Papsmeer en die HPV-vaksien deur Salomé Delport. Hooffoto: noipornpan/istock images
Wat jy moet weet oor papsmeer en die HPV-vaksien
Met al die publisiteit wat die vaksien teen die menslike papilloomvirus, of MPV, (beter bekend in Engels as HPV (human papilloma virus)) kry, is baie van ons onder die indruk dat ’n papsmeer nou nie meer so nodig is nie. Of sommer heeltemal onnodig is as jy ’n histerektomie gehad het.
Dit is ’n ernstige fout, sê dr. Ina de Beer van die Intercare Woodhill Mediese Sentrum in Pretoria. Dit gaan lewens kos vorentoe. Dit kan jóú lewe wees.
As jy bo dertig is, is die kans in elk geval bitter skraal dat jy ooit die vaksien ontvang het. As jy bo veertig is, is jy beslis nooit gevaksineer nie, aangesien die vaksien nie beskikbaar was toe jy 12, 14 jaar oud was nie.
Lees ook: Wat elke ouer van die HPV-vaksien moet weet
Wat dr. De Beer veral bekommer, is dat ons dínk ons is volkome veilig, en daarom glo ons ons hoef ons nie verder oor kankers van die vrouedele te bekommer nie.
In werklikheid beskerm die vaksien ons teen net 70% van die HPV-variante wat aan servikskanker gekoppel word. Die orige 30% van HPV-variante, waarvan baie óók aan servikale kanker gekoppel word, is nie in die vaksien ingesluit nie. Toegegee, hulle is skaarser. Maar die risiko is werklik en beduidend.
Daarby word HPV aan ander kankers gekoppel waarvan min van ons bewus is, soos vaginale kanker en vulvakanker. Gelukkig is hierdie twee vrouekankers skaars. Ongelukkig is diagnose met enige van die twee taamlik slegte nuus.
Een uit elke vier vroue by wie vulvakanker gediagnoseer word, sterf terwyl die een-uit-elke-drie sterftesyfer vir vaginale kanker selfs hoër is. Om dit in perspektief te stel: uit ’n groep van honderd vroue met borskanker is 90 vroue vyf jaar later nog springlewendig en gesond, teenoor net 33 vroue by wie vulvakanker gediagnoseer is en ’n skamele 25 by wie vaginale kanker gediagnoseer is.
Dr. De Beer, soos haar kollegas sonder uitsondering, meen jy behoort jouself te beveilig deur gereeld vir ’n ginekologiese ondersoek en ’n papsmeer te gaan, al is jy gevaksineer.
Maak dit dan nog sin om jou kind met die HPV-vaksien te laat inent?
Beslis, sê dr. De Beer. Die gedeeltelike beskerming is die moeite werd. Jy kan net nie daarop alleen staatmaak nie. Dit moet deur jou lewe met ’n papsmeer aangevul word.
Lees ook: Wat elke vrou moet weet oor (en verwag van!) MPV en papsmeer
Die reëls vir ’n papsmeer
Die oplossing is so maklik as om gereeld vir ’n volledige ginekologiese ondersoek te gaan. Jou dokter sal dan ook ’n papsmeer neem. Maar dit kos geld, en ons het almal baie ander gaatjies wat ook geld vra. Die vraag is met hoe min kan jy wegkom en steeds veilig speel?
Die staat dink drie in jou leeftyd is genoeg. Daarom kan jy by jou naaste kliniek drie keer ’n gratis papsmeer kry – een voor dertig, een rondom veertig en een tydens jou menopouse. Jy kan natuurlik by die munisipale klinieke vir soveel ginekologiese ondersoeke gaan as wat jy wil. Jaarliks of minstens elke twee jaar is genoeg.
Dr. De Beer sê dit is ’n illusie dat drie papsmere in ’n leeftyd genoeg is. Maar dit is al wat die staat kan bekostig. Dit is beter as niks, maar dit is regtig nie voldoende nie.
Die riglyne van die mediese fondse soos Discovery is dat jy elke twee jaar vir ’n papsmeer behoort te gaan. Hulle beloon jou inderdaad met Vitality-punte daarvoor.
Hier is die huidige aanbevelings:
- Gaan elke tweede jaar vir ’n ginekologiese ondersoek en papsmeer.
- Solank die papsmeer negatief is, kan jy elke twee jaar bly gaan.
