Sy het alles verloor, het die vrou snikkend op Highveld Stereo (947) se ontbytprogram vertel. Die man wat haar maande lank oor die Internet en Whatsapp die hof gemaak het en wat sy in daardie tyd vir minder as ’n uur gesien het (“hy het altyd ’n krisis gehad”) is vort met elke sent geld waarop sy haar hande kon lê. Uiteindelik het sy haar huis, meubels, motor en ook haar werk verloor omdat haar werkgewer gekla het dat dié krisis met haar werk inmeng. Sy moes in ’n skuiling vir haweloses intrek.
“As hy my net wil kontak en sê hoekom hy dit aan my gedoen het, sal ek hom alles vergewe,” het sy gesnik. Sy het erken dat sy steeds hoop dat alles net ’n aaklige misverstand was en dat hy haar weer gaan kontak en al haar geld vir haar sal teruggee. Selfs al het sy selfoonnommer en e-posadres nie meer bestaan nie.
Verskeie inbellers het hierop reageer, almal met min of meer dieselfde hartseerverhaal. Party het gelukkig net ’n paar duisend rand verloor voordat hulle besef het wat aan die gang is. Ander het alles verloor en hulle onttrek aan familie en vriende na wie se raad hulle nie wou luister nie. Nie een van die talle inbellers kon verduidelik hoekom hulle al die hartseerstories en leuens geglo het wat aan hulle opgedis is nie.
Slagoffers word volgens Glenda Paul, ’n direkteur by IRS Forensic Investigations in Johannesburg wat al talle sulke sake ondersoek het, met ’n paar standaardstories saggemaak voordat hulle geld oorbetaal.
“Dit wissel van geld wat nodig is om ’n saketransaksie te beklink, invoerbelasting wat betaal moet word op geskenke wat hy kastig vir sy slagoffer en haar kinders gekoop het, tot dringende mediese uitgawes, en selfs ’n losprys wat betaal moet word aan ’n groep wat hom gevange hou.”
Glenda en Nellie Prinsloo, ’n kliniese sielkundige van Alberton wat dikwels as deskundige in hofsake optree, is dit eens dat die skelms hul slagoffers oor ’n lang tyd “groom” (byna soos ’n pedofiel ook sy slagoffers sagmaak deur baie aandag en komplimente) voordat hulle die eerste keer geld vra.
“Onthou, hierdie skurke het baie tyd en is baie geduldig”
Maar watter soort vrou glo hierdie slenters? Nellie en Glenda sê slagoffers is dikwels ouer vroue (laat dertig en ouer) wat eensaam is en aanlyn na ’n maat soek. Verrassend genoeg is dit feitlik almal suksesvolle vroue, ook gegradueerdes.
“Dis juis iemand se sukses wat hulle sagte teikens maak. Die feit dat sy eensaam is, is bloot ’n bonus,” waarsku Glenda. “Gewoonlik is dit iemand wat al tevore in ’n verhouding of huwelik was waarin iemand haar uitgebuit het. Sy is reeds gekondisioneer om weer daarvoor te swig.”
Dis dikwels ook vroue wie se emosionele IK baie laer as hul werklike IK is, en faktore soos ’n swak selfbeeld kan ook ’n rol speel. “Hierdie vroue voel meestal op ’n manier geïsoleer,” verduidelik Nellie. “Die scammer laat haar goed voel oor haarself en omdat hy na haar luister en op haar behoeftes reageer, voel sy spesiaal. Sulke vroue het vooraf reeds besluit hulle wil nuwe vriende maak, en haar natuurlike wantroue en skanse is klaar af.”
Albei kenners waarsku dat kuberskelms baie sjarmante, ervare mense is. “Hulle sal inligting uit jou kry sonder om ’n direkte vraag te vra,” waarsku Glenda. Byvoorbeeld: jou “prins” sal kla oor hoe moeilik dit is om ’n enkelpa te wees. Waarop jy waarskynlik sal reageer deur oor jou eie gesukkel as enkelma te praat. En siedaar, jy gee hom ’n klomp bruikbare inligting oor jou en jou kwetsbaarhede, en sommer ’n verskoning vir byvoorbeeld die koop van duur presente vir jou arme kinders (en natuurlik die gepaardgaande versoek vir “invoerbelasting” wat jy net eers moet betaal, selfs al het jy nie vir die geskenke gevra nie).
