Passief-aggressiewe mense steel ’n mens se energie, en interaksie met hulle is verwarrend. Hulle is op die oog af so gaaf, liefdevol en rustig en word nooit openlik kwaad of kry woede-uitbarstings nie. Maar hulle slaag daarin om op subtiele maniere die wit waks uit jou te frustreer sodat jy die een is wat uiteindelik ongeduldig, kwaad of moeilik word. En dan word die vinger van skuld graag en maklik na jou toe gewys.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }Hy verontskuldig hom in sy “korrekte” optrede en al die redes of omstandighede wat sy optrede veroorsaak het. Jy is die een wat nie verstaan nie, kerm, onredelik en veeleisend is. Jy word die een wat die verantwoordelikheid moet dra vir alles wat in jul verhouding verkeerd is. Boonop straf hy jou subtiel en onttrek hy hom.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }Die meeste van ons bly soms maar liewer stil om konflik te vermy. Sê “ja” wanneer jy eintlik “nee” wil sê, of raak jaloers, kwaad, geïrriteerd en gefrustreerd met ander maar sonder om dit te wys. Sommige mense het nie die selfvertroue en vermoë om hul ware gevoelens te wys of “nee” te kan sê as hulle gebelgd voel nie. Dan reageer hulle nie op ’n uitnodiging, ’n boodskap of ’n oproep nie. Of hulle begin jou doelbewus of onbedoeld ondermyn en met bedekte stekies of vyandige optrede afkraak, soos: Pos foto’s op facebook waarop jy sleg lyk; is sarkasties of maak grappies ten koste van jou; trek hul skouers in gesprekke op; sê dinge soos: “Maak nie saak nie, doen maar wat jy wil.” “Ek sê liewers niks nie.” “Ek is nie kwaad nie, moenie so fyngevoelig
wees nie.”
Passief-aggressiewe mense is in wese kwaad en voel gebelgd, ongelukkig en verontreg. Hulle gee op indirekte maniere uiting aan die gevoelens, maar sien nie kans vir konflik, of om hul broeiende, kolkende emosies, persepsies en behoeftes te deel nie. Hulle broei in hul eie ellende en ongeluk deur ander vir hul omstandighede, probleme en ongeluk te blameer en woede as beheer te gebruik. Hulle is vasgevang in negatiewe denkpatrone en sukkel om objektief na situasies te kyk en oplossings te kry. Dit verstom ander as die gevoelens meestal eers ná jare uitkom.
Saterdagoggend vra Ansie vir Jacobus of hy asseblief die gras sal sny en die kombuiskas se stukkende deur sal regmaak. Hy knik sy kop, maar speel ure lank rekenaar-speletjies. Later lê hy voor die televisie en kyk sport. Ansie raak omgekrap. Teen die middag is sy goed ongeduldig. Sy wil so graag alles netjies hê voor haar ouers die volgende dag kom kuier. Sy vra wanneer hy gaan begin. “Nou-nou.” Niks gebeur nie. Later vra Ansie, nou goed geïrriteerd, of sy kan help en bring solank die gereedskapkissie.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }“Kan ek nie net een dag ’n bietjie ontspan nie? Word ek nie ’n eie tydjie gegun nie? Moet jy heeltyd kerm?”
Hy voel gegrief dat sy hom onderbreek, aansprake op sy tyd wil maak en wil beheer. Hy dink sy is veeleisend. Maar hy kan nie sy gevoelens uitspreek nie, want hy sien nie kans vir ’n argument nie. Hy gebruik moontlik jare reeds passiewe weerstand as ’n uiting vir sy onderdrukte woede, oor sy ervaring dat ander hom probeer beheer en sy behoeftes (wat hy nie uitspreek nie) nie in ag neem nie.
Teen die aand is Ansie omgeklits en vies. “Ek dog jy sou die gras sny,” skree sy. Hy kyk verbaas en gesteurd op. “Dis nie nodig om op my te skree nie. Ek het nie geweet jy wil dit alles vandag gedoen hê nie!” Hy gryp die boor en raas die slapende kinders wakker. Dan los hy die gereedskap net daar en klim in die bed sonder om nag te sê. Die volgende oggend vroeg sny hy die gras maar los die rande net so. En vra dan onskuldig: “Is daar nóg iets wat ek moet doen?” Ansie is gefrustreerd en byt terug.
“Kyk hoe lyk die rande!” Waarop hy sarkasties antwoord: “Hoekom doen jy dit nie self as niks wat ek doen ooit goed genoeg in jou oë is nie? Al wat jy kan doen is kritiek lewer.” Die volgende paar dae kry hy stilstuipe en raak nie aan haar nie. As sy daaroor wil praat, is hy regtig nie lus vir nog ’n geveg nie. Hy verstaan glad nie wat haar probleem is nie, hy gee so baie vir haar om. As sy net kan ophou baklei, kla en negatief wees, sal dinge tussen hulle nie so moeilik wees nie.
Gedrag wat ander saboteer
• Vermyding van verantwoordelikhede: Daag nie op nie, laat ander wag, stel uit, of doen net niks nie en gee dan talle redes of blameer iemand anders daarvoor. Hulle sien jou versoeke as opdragte en eise wat hulle passief teenstaan, al het hulle daartoe ingestem. En sê jy iets daaroor, hoor jy dat jy kerm, kla of veeleisend is.
