Paasfees: 3 pragtige tafeldek-idees deur Cornel Dunn, bygestaan deur Greta Champion-Gericke. Foto’s: Johan Wilke
Kry die mooiste inspirasie vir jou Paastafel.
Stemmig
Alwijn Burger, ook bekend as Blomboy, is ’n dekorstilis en konsepontwikkelaar vir uiteenlopende geleenthede en projekte.
Vir Paasfees verkies hy ’n sagte, stemmige kleurpalet met skadu’s van lila en roospienk (scabious, krismisrose) met vlekkies sjokoladebruin teen ’n agtergrond van inheemse grasse en die warm bruin van eierdoppe. ’n Subtiele kleurskema laat meer ruimte om met interessante teksture en lyne te eksperimenteer.
Hy hou van die kontras tussen “luuks” en “alledaags” en speel hier met kontraste tussen elemente soos kristal en eenvoudige servette wat met natuurlike kleurstowwe gevlek is. Die marmertafelblad bied ’n meer eietydse basis, maar sou maklik deur ’n gestyfde wit tafeldoek vervang kon word.
Vir meer inligting oor Blomboy, loer hier: www.blomboy.com • [email protected] • facebook; instagram
Lees ook: Maak self Paasbolletjies
#rrWenk: ’n Subtiele kleurskema laat meer ruimte om met teksture en lyne te eksperimenteer
Lees ook: Die heerlikste kuierkos-spyskaart vir Paasfees
Aards
Lees ook: Oulike Paasfeesprojekte om met die kinders te doen
Paasfees beteken vir Marida Steyn van Paradiso Flowers ’n fees van nuwe lewe. Daarom het sy haar tafel gedek met eiers van alle groottes en soorte – wat nuwe lewe simboliseer.
“Dis nie vir my ’n fees van oorvloed en oordaad nie en die res van my tafel getuig daarvan. Klein vergeet-my-nietjies en kantblomme wat hier en daar uit die eiers blom, versinnebeeld nuwe lewe. Die gebreekte brood en olyfolie nooi almal wat hier kom aansit om stil raak en te dink aan die groot geskenk wat ons gekry het toe ons Verlosser vir ons aan die kruis gesterf het.”
Vir meer inligting, loer hier: [email protected] • www.paradiso.co.za • instagram • facebook
#rrWenk: Vergeet-my-nietjies en kantblomme wat hier en daar uit die eiers blom, versinnebeeld nuwe lewe.
Lees ook: Die lekkerste Paaseiers wat jy nou kan koop
Feestelik
Heike le Cordeur, ook bekend as Fleur le Cordeur, gebruik kleure en teksture, eerder as voorspelbare simbole, om ’n tema uit te beeld. Vir haar gaan Paasfees net oor Jesus se kruisiging en dat Hy weer opgestaan het.
“Wat vir my belangrik was, is dat dit ’n tafel van oordadig-heid moet wees om my familie te bederf en hulle soos Koningskinders te laat voel. Ek het besluit op die rooi tema om die bloed van Jesus te simboliseer, dan die spierwit krismisrose, want deur die Kruisiging is ons wit soos sneeu gewas, kan ons vergifnis kry en van al die vuil merkies in ons lewe ontslae raak. Ek het spesifiek die pers anthuriums gekies omdat pers koninklikheid voorstel. Die idee met die rangskikking wat uit die dak hang, dra die boodskap dat Hy opgestaan het en opgevaar het na die hemel. Ek wil hê my familie en vriende wat aan die tafel sit, moet kinderlik opgewonde wees oor wat Paasfees voorstel en dit intens ervaar.”
Vir meer inligting loer hier: • www.fleurlecordeur.co.za • [email protected] • facebook
#rrWenk: Die rangskikking wat uit die dak hang, simboliseer dat Hy na die hemel opgevaar het.