Pasop om wie jy by die werk is, huis toe te neem deur Anys Rossouw
Baas & Klaas
Wanneer ’n mens by die huis kom, moet jy dikwels meer as jou werkspakkie uittrek, of jou boonste knope losmaak. Tuis is daar ander rolle, ’n ander hiërargie en verwagtinge waarin jy moet inglip om verhoudings te laat werk. Maar dis nie vir almal ewe gemaklik en natuurlik om dan anders op te tree, of om volgens ander spelreëls op te tree nie, veral as jy by die werk die reëls bepaal en gewoond is daaraan dat jou woord wet is en almal versigtig na jou pype dans.
By die werk het jy ’n sekere rol, verantwoordelikheid en identiteit, wat tuis anders is. Jy kan en moet albei die identiteite wees – maar nie terselfdertyd nie, anders gaan iets skade ly. Dis ook belangrik dat nie een van die rolle soveel van jou fokus, tyd, energie en emosies in beslag neem dat daar geen emosionele energie oor is vir die ander rol in jou lewe nie.
Baie mense sukkel om tuis werklik van hul werkspakkie ontslae te raak en emosioneel en in hul gedagtes ook tuis te wees. Die nimmereindigende e-posse, oproepe en teksboodskappe wat in hul huistyd instroom, neem dikwels te veel van hul aandag in beslag.
Tuis gaan dit oor wié mense is en hul betekenis vir jou, en nie oor hul prestasie of wát hulle jou kan bied nie. Tuis is jy maar net gewoon mens wat sonder voorwaardes geliefd en aanvaar wil word. As jy jou nie van jou werksingesteldheid of waardes kan losmaak nie, is dit meestal moeilik om in die basiese menslike behoeftes van hul huismense te voorsien.
Uit ’n studie van die Harvard-sakeskool het dit geblyk dat betekenisvolle en bevredigende verhoudings die algemeenste element van mense se ervaring van persoonlike sukses is. Tog sien mans hul werksidentiteit anders as vroue. Hulle sien dit steeds as ’n rol wat hulle vir hul gesin vervul om te voorsien en te beskerm. Vroue beskou dit eerder dat hulle ’n rolmodel vir hul kinders is; iemand wat bydra tot almal se welstand. Vroue is ook geneig om skuldiger te voel wanneer hulle te veel tyd in hul werksrol deurbring.
Lees ook: Lewe jy saam met ’n beheervraat?
Een vrou vertel
Tina* vertel hoe moeilik dit vir haar man is om tuis van rolle te verwissel. “Deur die jare het dit soveel konflik veroorsaak. Pieter*, die eienaar van ’n suksesvolle onderneming, regeer almal by die werk met ’n ysterhand. Hy maak die reëls en neem die besluite. As hy sê spring, spring almal. Hulle sal hoogstens vra: Waar, hoe ver en hoe hoog? Niemand bevraagteken sy besluite of gaan hom teë nie, want hul werk, bevordering en salaris is dalk in gedrang. Hy is op ’n voetstuk. Sy werknemers sal ter wille van hul eie voordeel voor hom kruip om sy guns te wen.
“Tuis verwag hy dieselfde reaksie. Ek mag nie van hom verskil nie en is nie geregtig op ’n mening nie. Sou ek dit waag, is die gort gaar. Hy kan nie insien dat ons kan verskil en dat daar ’n ander manier as sy manier is nie. Daar is nie ruimte dat ons daaroor kan praat en iets uitwerk nie. As ek ’n ander mening het, spring hy onmiddellik op sy perdjie en ek is moeilik, arrogant of lewer net kritiek. Ek voel dikwels ek en die kinders word soos werknemers en ondergeskiktes behandel en dat ons nie regte het nie. Ons loop heeltyd op eiers, en almal is bang om hom iets te vra. Hy voel hy werk hard, sorg finansieel goed vir ons en bederf ons met duur vakansies. Ons kry alles waarvoor ons kan vra. Ons behoort baie dankbaar te wees, het niks om oor te kla nie en behoort nie enige eise aan hom te stel nie. Tuis wil hy geen verantwoordelikheid deel nie, dis my werk om alles te doen, te beplan en in stand te hou. Ek werk mos nie. As ek hom enigiets vra, is ek veeleisend. Die kinders het nie behoefte aan ’n baas nie, maar aan ’n pa wat luister en hulle sal help. Ek soek ’n maat en ’n man wat my hoor, ook help en ondersteun.