• Versprei sonder om openlik te skinder negatiewe gerugte en deel sensitiewe of skadelike inligting. Bevraagteken ander se motiewe.
• Maak ander belaglik deur privaat een ding te sê en in die openbaar iets heeltemal anders.
• Onttrek en gebruik stilstuipe as wapen. Probleme en argumente word nie uitgepraat nie. Jou vrae word nie beantwoord nie. Dis so goed jy praat met ’n klipmuur. Dit maak ander magteloos en woedend en laat hulle na die een “buite beheer” lyk.
• Maak sarkastiese opmerkings, ongemaklike of vuil “grappies” ten koste van ander en sê dit is net ’n grappie.
• Gebruik negatiewe of minagtende lyftaal: rol hul oë, trek hul skouers op, maak snorkgeluide, lig hul wenkbroue … En as jy hulle aanvat, is dit jou verbeelding of waninterpretasie.
• Negatiwiteit: Het ’n probleem met elke voorstel of plan.
Kenmerke en optrede van passief-aggressiewe mense
• Oënskynlik is hulle vriendelik, gaaf, beheers, ordentlik en samewerkend.
• Uitstel of opsetlike ondoeltreffendheid word as passiewe weiering of weerstand in die uitvoer van take gebruik.
• Daar is voortdurende verskonings of misverstande vir hul optrede.
• Selfbejammering en klagtes dat ander hulle nie verstaan of waardeer nie.
• Straf ander met norse stilstuipe, emosionele en fisieke onttrekking.
• Gereelde onredelike kritiek teen outoriteit of mense wat eise aan hulle stel.
• Wrokkigheid, griewe en jaloesie teenoor ander wat moontlik gelukkiger of welvarender is.
• Oordrewe klagtes en persepsie hoe ander bevoordeel en hulle benadeel word.
• Moedswillige en selfs vyandige optrede en later berou daaroor.
Hoe hanteer jy dié gedrag?
• Moenie hul optrede persoonlik opneem nie. Herken die patroon en waarskuwingstekens vir wat dit is: Hulle gedrag gaan oor hul kwessies, persepsies en probleme en nie oor jou nie.
• Bly kalm, moenie oorreageer, jou vererg en ontsteld raak nie. Dan speel jy hul speletjie. Hulle kry beheer en put genot daaruit as jy kwaad word. Kalmte ontsenu hulle. Hou jou taal, stemtoon en nieverbale kommunikasie neutraal en vriendelik, maar reguit en duidelik.
• Leer jou eie woede hanteer en konstruktief kanaliseer. Woede is olie vir hul passief-aggressiewe vuur.
• Moenie op hulle vertrou nie en vermy hulle as dit moontlik is.
• Stel versoeke, jou verwagtinge en behoeftes duidelik: Wat, wanneer, waar en hoe. Stel dit in werksituasies op skrif, en stuur afskrifte vir almal wat betrokke is. Moenie aanvaar hulle verstaan jou behoeftes en sal gepaste afleidings maak nie.
• Hou ’n feitelike rekord van gebeure. Konfronteer hulle openlik en beleefd met die feite sonder om hulle te blameer of emosioneel te raak. Dring daarop aan om die situasie te bespreek en oplossings te kry, al moet julle saam iemand gaan spreek.
• Wees selfgeldend: Maak dit duidelik dat die gedrag onaan-vaarbaar is en nie kan voortduur nie. Stel grense en gevolge vir hul gedrag. “As dit gebeur, is my volgende stap … ” Hou dit feitelik en onemosioneel. En doen dit dan. Hou by jou grense, maar gee empatie vir die ander se gevoelens. Dit ontwapen hulle en keer dat jy hul speletjie speel.
• Deel jou gevoelens in naby verhoudings: “Ek voel … ” Doen dit sonder om te blameer.
• Staan vas en moenie toelaat dat die persoon jou stoom-roller met beskuldigings dat jy net te sensitief, of wat ook al is nie. Sê dat jy regtig in hul mening belang stel, maar kan julle by die feite hou en ’n oplossing soek, soos wat moet verander sodat die scenario hom nie herhaal nie.
• Wees ’n voorbeeld daarin om rustig en selfgeldend te wees; te doen wat jy sê; eerlik en openlik te wees in jou motiewe; jou emosies openlik en eerlik te deel en met grasie te kan “nee” sê.
Lees ook: Geskei: etiket vir funksies
Sy is nie net die eerste dowe vrou om as Mej. Suid-Afrika gekroon te word…
Het jy geweet dat meer vroue jaarliks aan hartvatsiektes en beroertes sterf as mans? Gelukkig kan…
Resep: 'Dairy Gives You Go' Bestanddele 1 ½ koppie gladde medium-vet maaskaas – kamer…
Daar is baie maniere en wenke om vetplante te laat gedy. Hier is nege wenke…
As Karlien van Jaarsveld die horlosie kon terugdraai, sou sy dieselfde keuses gemaak het, want…
Resep: 'Dairy Gives You Go' Bestanddele 2 koppies koekmeel ¾ koppie Amasi ¼…
Hierdie webwerf gebruik koekies.