- As jou papsmeer positief is, selfs al is dit vals positief, moet jy ná ses maande weer gaan.
- Gaan dan al om die ses maande tot jy twee opeenvolgende skoon papsmeer-uitslae gekry het.
- As jou papsmeer drie keer opeenvolgend wys iets skort, moet jy gaan vir ’n deeglike kolposkopiese ondersoek van die vagina en serviks, vir ’n akkurate diagnose.
Wat as jy ’n histerektomie gehad het?
Jy kan steeds vulva- en vaginale kanker kry. Daarom moet jy elke vyf jaar vir ’n ginekologiese ondersoek gaan. Jy het nie meer ’n serviks nie maar vaginale kanker kan steeds inwendig ontwikkel. Daarom word ’n koepelsmeer pleks van ’n papsmeer geneem. Vir ’n papsmeer word weefsel van net die serviks geneem; vir ’n koepelsmeer word weefsel uit die vaginale ruimte geneem.
Vir goeie raad en interessante gesprekke oor seksuele gesondheid en gelukkige verhoudings, loer hier.
Leer jou dogter dat sy elke tweede jaar ’n papsmeer moet doen, al het sy die HPV-vaksien gekry
Vinnige feite oor MPV
Velvratjies en genitale vratjies is verwant
Die papilloomvirusse agter soolvratte en ander doodgewone velvratjies is van dieselfde familie as die menslike papilloomvirus wat genitale vratjies veroorsaak.
Onverwagse oplossing vir velvratjies
Baie volwassenes en kinders sukkel met vratjies wat nie wil weggaan nie. Probeer die HPV-vaksien. Die kans is goed dat jou vratjie veroorsaak word deur een van die lyne wat in die vaksien ingesluit word. Oorweeg dit gerus as jou kind rondom tien, vyftien is. Dan is hy/sy sommer ook beter beskerm teen die genitale vratte en servikskanker wat deur die papilloomvirus veroorsaak kan word.
Hoe velvratjies en moesies verskil
Vratjies lyk kenmerkend soos ’n blomkoolfloret, met tientalle klein “vingertjies”. Soolvratte lyk glad maar in werklikheid is die “vingertjies” maar net glad afgeskuur omdat jy heeldag op jou voete is en loop.
Moesies kan glad of grof wees maar hul onderskeidende kenmerk is dat hulle in kleur verskil van die vel rondom hulle.
Moesies kan kankeragtig raak. Velvratjies raak nooit kankeragtig nie. Maar vratte aan die genitale dele – inwendig en uitwendig – word aan vrouekankers soos vulva-, servikale en vaginale kanker gekoppel.
Beste ouderdom vir die HPV-vaksien
Tussen tien en vyftien vir die eerste dosis, met twee op-volgtoedienings oor die volgende 18 maande om die immuunrespons te versterk. Alles moet voltooi wees voor die eerste seksuele kontak.
Die staat betaal daarvoor by sommige skole, terwyl ouers by meer welvarende skole daarvoor moet opdok.
HPV vir seuns ook
Die papilloomvirus veroorsaak by mans beswaarlik simptome of ongemak, met geen risiko op genitale kanker nie. Net sommige hou genitale vratte oor. Máár hulle kan die vrou in hul lewe aansteek – en sý kan ’n vrouekanker ontwikkel. Daarom is dit goed om jou seun ook te laat vaksineer.
HPV-simptome lyk en voel so
Dit is juis die probleem: infeksie met die virus veroorsaak geen simptome soos pyn, koors of ander tekens nie. Sommige mense – verreweg die minderheid – ontwikkel lank en selfs dekades later uitwendige vratjies of inwendige letsels, wat later tot kanker kan lei.
HPV is vir altyd
Die virus bly vir altyd in jou selle voortleef.
Hoe jy HPV aansteek
HPV word oorgedra tussen mans en vroue deur kontak met die geslagsdele – meestal vaginaal en anaal maar ook deur orale seks. Aangesien infeksie nie simptome veroorsaak nie sal jy nie eens weet wanneer jy dit van ’n seksmaat af aansteek of oordra nie.
Rokers moet hierdie weet
Dit lyk asof rook jou meer vatbaar maak vir vrouekankers – en vir kanker oor die algemeen. As jy rook en seksueel aktief is, is dit selfs belangriker dat jy gereeld vir ’n papsmeer gaan.