Daar is geen statistiek beskikbaar oor hoeveel geld Suid-Afrikaners al deur hierdie soort bedrog verloor het nie, aangesien dit bloot saamgebondel word onder die sambreelterm bedrog. Glenda se kliënte het tussen R330 000 en R1,4 miljoen elk op hierdie manier verloor, wat ’n mens ’n idee gee van die skaal daarvan.
“Dis ’n wêreldwye tendens dat aanlynmisdaad aan die toeneem is.”
Nog ’n probleem is dat polisielede nie genoeg ervaring of opleiding in die hantering van hierdie soort misdaad het nie.
“Sodra jy so iets wil aanmeld, sê hulle dis ’n private aangeleentheid tussen minnaars. Niemand wil verstaan dat die sogenaamde ‘verhouding’ eintlik met ’n fiktiewe mens was wat met opset ’n fiktiewe profiel geskep het nie,” verduidelik Glenda.
Boonop meld nie alle slagoffers dit aan nie omdat hulle te skaam voel. “Ek is seker daarvan mans is ook dikwels slagoffers van die soort slenters, maar hulle is nóg skamer om dit aan te meld.”
Moenie die fout maak en dink jy het met net een skelm te doen nie. “Hierdie wonderlike man wat heeldag vir jou boodskappies stuur, is gewoonlik ’n hele paar mans wat ure lank agter rekenaars sit en vir baie vroue soos jy dieselfde boodskappe stuur.”
Glenda sê dit verg taamlik baie verduideliking en geduld om mense te laat besef hulle was die slagoffers van gewetenlose boewe wat hulle hoegenaamd nie liefhet nie.
“Vroue soek mos maar altyd liefde en intimiteit en een of ander konneksie met iemand. Almal wil liefgehê word. Dis vir hulle moeilik om te glo dat iemand so gewetenloos kan wees, veral as die ‘verhouding’ al maande duur.”
Die radio-inbeller het vertel hoe sy haar “kêrel” nog net een maal kon sien: op die O.R. Tambo-lughawe. Volgens haar was hy ’n Amerikaanse soldaat wat in Afganistan diens gedoen het (’n gunstelingstorie van hierdie kuberskelms) en moes hy, pas nadat sy vliegtuig geland het, dringend terug Amerika toe omdat hy toe eers gehoor het sy pa is sterwend. Sy het ná heelwat heen-en-weerdery erken sy het hom nooit by die aankomssaal se deure sien uitkom nie, maar streng opdrag gekry het om vir hom in ’n hotel by die lughawe te wag. Hulle het minder as ’n uur saam deurgebring ná maande se aanlynvryery en verskeie beloofde kuiers wat op die nippertjie gekanselleer is. Glenda sê dit moes een van die eerste tekens gewees het dat sy met ’n skelm deurmekaar is.
“As iemand jou net nooit kan ontmoet nie, behoort die rooi ligte te flikker.”
Die storie van ’n soldaat in ’n verre land of ’n hartseer wewenaar is veral gunstelinge onder die Internetskelms, maar die meeste werk sommer in Gauteng vir Nigeriese sindikate. Die sindikate gebruik Suid-Afrikaners – soms selfs Afrikaanssprekendes – vir die telefoonoproepe en ontmoetings,” verduidelik Glenda.
“Onthou, baie Suid-Afrikaners is by hierdie sindikate betrokke – hulle open dikwels die bankrekenings waarin die ‘lenings’ betaal word voordat dit weer gesluit word.”
Jy was ’n slagoffer. Wat nou?
Suid-Afrika het ’n kubermisdaadeenheid, maar dit vat lank vir ’n saak om by hulle uit te kom. Jy moet eers ’n saak by jou plaaslike polisiekantoor maak, en dit is juis waar dinge dikwels skeefloop, sê Glenda. “Maar druk deur. Dring aan om met ’n speurder of die stasiebevelvoerder te praat. As niemand in die polisie jou wil help om ’n saak te registreer nie, kontak die polisie se klagtedirektoraat.
“Sodra jy ’n saaknommer het, kontak die Internetdiens-verskaffer op wie se webwerf jy die skurk ontmoet het. Hulle sal ingevolge privaatheidswette niks oor sy werklike identiteit en kontakbesonderhede met jou kan deel nie, maar kan dan begin om sy aanlynaktiwiteite dop te hou en so dalk nog inligting kry wat later in die polisieondersoek gebruik kan word. Maar die polisie sal die diensverskaffer moet dagvaar om die inligting te kry.”
Probeer om die polisie van soveel inligting moontlik te voorsien. “Dit sluit alle inboksboodskappe, Whatsapps, e-posse en bewyse van oorbetalings in. Hoe meer inligting jy gee, hoe groter is die kans op suksesvolle vervolging.”
