Eiermusse
Benodig: Vilt
Maak so
• Maak ’n patroon: Trek diagram af op patroonpapier en knip uit.
• Knip aan die hand van die patroon soveel pante uit soos benodig (twee pante per mus).
• Plaas die twee pante bo-op mekaar, steek vas om in posisie te hou en stik vas aan die twee lang sye, 5 mm vanaf die rand. Herhaal vir al die musse.
Eiervoëltjies in nessie
• Mos (vir die nessie)
• Los vere en takkies
• Gaar hoendereiers
• Blare (vetter en rond vir die vlerke en dun en lank vir die bekkie)
• Swart krale of saadjies vir die ogies
Maak so
- Vorm ’n ronde nessie deur die los ente van die mos ineen te strengel. Druk die holte van die nessie met jou duime uit. Versier die nessie deur los vere en takkies tussen die mos in te ryg.
- Kies blare van dieselfde grootte vir die vlerkies. Sny die punt van die blaar met ’n snoeiskêr af. Bepaal en merk die posisie van die vlerkies en plak vas.
- Kies blare van dieselfde grootte vir die bekkies van die babavoëltjies. Vou die blaar in die lengte toe en knak op die voupunt.
- Bepaal en merk die posisie van die bekkies en plak vas.
- Bepaal en merk die posisie van die ogies en plak die saadjies of kraletjies vas.
- Skik ’n bed van vere in die nessie en sit die “babavoëltjies” daarin.
Hasiekoekies
• Botterpapier
• Skerp mes
• Koekiedeeg van jou keuse
• Sjokolade-ganache
Maak so
- Maak ’n patroon van die hasievorm: vergroot of verklein die hasiediagram tot die grootte van jou keuse, trek die diagram oor op botterpapier en knip uit.
- Rol die koekiedeeg uit, sit die botterpapierpatroon daarop en sny die patroon met ’n skerp mes uit die deeg. Herhaal tot die deeg opgebruik is.
- Sit die hasiekoekies op ’n gesmeerde bakplaat en bak volgens die resep se aanwysings.
- Laat afkoel op ’n droograk.
- Sit die sjokolade-ganache in ’n versiersakkie en teken ogies en ’n mond op elke gesiggie. Laat staan tot heeltemal gestol.
Paaseiers
As daar ’n vredigheid in jou gemoed kom lê het, is dit net die regte tyd om tydsaam jou eie Paaseiers te sit en versier. Gebruik natuurlike kleurstowwe soos beet en koffie om ’n meer aardse gevoel te skep.
Rooskleur
Kook 4 k water, 4 k beet ( in blokkies gesny) en 2 e witwynasyn vir ’n ½ uur saam. Week die eiers vir ’n ½ uur in die vloeistof.
Duifgrys
Vervang die beet met 4k gesnyde rooikool. Skep die eiers met ’n gaatjieslepel uit die kleurstof, druk droog met handdoekpapier en laat droog word op ’n draadrakkie.
Karamelkleurig
Vervang die beet met 6 e gemaalde koffiepoeier.
Geel
Vervang die beet met 3 e borriepoeier.
Lees ook: Die 3 mooiste herfskranse en versierings wat jy vir Paasfees moet maak
Hooffoto: Roman Odintsov vir Pexels