Patattert. Stilering en toets: Vickie de Beer. Kosassistent: Nicola Basson. Foto: Johan Wilke
Bestanddele:
Vir een groot tert
Deeg
- 250 g (450 ml) koekmeelblom
- 2,5 ml (½ t) sout
- 150 g (175 ml) koue botter
- 35 ml (±2 e) koue, sterk rooibostee
- 15 ml (1 e) strooisuiker
- 50 g (’n halwe pakkie) okkerneute of pekanneute, gekap
- 1 eiergeel
Vulsel
- 125 ml (½ k) sagte bruinsuiker
- 5 ml (1 t) fyn kaneel
- 2,5 ml (½ t) fyn gemmer
- 15 ml (1 e) heuning
- 300 ml (3 middelslag) gaar patats, geskil en in versoete rooibostee gekook
- 3 eiers
- 125 ml (½ k) sterk rooibostee
- 1 eierwit
Metode:
- Voorverhit die oond tot 180 ºC. Spuit ’n tertpan met ’n deursnee van 26 cm met kleefwerende kossproei of smeer met botter.
- Deeg: Sif die koekmeelblom en sout saam. Rasper die koue botter by die meelmengsel in en vryf dit liggies met jou vingerpunte in tot dit soos broodkrummels lyk.
- Voeg die rooibostee, strooisuiker, neute en eiergeel by. Meng met ’n paletmes tot die deeg bymekaar kom. Moenie die deeg oorwerk nie, want dit sal die mengsel taai maak. Druk die deeg
effens plat, bedek met kleefplastiek en sit vir 30 min. in die yskas. - Rol die deeg op ’n meelbestrooide werkvlak uit – groot genoeg om die tertpan te vul. Voer die tertpan met die deeg uit en sny die deeg wat oorhang met ’n skerp mes af. Prik die deeg op die boom met ’n vurk. Laat rus in die yskas.
- Vulsel: Meng intussen die bruinsuiker, kaneel, gemmer en heuning in ’n groot mengbak. Druk die patats fyn en roer by die suikermengsel in.
- Klits die eiers en rooibostee saam en voeg by die patatmengsel. Meng goed. Klits die eierwit styf en vou met ’n metaallepel by die papatmengsel in. Gooi die beslag in die tertkors en
bak vir 40-45 min. - Sit voor met room of strooi kaneelsuiker oor.