Keer so dat jy ’n slagoffer word
Afspraakwebwerwe en facebook is kuberskurke se gunsteling-jagveld. Vroue moet meer pro-aktief optree om hulself te beskerm, sê Glenda.
Beskerm jouself so:
• Hou die inligting oor jouself baie vaag. “Woorde soos finansiële klerk, afdelingshoof, eienaar van eie onderneming, besit eie huis, of selfs net self-employed laat die skurke onmiddellik twee maal na jou profiel kyk, want hulle dink jy het toegang tot baie geld. Moet ook nie te veel oor jou belangstellings sê nie. Onthou, hierdie skelms grond hul korrespondensie met jou op alles wat hulle van jou weet. Sorg dat dit min is.”
• Moenie te gou te veel intieme inligting aanlyn deel nie. “Moenie intieme seksuele gesprekke voer met iemand wat jy nog nie eens ontmoet het nie. Ek het al van hierdie gesprekke gelees wat my kliënte aanlyn gevoer het, en baie daarvan het my laat bloos. Moet ook nooit noem dat jy onlangs geld geërf het, jou egskeidingskikking gekry het, of ’n uitbetaling van versekering gekry het nie. Jy maak van jouself ’n teiken.”
• Moet nooit vriendskapsversoeke aanvaar van iemand wat jy nie ken nie, of wat geen gemeenskaplike vriende het nie. “Google sy naam, of vra gemeenskaplike vriende oor hom uit as jy steeds twyfel.”
Een slagoffer het eers nadat sy reeds derduisende rande aan iemand betaal het en aan wie sy selfs verloof geraak het, sy naam gegoogle en gesien hy was al in die tronk vir bedrog wat groot opspraak in koerante verwek het.
Bekyk die persoon se profiel baie mooi. As hy nog niks gedeel het nie, dink twee maal. Het hy net vroue as vriende? Kyk ook na sy foto’s.
“Hierdie skelms gebruik dikwels foto’s van modelle of steel ander mense se profielfoto’s. Soms lyk hulle na verskillende mense op die foto’s op hul blad – dit is omdat jy te doen het met ’n klomp vals foto’s. As jy twyfel, gebruik Google Images se maklike soekfunksie om te kyk of die foto ook op ander plekke aanlyn voorkom.” (Ek het dit getoets met ’n kennis se profielfoto wat baie duidelik ’n generiese foto was. Binne 1,12 sekondes het Google 353 trefslae vir die presiese foto uitgewys. Save eenvoudig die foto, klik op Google, gaan na Images en laai die foto volgens die aanwysings op. Jy sal binne sekondes weet of jou prins eintlik ’n skurk is.)
• Bly gesels aanlyn op FB of die afspraakwebwerf se inboks. Dis veiliger. Moenie jou e-posadres of telefoonnommer te gou met iemand deel nie. Moet dit ook nooit op facebook plaas nie. “Stel jou privaatheidfilter so hoog as wat jy kan,” maan Glenda.
• Skakel die location-funksie op jou FB af. “Moet ook nooit sê waar jy gaan fliek, uiteet of kuier nie. Doen dit ná die tyd as jy werklik lus het om soveel inligting oor jouself te deel, maar ek beveel altyd aan dat mense eerder te min oor hulself aanlyn sê as te veel. Hierdie skurke tik jou naam in en kan dadelik ’n hele klomp goed van jou te wete kom as jy nie versigtig is nie. As jy wil weet hoeveel inligting van jou daar reeds op die net beskikbaar is vir hele wêreld om te sien, google net jou eie naam.
“As iets te goed is om waar te wees, is dit.” Luister na die stemmetjie in jou kop as hy vra hoekom ’n Amerikaanse soldaat of ’n Italiaanse miljoenêr of ’n Arabiese prins in jou, Vaal Griet van Gauteng, sal belang stel.
• Onthou dat hierdie soort man op jou gevoel speel. “Ná die eerste oorbetaling, al is dit ook ’n klein bedrag, gaan die stories net hartseerder en die versoeke net groter word. Moet nooit jou kosbare geld vir iemand gee nie. Jy gaan dit nooit weer sien nie.” Slagoffers se gedrag maak nie noodwendig vir die res van ons sin nie, maar teen die tyd dat hulle hul fout agterkom, is hulle al baie desperaat.
“Baie van my kliënte het reeds met die eerste oorbetaling instinktief geweet hulle maak ’n fout, maar was so desperaat om daardie geld terug te kry dat hulle nog geld oorbetaal het.”