 15 jaar aan sy doktorsgraad. Daar is altyd nog iets wat hy meen hy moet navors en herskryf telkens gedeeltes daarvan. Studente voltooi hul studie terwyl hy steeds aan die perfekte verhandeling swoeg.
Waar kom perfeksionisme vandaan?
Perfeksionisme hou verband met aangeleerde denkpatrone oor jouself en die wêreld. Dit word geleer deur goedkeuring en beloning. Mense leer dat hulle goed voel wanneer hul ander se lof vir werk van hoë standaard kry en stadigaan word die strewe na sukses, prestasie en ’n hoë standaard ’n rigiede denkpatroon: Mense gaan net trots op my, of tevrede wees wanneer ek presteer en suksesvol is. As dit nie perfek is nie, is ek nie goed genoeg nie.
Kinders van perfeksionistiese ouers kry dikwels goedkeuring vir wat hulle doen en nie vir wie hulle is nie: “Dink net hoe goed kon dit wees as jy net nog ’n bietjie harder probeer het.” So word die lewe ’n konstante strewe daarna om liefde te verdien. Liefde mag nie verdien word nie. Enigiets wat iemand moet verdien, is net goedkeuring, nie liefde nie.
Dit ontwikkel ook deur ’n gebrek aan goedkeuring en beloning, of deur straf en kritiek vir foute. Die negatiewe ervaring lei tot rigiede gedagtes soos: Ek mág glad nie ’n fout begaan nie; my werk móét altyd netjies en goed wees, anders is ek onaanvaarbaar.
Dit word ook indirek deur modellering van ander se voorbeeld geleer. As ouers dinge perfek doen en snags en naweke tuis ook werk om hul standaard te handhaaf, leer hulle: Werksukses is belangriker as enigiets anders.
Sekere mense het ook ’n temperament wat tot perfeksionisme geneig is.
Mense wat van jongs af verandering vrees, afhanklik van ander se goedkeuring is, asook geneig is om ondanks moegheid of frustrasie met ’n sterk wil en deursettingsvermoë doelgerig aan te hou, is meer geneig om perfeksionisme te ontwikkel. Hulle het op ’n jong ouderdom al ure lank gehuil as hulle verloor, of nie na hul wense presteer het nie, ondanks hul ouers se gerusstelling dat dit nie regtig saak maak nie.
Jou standaarde en perfeksionisme het ’n rigiede en neurotiese kant as:
• Jy konstant met jou uitsette ontevrede is, want dit kan en moet nog beter – pleks dat jy vir jouself krediet gee vir jou suksesse en vreugde en genoegdoening daaruit put.
• Jou werk vir jou vreugdeloos is, en dit jou dreineer en verlam omdat jy vrees dat jy onsuksesvol sal wees en dit nie so goed kan doen soos jy dit wil hê nie.
• Jy die groot prent mis omdat jy obsessief fokus om elke klein deeltjie perfek te kry, ten koste van jouself, jou gesondheid, verhoudings of ander prioriteite.
• Jy foute haat en dit nie sien as leer en ontwikkeling nie, maar as mislukkings. Jy kasty jouself nog lank daarna oor foutjies.
• Nuwe geleenthede by jou verbygaan, of jy uitstel om dinge te doen omdat jy vrees jy dit nie perfek sal kan doen nie.
• Jy dinge weer en weer nagaan, herhaaldelik lysies maak en verander, regpak, orden of skoonmaak sonder dat jy voel dis reg.
• Dit jou isoleer van ander en jou verhoudings en selfbeeld skaad.
Perfeksionisme het ’n neurotiese kant as dinge net swart of wit is – alles-of-niks. Enigiets minder as honderd persent is ’n mislukking. Dit veroorsaak selfvernietigende spanning, angstigheid en lei dikwels tot depressie en kan ook saam met ’n obsessief-kompulsiewe versteuring voorkom, waarvoor daar mediese behandeling is.
Lees ook: 7 wenke om obsessief-kompulsiewe gedrag baas te raak
Navorsers meen perfeksionisme verhoog mense se kans op angstigheid, slaaploosheid, depressie, hartprobleme en ook selfdood. In ’n Britse studie is bevind dat 70% van jong mense wat aan selfdood gesterf het, geweldige eise aan hulself gestel het.
