Jy moet by die sirkel regs draai. Of links? Ry so ’n entjie, verby ’n klomp strate tot om die draai. En dan is ons die eerste of die tweede straat daar naby.”
Dit is hoe Anieka Malan die pad na haar blyplek verduidelik.
Dit is ’n dromer, dié een, lei jy af.
Sy is nie nét ’n dromer nie, sê die twintigjarige Stellenbosse student gou. Sy is ’n dóénende dromer; een wat haar hele hart sal gee en baie hard sal werk om groot kwessies op te los. Sy wil onder meer eendag as makro-ekonoom help om die Second Scramble for Africa te bestuur sodat Afrika nie weens die sogenaamde tweede imperialisme vanuit China weer alles verloor nie.
“Jy kan groot dinge regkry as jy jouself apply.”
Toe sy destyds verby ’n stalletjie stap waar ovaskenkers onder studentemeisies gewerf word, was sý die een wat haarself letterlik wou gee om iemand te help.
“Dink net hoe dit moet voel as jy die een ding wat ’n vrou definieer – om ’n ma te kan wees – nie kan doen nie? Dit is iets wat ek weet ek móét hê – my eie kinders, eendag.
“Jong meisies soos ek het duisende kosbare eierselle wat doodeenvoudig weggegooi word omdat niemand genoeg omgee oor ander vroue se kinderloosheid nie. Ons kan so maklik help as ons net verby ons eie judgements kyk. Dit is ’n ongelooflike, uiters persoonlike charity.
“Ek het my ma daardie aand gebel en dadelik vertel hoe ’n koel ding dit is om vir iemand anders te doen. Ek het nie eens aan die geld gedink nie. Ek het net gevoel ek kan iemand se lewe ongelooflik positief beïnvloed. Ek wou uit my hart uit help.”
Dit was in haar eerste jaar, en sy was te jonk om ova te skenk. Maar die saadjie was geplant, reg om saad te skiet.
Twee jaar later kontak Alisha Mitchell haar op facebook met ’n persoonlike In Box-boodskap: Stel sy in ovaskenking belang? En ’n lekker sakgeldjie en vakansie in Indië en Nepal?
Skenk liewer in SA. Ons wet beskerm jou deeglik
“Sy het my na die webwerf verwys – die Kiran Infertility Centre in Indië. Ek het hulle ge-google en weer met my ma oor die risiko’s gesels. Alles het goed gelyk. En so baie meisies doen dit en kom sonder probleme terug. Ek het die aanbod aanvaar.
“’n Mens voel so góéd. Jy gaan as ’n heldin in die situasie in. Ek het regtig nie veel oor die geld gedink nie. Jy gaan om mense te help, en jy is reg daarvoor.”
Kort voor lank was die geld in haar bankrekening, die afspraak met ’n plaaslike ginekoloog deurgedraf en die vliegkaartjie in haar sak. Toe is dit Hiderabad, Indië. Met meer vakansie as “werk”.
“Die hotel was wonderlik. Ek is op uitstappies geneem. Ek was so oorweldig deur die skouspel van mense, die hartverskeurende armoede en die kontraste. Ek sal nooit die meisietjie vergeet wat op die ashope sit en tog nog haar huiswerk doen nie.
“Die kliniek is pragtig, Eerstewêrelds en die personeel ondersteunend. Ek was heeltemal tevrede dat hulle weet wat hulle doen toe hulle my begin behandel. Aan die begin was ek alleen maar ná ’n week het ’n meisie, Stella, ook met behandeling begin.”
Sewe dae later was die dokter tevrede dat sy gereed is vir ovaskenking. Sy is daarvoor na Katmandu in Nepal gestuur.
Katmandu was selfs hoër as Indië op haar droom-lys. “Die natuur is net ongelooflik. En die mense is so vriendelik. Dit is ’n eksotiese, anderste plek. Ek kon net in die strate dwaal, so verwonderd oor wat ek sien.”