“Ek is moeg vir sy opdragte. As ons met vakansie gaan, moet ek alles reël, die motor laat diens, vol petrol maak en sorg dat sy goed en die motor reg is as hy wil ry. Hy sal sit en televisie kyk tot ons moet ry en sal nie ’n vinger verroer nie, selfs by die see. Ek, die kinders of die tuinman moet alles regkry, en die gort is gaar as ons nie betyds klaar is nie. As iemand iets vergeet het, is daar geen kans dat hy sal omdraai nie. Dan word ek gekritiseer: Hoekom beplan ek nie ordentlik nie, hoekom maak ek nie lysies nie? Dis al wat ek het om te doen. Op vakansie doen ons wat hy wil doen, gaan ons waar hy wil gaan.
“Deur die jare het ek geleer om die weg van die minste weerstand te volg. Ek vra hom niks, en ek kry mense om die dinge te doen wat ’n man gewoonlik tuis doen. Gelukkig betaal ek die rekeninge, maar soms lewer hy daarop ook kritiek as hy agterkom hoe duur dit is. Hy wil nie van my probleme weet nie, hy het genoeg verantwoordelikheid by die werk. Ek vertel hom selektief wat met die kinders gebeur en is dikwels die buffer tussen hulle en hul pa. Die rusies is net te sleg vir hulle en vir my. Dit maak my gespanne en laat my dikwels alleen voel. Dis vir my swaar om alleen die verantwoordelikheid vir die huishouding en kinders te dra.”
Hedendaagse huweliksmaats sien hul rolle anders as voorheen en glo dat albei moet saamwerk en die ekonomiese, emosionele en praktiese huis- en gesinsverantwoordelikhede moet deel. Die een help nie bloot net uit wanneer dit nodig is nie. ’n Huwelik is nie ’n 50/50 vennootskap nie, maar ’n 100/100 vennootskap waarin albei alles gee.
Dr. Phil sê dis nodig dat veral mans hul definisie van ’n suksesvolle mens of man verbreed. Om ’n voorsiener en beskermer te wees wat jou gesin kan lei en help ontwikkel, is ’n voorreg met verantwoordelikhede wat verder as finansiële versorging strek. Jy moet jou gesin ook emosioneel, fisiek en spiritueel beskerm, versorg en ook in daardie behoeftes voorsien om hul welsyn op alle vlakke te verseker.
Ben, die uitvoerende bestuurder van ’n konsultasiemaatskappy, vertel hoe hy die verskillende rolle tuis en by die werk hanteer: “By die werk is ek in beheer, by die huis is ek deel van ’n plat stelsel met ’n ander hiërargie en verantwoordelikhede. By die werk het ek die laaste sê en is ek die outoriteitsfiguur. By die huis is dit nie die geval nie. Dit beteken nie ek is klaas by die huis nie, maar beslis ook nie alleen die baas nie. Hopelik is daar geen baas by die huis nie, maar is ons deel van ’n samewerkende en medeverantwoordelike gesinsnetwerk.
“Dinge loop verkeerd as ’n mens nie besef jou huis- en werkrolle verskil nie en die een rol na die ander omgewing oordra. As jy tuis soos by die werk optree, of dieselfde verwagtinge het, kan jy gefrustreerd raak. Jou eggenoot gaan jou nie hanteer soos jy by die werk gewoond is nie. By die werk is ek die kundige en tuis nie noodwendig nie. By die werk is almal nie gelykes nie, tuis is ons. Aanvanklik moes ek doelbewus oorskakel.
“Daar is werkswaardes soos doeltreffendheid, ’n ingesteldheid op prestasie, en ook ’n ander tempo, wat as dit tuis oorgedra word, wrywing kan veroorsaak. Gelukkig is sekere basiese waardes universeel en by die werk en die huis dieselfde, soos eerlikheid, geduld, billikheid en om alle mense met respek menswaardig te behandel. Dis baie moeiliker as daar groot waardeverskille tussen die werkplek en die huis is.”
In die werksplek speel geld, mag en trots ’n groot rol, maar dis dodelik vir verhoudings. Mense met ’n baaskompleks wat nie tuis van rol kan verwissel nie, en daardie kaarte speel, saai dikwels verwoesting tuis.
Hoe verwissel jy van rol om tuis die goeie, gewone eggenoot of gesinsmens te wees?
- Wees werklik tuis as jy tuis is, nie net met jou lyf nie, maar ook in jou gedagtes en emosies.