Lees ook: Skep ’n sterk selfbeeld
Volgens die Australiese Sentrum vir Kliniese Intervensies hou mense hul perfeksionisme op die volgende manier in stand:
• My selfwaarde word bepaal en gemeet aan my prestasie en onverbiddelike standaarde.
• Dit aktiveer my onderliggende reëls en aannames van presies hoe ek dinge móét doen of nie mag doen nie. Ek moet die hoogste punt in die klas kry / die grootste verhoging kry.
• Ek stel vir my onverbiddelike standaarde.
• Dit aktiveer my perfeksionistiese gedrag: Ek gaan alles herhaal-delik na om foute uit te skakel, vermy uitdagings wat nie sukses waarborg nie, stel besluite uit, weet nie wanneer iets goed of skoon genoeg is om op te hou nie.
• Indien ek nie aan die verwagte standaard voldoen nie, lei dit tot genadelose selfkritiek met die negatiewe gevolge dat dit meer tyd in beslag neem, my angstig en depressief maak, gesondheids-probleme veroorsaak, my sosiaal isoleer, die uitdagings waarvoor ek kans sien, beperk en my selfwaarde en vertroue skaad.
• Slaag ek wel daarin, is daar positiewe gevolge: Ek geniet ander se lof en goedkeuring. Maar dan devalueer ek die aktiwiteit as nie uitdagend genoeg nie: “Ag, dit was niks (of maklik)”. En stel die volgende keer my standaarde net hoër.
Hanteer jou perfeksionisme
• Moenie jouself of ander vir jou perfeksionisme kwalik neem nie.
• Identifiseer en bevraagteken jou onderliggende vrees vir mislukking, jou rigiede perfeksionistiese gelowe, aannames, reëls vir jouself (en dalk vir ander) oor wat reg en goed is, asook die verband tussen jou gedagte- en gedragspatrone en die onbuigbare standaarde wat jy stel.
• Maak ’n lys van die voordele en negatiewe gevolge van jou strewe na die standaarde.
• Maak ’n lys van moontlike voor- en nadele as jy jou onverbiddelike standaarde sou verlaag.
• Kies ’n spesifieke doelwit waarvan jy werk kan maak, soos jou fokus op jou voorkoms of oefenprogram, die netheid van jou huis, ’n deel van jou werk. Pas nou jou standaard tot ’n redeliker en haalbare vlak aan. Identifiseer gedagte- en gedragspatrone wat moet verander. Stel ’n tydraamwerk: wanneer jy dit gaan doen, wanneer jy gaan ophou.
• Werk aan jou selfrespek deur met sagtheid na jouself te kyk, soos jy graag wil hê ander na jou moet kyk. Gebruik bevestigende, positiewe selfpraat en kommunikeer met jouself asof jy jou eie, beste vriendin is.
• Maak jou gesondheid ’n prioriteit. Strewe na balans met dieet en oefening. Slaap genoeg. Eer jou en jou eie behoeftes met tyd en ontspanning.
• Stop afbrekende gedagtepatrone.
• Gebruik jou ideale en doelwitte as riglyne en nie absolute standaarde of optredes nie.
• Leer om te laat gaan … Jou ou gedagtepatrone, gewoontes, maar veral beheer. Delegeer en kry hulp. Dis nie ’n teken van swakheid nie, maar van wysheid en leierskap.
• Koester jou verhoudings en belê daarin, want dit bring sin en heelheid.
As jou perfeksionisme ’n neurotiese kant het, kry hulp by ’n sielkundige en mediese hulp by ’n psigiater.
Perfeksionisme kan funksioneel wees, mits iemand dit regkry om net in sekere dele van sy lewe perfeksionisties te wees sodat dit nie sy gesinslewe raak, of sy selfwaarde beperk nie. Perfeksie is nie die geheim tot ’n suksesvolle en vervulde lewe nie. Inteendeel. Niemand was nog op sy sterfbed spyt dat hy nie hard genoeg gewerk het of meer perfeksionisties was nie, terwyl die teendeel dikwels waar is. Navorsing dui daarop dat hoogs suksesvolle mense ook hoë standaarde het wat hulle met harde werk nastreef, maar sonder om perfeksionisties en rigied te wees.
Anys Rossouw is ’n sielkundige in Menlopark, Pretoria • 012 460 7366 • [email protected]
Lees ook: Asemhalingoefeninge wat jou help om minder te stres