Al was dit by ’n ander kliniek, het alles ook op die oog af goed gelyk. Sy is vir die prosedure opgeneem. Ná sowat ses uur het die verpleegster haar ’n toebroodjie gegee en hotel toe gestuur. Toe begin dinge skeef loop … En die span laat haar in die steek.
“By die hotel het ek begin sleg voel. Hier” – sy wys na waar haar eierstokke sit – “het dit so groot soos polonies opgeswel en geklop. Ek kon nie asemhaal nie en het geweldig pyn gehad. Al wat ek geweet het, is dat daar groot fout is.
Skenk om die régte rede – omdat jy iemand wil help
“Toe ek ná die prosedure wakker word, het ek die dokter hoor sê hulle kon 24 ova uithaal. Ek was nog nie heeltemal by nie maar ek het toe al in my agterkop geweet dit is verkeerd. Die hele tyd in Indië het die dokter ook elke keer die suster ingeroep as hulle na die sonars kyk wat geneem word om te sien of jy ovuleer.
Ek het die dokter gebel maar hy het gesê my reaksie is normaal en ek moenie myself opwerk nie. Dit het al erger geraak en ek het Alisha in Suid-Afrika en die kliniek in Indië ook gebel.
“Álmal van hulle het gesê ek verbeel my, ek is net histeries en ek moet maar net water drink en slaap. Toe ek weer bel en sê dit word al erger en iets ernstigs moet fout wees, het hulle – almal van hulle – alle verdere oproepe van my geïgnoreer.
“Ek was alleen – en skielik dood, doodbang om dood te gaan. Maar dit is dan dat jy jou eie krag leer ken. Ek het die hotelbe-stuurder oorreed om die kliniek te bel en geëis dat hulle my opneem.
“Hulle het my op ’n drup gesit, slaappille ingejaag en op die vliegtuig terug Suid-Afrika toe gepos.”
Stoksielalleen en goed bedwelmd weens die slaappille.
“Die terugvlug was 32 uur lank, met oorklimme. Ek weet nie hoe ek elke keer die regte vlugte gekry het nie. Ek het net.”
Anieka erken sy het so half ingekoop op almal se gerusstelling dat haar reaksie normaal is. Sy het haarself vertel dat sy eintlik maar net hardlywig is, of selfs ’n bietjie voedselvergiftiging van die toebroodjie het. Daarom is sy sommer na ’n apteek-kliniek op Stellenbosch.
Ek het alles vertel: hoe ek wonder of daar iets fout is weens die skenking, en of dit dalk maar net my maag is wat pla. Die suster het my ’n lakseermiddel gegee, en gesê ek moet maar net rus. Sy het my nogal baie geprys dat ek so iets vir iemand anders gedoen het. Maar ek het regtig ááklig bly voel.”
Haar ma, wat in Gauteng woon, was teen dié tyd uiters bekommerd en het ’n vriendin gestuur om te kom kyk of alles reg is.
Met ’n oorgroot skep genade was sy ’n pasiënt van dr. Johannes van Waart van die Wijnland Fertiliteitskliniek, mét sy nommer op haar selfoon. So word Anieka dieselfde aand opgeneem in een van die min plekke in Suid-Afrika waar hulle presies weet wat aan die gang is en presies die regte behandeling vir die behoud van haar eierstokke kon gee.
Buiten haar eierstokke was haar lewe op ’n mespunt: in daardie stadium het haar een long reeds platgeval en haar risiko op beroerte – op twintig – was hemelhoog. Dit het haar ’n week in die hospitaal en R50 000 tot R80 000* gekos voor sy sou uitstap.
“Gelukkig, gelukkig het ek by die regte mense beland. As ek by ’n gewone ginekoloog aangeklop het, sou hy ’n sist op die eierstokke gediagnoseer het en my eierstokke verwyder het. En dan sou ek nooit, ooit my eie kinders kon hê nie.”
(*Ná onderhandelings het die kliniek in Indië geskik en die hele bedrag betaal maar as hulle geweier het sou Anieka dit moes opdok.)
Wat kan fout gaan?
