Genoeg vir 8
Bestanddele
- 3 pere, in dun skyfies gesny en klokhuise verwyder
- 125 ml (½ k) heuning
- 30 ml (2 e) suurlemoensap
- 180 ml (¾ k) sagte botter
- 160 ml (2⁄3 k) sagte bruinsuiker
- 3 eiers
- 375 ml (1½ k) koekmeel
- 3 ml (½ t) bakpoeier
- knypie sout
- 1 ml (¼ t) fyn kaneel
- 1 ml (¼ t) fyn neutmuskaat
- 80 ml (1⁄3 k) melk
- Dubbeldikroom om voor te sit.
Metode
- Voorverhit die oond tot 160 °C. Voer ’n ronde 23 cm-koekpan met bakpapier uit en smeer met botter.
- Prut die pere, heuning en suurlemoensap vir 5 min. in ’n klein kastrolletjie. Dreineer maar hou die stroop tot later en laat effens afkoel.
- Room die botter en suiker saam in ’n groot mengbak tot lig en romerig. Voeg die eiers een vir een by en meng goed.
- Sif die koekmeel, bakpoeier, sout, kaneel en neut by die bottermengsel en meng deur. Meng laastens die melk by.
- Gooi die mengsel in die koekpan en pak die peerskyfies netjies bo-op. Bak vir 50 min. of tot ’n toetspen skoon uitkom.
- Verhit die peerstroop weer effens en gooi oor die koek sodra dit uit die oond kom. Sit warm voor met skeppies dubbeldikroom.