- Skakel letterlik af. Bestuur jou foon en rekenaar met wysheid anders verskuif jy net jou werkplek. Jy bou nie ’n vertrouensverhouding, of vertroetel iemand, of maak kinders op e-pos of WhatsApp groot nie. Dis ’n funksionele en nie ’n emosionele media nie. Om altyd aanlyn te wees veroorsaak onderbrekings en afleidings en skaad ’n mens se insette en uitsette, of dit nou tuis of by die werk is.
- Bepaal jou prioriteite. Besluit en beplan wat, hoeveel, wanneer en waar jy gaan werk, deel wees, of gaan ontspan sodat jy nie tyd bestee aan dinge wat min waarde toevoeg nie. Beheer jou kalender.
- Sorg en maak tyd vir jouself.
- Fokus op die goeie en positiewe dinge. Omring jou met goeie mense.
- Wees dankbaar en wys waardering, selfs vir klein goedjies. Moenie jou huismense as vanselfsprekend aanvaar nie.
- Bou en gebruik ondersteuningsnetwerke tuis en by die werk, gebruik mense wat jy kan vertrou sodat jy nie die sleurwerk hoef te doen nie maar kan fokus op wat regtig ’n verskil maak.
- Doen dinge saam met jou huismense.
- Maak seker dat almal se behoeftes, wense en welstand saak maak – dit bring tuis harmonie.
- Bou een-tot-een ondersteunende en vertrouensverhoudings, want dan kan gesinslede mekaar werklik emosioneel ondersteun, of dit nou oor julle rolle tuis of by die werk gaan. Om ’n geesgenoot te hê by wie jy jouself kan wees, met wie jy jou idees kan deel en van wie jy eerlike terugvoer kan verwag, maak die lewe die moeite werd.
’n Mens se werk is daar vir jou, jy is nie daar vir jou werk nie. Baie mense verwar hul werk met hul lewe en ignoreer balans-probleme tussen werk en lewe tot dinge skeefloop. Dan is die skade dikwels moeilik om te herstel. Werkende mense moet soveel balle gelyk in die lug probeer hou: jou beroep, gesinslewe, sosiale lewe, gesondheid en jou en jou gesin se emosionele en spirituele welstand. Jou beroep is meestal ’n rubberbal wat sal terugbons as dit val, maar jou verhoudings en gesondheid is soms van glas gemaak. Dis belangrik om nie te dink dinge by die huis sal maar uitwerk sonder doelgerigte insette nie. So ’n benadering bring nie sukses in die werksplek of tuis nie. As jy nie ’n verhouding met jou kleuter het nie, is die kans skraal dat jy ’n verhouding met hom as ’n tiener gaan hê. Of as jy nie die verhouding met jou huweliksmaat koester nie, kan jy hom iewers verloor. ’n Mens kan nie alles hê nie, maar jy kan hê wat regtig saak maak.
Hoe om al die balle in die lug te hou en te bestuur, verskil van gesin tot gesin. Daar is nie ’n universele regte antwoord nie. Maar elkeen moet die vraag vra, wat het óns nodig? Wat werk vir óns? Wat wel universeel is, is dat almal die respek, aanvaarding, liefde, ondersteuning en tyd van hul geliefdes nodig het; dat dit waarin jy jou tyd, aandag, fokus, geld en energie belê, juis dit is wat groei.
* Skuilname is gebruik en verhale is met betrokkenes se goedkeuring vertel.
Anys Rossouw is ’n sielkundige in Menlopark Pretoria (012 460 7366 / [email protected]).
Het jy dalk ’n baaskompleks?
- Jy bepaal en is in beheer van wat, hoe en wanneer dinge gebeur.
- Neem die besluite en maak reëls wat vir ander geld maar nie vir jou nie.
- Jy het vryhede en voorregte wat ander nie het nie.
- Gee bevele, maar ander moet mooi vra as hulle iets wil hê.
- Verwag gehoorsaamheid.
- Verwag spesiale diens. Ander moet jou bedien en dinge vir jou doen.
- Gee dikwels nie waardering vir klein dingetjies nie, dis immers hul werk waarvoor hulle betaal word.
- Verwag van ander dankbaarheid en waardering vir die geleenthede wat jy hulle gee.
- Duld nie teëspraak en ander menings nie.
- Lewer kritiek, maar ander mag nie.
- Is oorhaastig en luister nie werklik nie, sê net dadelik wat ander moet doen of moes gedoen het.
- Neem die krediet vir ander se insette.
- Is net gefokus op jou eie dinge en planne en stel min in ander s’n belang.
Lees ook: Jou werk: 10 dinge wat alle goeie bestuurders moet weet