Dr. Johannes van Waart van die Wijnland Fertiliteitskliniek verduidelik dit so:
Jy word met vrugbaarheidshormone behandel wat jou eierstokke stimuleer sodat jy meer as net die gewone een eiertjie vrystel.
Dit is een van jou liggaam se eie, natuurlike hormone.
Die hormoon is dus nie ’n probleem nie. Dit is die dosis wat bepaal of dit veilig vir jou is.
Vir eierskenking ontvang jy ’n groot hoeveelheid hiervan.
Jy is veilig, mits die dosis gemonitor word sodat dit nie oor ’n spesifieke drempelwaarde gaan nie.
Dit is juis hier waar jy aan die kliniek se integriteit uitgelewer is. As hulle uit jou wins moet maak, wil hulle soveel moontlik eiers verwyder, en jou soveel stimuleer as waarmee hulle kan wegkom, al raak die risiko’s hoog. Hulle kan druk tot net dié kant van jou lewe.
Wat gebeur as jy té veel hormoon ontvang?
Jou bloed begin verdik.
Stolsels (bloedklonte) vorm, wat beroerte kan veroorsaak.
Jy kan ook ’n trombose (bloedklont wat iewers “vashaak”) ontwikkel, veral as jy ’n lang terugvlug het en heeltyd stilsit. Dit sal in ’n stadium loskom en na jou hart of brein skiet, met ’n beroerte of hartaanval tot gevolg. Die skade kan permanent wees, en sterfte is nie uitgesluit nie.
Omdat jou liggaam se vogbalans aangetas is, verander jou kaliumbalans ook. Dit lei tot nierskade. Jou hartritme word aangetas, wat tot jou dood kan lei.
Jy sal ook vog op die longe ontwikkel, en baie swaar asemhaal. Een of albei longe kan platval. As albei platval, sterf jy.
4 Foute wat jy nié durf maak nie
Hoe sou Anieka dit anders doen?
“As ek terugkyk, weet ek ek het te maklik vertrou. Ek het hulle sommer net geglo. Al is dit ’n fantastiese idee om eiers te skenk, een wat ek altyd sal ondersteun, moes ek dit net nie so aangepak het nie. Moenie dié foute maak nie
1 Jy kry sommer net ’n ginekologiese ondersoek
’n Mens móét vooraf hier in Suid-Afrika vir ’n spesifieke ginekologiese ondersoek vir ovaskenkers gaan. ’n Gewone ginekoloog kyk maar net dat jy gesond is. Hulle kan nie seker maak jy het nie polisistiese ovaria nie. Gaan vooraf na ’n fertiliteitspesialis, al betaal jy self daarvoor.
2 Oningeligtheid
Jy moet dieper grawe as om net die kliniek te google. Jy moet vooraf vasstel wat die tekens van komplikasies is sodat jy wéét wanneer iets verkeerd loop. Ek sou dan beter ingelig gewees het toe ek na-effekte begin kry het. Die ginekoloog wat ek gespreek het, het my nie eens gewaarsku dat daar komplikasies kan wees nie.
3 Jy is alleen
Dit is ’n fout om alleen te gaan. Ek was sonder hulp of ondersteuning in ’n vreemde land. Ek kry nou nog koue rillings as ek dink wat kon gebeur het. Ek het nog
nie eens aan mensehandel begin dink nie.
4 Jy verstaan nie die implikasies van elke punt in die kontrak nie
Ek het aanvaar dat die kontrak my sal beskerm en nie regtig vasgestel wat sekere terme beteken nie. Ek het regtig nie besef hoe sonder verweer ek is nie. Ek het my regte op nasorg weggeteken.
Skenk jy oorsee?
’n Ondersoek deur ’n gewone, plaaslike ginekoloog is nie goed genoeg nie. Nét fertiliteitsginekoloë doen die fyner ondersoeke wat bepaal of jy veilig kan skenk. Belê hierin en betaal vir jou eie ondersoek – vóór jy oorsee vertrek.
Lees ook: Kommunikasie tussen jou en jou kind